Kyle Morrison (20) het bevestig hy het sy ma, Sharon (51), aangeval toe sy in Augustus verlede jaar by haar woonstel aankom.

Hy het haar na bewering probeer verwurg terwyl hy vir haar gesê het “Ek het jou so lief”, berig die BBC.

Daar is in die hof gehoor hy en sy ma het ’n goeie verhouding gehad, maar in die dae voor die aanval het die universiteitstudent briewe geskryf oor hoe hy sy ma wil seermaak, berig Metro.

Die aanklaer Lynsey MacDonald sê dit het behels dat hy in detail beplan het hoe om sy ma te vermoor en hoe hy in die kas sou wegkruip voor hy sou uitspring en haar genadeloos steek.

Kyle het skuldig gepleit op poging tot moord en sal volgende maand gevonnis word. Hy het by Sharon gewoon nadat hy sy studenteverblyf verlaat het.

Op die betrokke dag het sy tuisgekom en ander klere gaan aantrek toe Kyle skielik in haar kamer verskyn en haar met ’n mes begin aanval, berig die BBC.

Lynsey het aan die hof vertel hy “het herhaaldelik jammer gesê terwyl hy haar steek”.

Hy het toe sy arm om haar geplaas en haar verwurg.

“Sy het hom gesmeek om op te hou en haar te laat gaan,” het Lynsey aan die hof gesê.

Kyle het eindelik sy bebloede ma op die vloer gelos en na sy eie kamer gegaan om musiek te luister.

Sharon het sowat 20 minute lank daar gelê en geglo sy gaan sterf. Sy het Kyle gesmeek om ’n ambulans te bel, maar hy het gesê hy sal dit doen wanneer hy gereed is.

Toe Kyle eindelik die nooddienste bel, het hy gesê: “Ek het my ma probeer doodmaak. Julle beter hierop ondersoek instel,” berig die BBC.

Die paramedici het Sharon op die vloer gekry met minstens 30 steekwonde en ’n long wat platgeval het. 

Die Daily Record het berig Kyle is die volgende dag in Edinburgh in hegtenis geneem.

Bronne: BBC, Daily Record, Metro