Maar nou, omtrent drie jaar later, is die een meisie op die foto dood en die ander het Maandag skuld beken op aanklag van strafbare manslag in Saskatoon, Kanada, jare ná haar vriendin se dood.

Dié selfie is ure voor Brittney Gargol (18, regs op die foto) se dood geneem, berig die Toronto Sun. Dit was ’n baie belangrike leidraad in die ondersoek na die jong meisie se dood.

Brittney se lyk is die volgende oggend, op 25 Maart 2015, naby ’n stortingsterrein gevind. Sy is verwurg. Die swart gordel waarmee sy verwurg is, is ook naby haar gekry, het die BBC berig.

Aanvanklik het Cheyenne Rose Antoine (21) vir die polisie vertel dat sy en Brittney die aand van haar dood ’n partytjie by iemand se huis bygewoon het, en daarna by nog ’n paar kroeë in die omgewing gekuier het. Volgens Cheyenne is Brittney later die aand saam met ’n onbekende man daar weg en Cheyenne het by ’n oom van haar gaan kuier.

Cheyenne het die volgende oggend op Brittney se Facebook-profiel ’n boodskap geskryf om te vra of sy veilig by die huis gekom het.

Maar toe die polisie nie Cheyenne se weergawe van daardie aand kon bevestig nie, het hulle op haar Facebook-profiel rondgekrap en eindelik op die foto afgekom waar Cheyenne die einste belt aanhet waarmee Brittney verwurg is.

Die skuldgevoel het ook glo aan Cheyenne begin vreet en sy het eindelik aan ’n vriend erken sy het Brittney verwurg.

Cheyenne voer aan sy en Brittney het daardie aand baie gedrink en dwelms gebruik en het later ’n hewige argument gehad.

Hoewel sy glo nie kan onthou dat sy vir Brittney verwurg het nie, aanvaar sy verantwoordelikheid vir haar dood.

“Ek sal myself nooit kan vergewe nie. Dit was verkeerd en moes nooit gebeur het nie,” het Cheyenne in ’n verklaring, wat in die hof voorgelees is, gesê.

Die regter, Marilyn Gray, het Cheyenne tot sewe jaar tronkstraf gevonnis ná die staat en die verdediging ’n pleitooreenkoms aangegaan en voor die hof gelê het.

“Eer jou vriendin deur ’n positiewe lid van die gemeenskap te word. Jy is dit aan haar verskuldig,” het die regter aan Cheyenne gesê tydens die vonnisoplegging, het die Saskatoon StarPhoenix berig.