Sy hand is nog ‘n bietjie seer, maar hy is sharp, dankie, sê Landré Davel (13) ‘n paar dae ná sy nagmerrie-ervaring.

Landré, wat verlede jaar ‘n leerling aan die Laerskool Rayton was, het die naweek saam met sy vriend Gideon Pretorius (14), en dié se ouers, Gideon sr. en Cindy, langs die Rust de Winter-dam in Limpopo kampeer.

Saterdagmiddag het die grootmense sowat 10 m vanaf die waterkant onder hul gazebo gekuier terwyl die kinders in die vlak water met handlyne probeer visvang het. Landré was die laaste in die water. Toe hy omdraai om uit te stap, voel hy hoe iets hom aan die regterhand gryp.

“Voor die krokodil my onder die water getiep het, het ek sy stert gesien,” vertel die jongman.

Gideon sr., eienaar van Yebo Trailers in Pretoria, het opgespring en hom te hulp gesnel. “In daardie stadium het ek niks gedink nie; ek het net gehardloop,” vertel hy. “Jy is nie bang nie; jy dink nie aan sulke goed nie.”

Gideon was binne sekondes by Landré en het hom aan die ander hand beetgekry en hom uit die dier se kake geruk. Hy onthou die seun “het verskriklik geskree en gegil”.

Landré onthou weer die eerste ding waaraan hy gedink het toe hy bevry word, was “dat ek bang was die ding gaan my weer kry”.

“Ek het uitgehardloop en by die gazebo gaan staan en huil,” vertel hy.

Hy is in die Pretoria-Wes-hospitaal opgeneem, waar hy steke aan sy hand gekry en sy wonde verbind is. Hy is dieselfde aand nog ontslaan.

Op ‘n wonderbaarlike wyse het Landré net beserings aan sy hand opgedoen.

Sy pa, Cliff, sê dit is goed dat hy nie die dag ook daar was nie, “want ek sou in die dam gespring en al die krokodille doodgemaak het”.

Hy probeer nie eens daaraan dink dat die voorval soveel erger kon gewees het nie. “As dit anders uitgedraai het, sou ek niks gehad het om te begrawe nie.”