Koben Hofmeyr, die kaptein van die o.16-rugbyspan, is tans in die waakeenheid van die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria.

Hy is laat verlede Saterdagaand in dié hospitaal opgeneem en moes ’n noodoperasie ondergaan om sy C6-nekwerwel, wat in die wedstryd gebreek is, terug in belyning te plaas, het Louis Cilliers, skoolhoof van die Hoërskool Louis Trichardt, aan Huisgenoot bevestig. 

Die kanse dat Koben ’n opvolgoperasie sal moet ondergaan is baie goed, het Louis verder gesê.

“Hy is baie positief en het al ’n boodskap gestuur om dankie te sê vir almal se ondersteuning.” 

Koben se ouers, Trompie en Annelize Hofmeyr, was albei langs die rugbyveld toe hy die besering in ’n losskrum opgedoen het. 

“Sy ouers is baie positiewe ondersteuners en hulle is ook positief dat hy sal herstel,” het Louis gesê. 

Volgens Louis het Koben Saterdagaand geen gevoel van sy bors af ondertoe gehad nie, maar teen Sondagoggend kon hy gevoel op sy maag ervaar tydens ’n besoek van sy fisioterapeut. Hy het vroeër die week ook die gevoel in sy bene en voete begin terugkry.

“Die wonderlike ding is dat die hele gemeenskap saamstaan,” het Louis gesê oor die ondersteuning wat van oral instroom.

Kort ná die ongeluk het die skool ’n boodskap op Facebook geplaas om Koben en sy gesin sterkte toe te wens. 

“Ons bid vir Koben Hofmeyr wat ’n nekbesering opgedoen het in ’n rugbywedstryd teen Warmbad. Trompie en Annelize, julle is in ons gedagtes en gebede. Bid asseblief saam met ons vir sy spoedige en volkome herstel,” het die boodskap gelui.

Koben se rugbyspan het Dinsdag ook ’n video vir hom gestuur om hom sterkte toe te wens en dié is ook op die skool se Facebookblad geplaas. Kyk hier: