Aria Hill van Utah in Amerika het in n geparkeerde gholfkarretjie op die Sleepy Ridge-gholfbaan in Orem gesit toe die bal die agterkant van haar nek getref het.

Haar pa, Kellen, het n mishou geslaan wat teen n hoek links van hom getrek het tot by die gholfkarretjie waarin Aria gesit het, het die polisie gesê.

“Die bal het haar teen die agterkant van die kop, by die basis van haar nek getref,” sê lt. Trent Colledge. 

Aria was in n kritieke toestand en daar is met haar na n hospitaal in Salt Lake City gejaag, maar sy het op Maandag 15 Julie aan haar beserings beswyk. 

Haar oom, David Smith, vertel Aria was haar pa se gholfmaatjie. “Sy was mal daaroor en het haar geniet daar,” sê David.

“Dit was een van die dinge wat hulle saam gedoen het. Dis iets wat baie belangrik vir hulle was, en hulle het dit gedurig gedoen.”

Die polisie sê Aria se dood was n fratsongeluk en hulle gaan nie vir Kellen, ook die pa van tweelingseuns, aankla nie.

“Dit was n tragiese ongeluk. Ek kan my nie indink wat daardie pa deurmaak nie,” sê Trent.

Aria se familie het n GoFundMe-blad gestig om geld in te samel om vir haar begrafnis te betaal. “Ons is so dankbaar vir al die liefde, ondersteuning en gebede in hierdie moeilike tyd,” het Talysa, Aria se ma, op die blad geskryf.

“Ons voel werklik getroos. Aria was die bekkigste meisietjie. Sy was laf, vurig, kreatief, uniek en vol liefde vir almal wat sy ontmoet het.

“Daar is n groot gat in ons harte wat sy saam met haar terug hemel toe geneem het. Vlieg hoog, my klein engeltjie.”

Bronne: CNN, Metro, KSL