“Dit was nie net 'n misdaad nie, dit was geweld. Ek dink dit is die beste beskrywing," het Francois le Roux, die swaer van Lynette Volschenk op 'n Facebook video gesê. “Op dié stadium wissel ons familie tussen woede en hartseer."

Francois is 'n verkoopsafrigter en is met Lynette se suster, Chrystal, getroud.

“Vanmôre wil ek baie graag met al my vriende, al my kliënte en my familie praat. Ek wil net sê die mate van ondersteuning wat ons die afgelope paar dae gekry het was oorweldigend. Mense van regoor die land het ons gebel. Mense van oral het vir ons liefde betoon.”

Lynette se verminkte liggaam is 22 Augustus in haar woonstel in die Seesig-woonstelblok in Loevenstein, Bellville gevind. 

Die polisie het bevestig haar opgesnyde liggaam is in swartsakke in 'n woonstel in die gebou gekry. 

Die 21-jarige Kyle Ruiters, wat in dieselfde woonstelblok woon, is dieselfde dag in hegtenis geneem en het op Maandag 26 Augustus in die landdroshof in Bellville op aanklag van moord verskyn.

Volgens gerugte is dele van haar liggaam in haar en in sy woonstel gekry, en haar kop in 'n plastieksak tussen bosse nie ver van die Seesig-woonstelblok gevind nie.

View this post on Instagram

Tour to Phi Phi islands

A post shared by Lynette Volschenk (@lynettevolschenk7) on

Francois het voortgegaan deur te sê daar word in die media bespiegel oor die ware feite van die saak.

“Op die stadium is dit alles fiksie en hoorsê. Daar is tans slegs enkele partye in die land wat weet wat gebeur het en dit is ek en lede van die SAPD. Moenie alles glo wat julle lees nie. Ek weet daar is emosies wat baie hoog loop. 

"Mense dink daar is besig om goed te gebeur wat nie besig is om te gebeur nie. Ek wil sê – moenie bekommerd wees nie. Alles is in wonderlike hande.

“God is in beheer van hierdie hele ding.

“Tweedens wil ek sê: As so iets in ’n familie gebeur, is dit nie net afskuwelik en sleg vir die familie nie. Daar is ook wonderlike goed wat gebeur. Wanneer jy ’n veld aan die brand steek – gedurende die brand lyk dinge onherstelbaar. Vlamme is oral. Maar op een of ander stadium wanneer die reën kom en die groenigheid deur die donker aarde stoot, bring dit nuwe lewe. Dis iets waarop ek nog altyd in my lewe staat gemaak het. My suster het voor haar dood daarop staat gemaak. God het regtig deur haar lewe gepraat, asook deur die mense wat sy ontmoet het. Die terugvoer wat ons kry is regtig ongelooflik.”

Hy verduidelik dan wat hy nog altyd geglo het. 

“Ek het nog altyd hierdie een ding vir my vriende gesê. In ons almal se harte is daar twee leeus. Van die dag wat jy gebore word, is daardie twee leeus aan die baklei. Die een leeu is liefde. Dit is daar van die dag wat jy gebore is. Later raak die tweede leeu groot. En daardie een is haat. Daardie twee leeus sal vir die res van jou lewe baklei. Mense vra gereeld watter leeu wen. En ek glo vas dit is die een wat jy voer. As jy jouself met negatiwiteit voer, met al die ‘wat as’ en ‘wat kon’ en ‘hoekoms’, as jy jouself met al daardie goed gaan voer, gaan die haat-leeu in ’n monster verander wat jy nie kan beheer nie. 

 Lynette Volschenk
Lynette Volschenk

“So aan al ons vriende en familie en almal wat ons ondersteun: Kies die regte leeu. Kies wie jy wil voer. Ek kies om liefde te voer. Daar is baie woede in my. My familie hanteer dit verskillend. Maar wat ek wil sê is dat ek net een persoon het wat die rigting van my lewe bepaal en dit is Jesus.

“Ek gaan nie toelaat dat enige ander persoon, mense of man deur gewelddadige dade die rigting van my familie se lot bepaal nie. Dit is nie wie ek is nie en dit is nie die mense wie ons is nie. Een persoon het ook nie die rigting van my suster se lewe bepaal nie. Sy het die rigting van haar eie lewe bepaal. ’n Baie siek individu het net besluit om tussenbeide te tree. 

“Gelukkig is God ’n wonderlike God. Hy het my suster kom haal en sy is op die oomblik in die paradys. Die enigste ding op aarde wat oor is, is ’n leë dop. Dit was nooit veronderstel om êrens heen te gaan nie. Haar gees was nooit veronderstel om vasgevang te bly nie."