Die jong pa van twee van Southampton in Brittanje is verlede jaar 32 weke tronkstraf opgelê vir teistering en omdat hy vir sy ouers onredelike spanning en angs veroorsaak het deur hulle gedurig lastig te val, berig Metro.

“Sy teistering van sy ouers vir geld het tot die skuldigbevinding gelei, maar sy gedrag het skynbaar weer begin,” sê die aanklaer Liam Hunt.

Selfs nadat hy tronk toe is, het Matthew aangehou om vir sy ouers geld te vra deur hulle in die middel van die nag te bel of vir hulle teksboodskappe te stuur.

In die Southampton-landdroshof is bekendgemaak selfs nadat die beskermingsbevel van krag geword het, het hy hulle op ’n enkele dag meer as 30 keer gebel. 

Hunt het aan die hof gesê die jong man het dikwels vir sy ouers gejok oor die redes waarom hy die geld nodig het, berig Daily Mail

“Hy het vir sy ouers gesê hy het ’n werkonderhoud en moet skeer, maar sy skeermes het halfpad deur gebreek,” sê hy. “Hy het vir sy ouers geld gevra, wat hulle vir hom gegee het, maar toe daag hy met ’n vol baard op. 

“ ’n Aantal boodskappe is ook ontvang waarin hy hulle gekritiseer het voor hy hulle weer geld vra,” sê Hunt.

Matthew se prokureur, Julie Macey, sê haar kliënt erken sy gedrag moet ophou, en die tyd wat hy in die tronk in Oxfordshire deurgebring het, het hom “die wêreld se goed gedoen”, skryf die Daily Mail.

“Hy lyk nou baie gesonder as toe ek hom drie weke gelede gesien het,” sê sy. 

“Terwyl hy nie veronderstel was om sy ouers te kontak nie, is sy toelae in hul bankrekening betaal. Ek glo alles is nou reggestel. 

“Hy het ’n vriend by wie hy nou kan gaan bly. Sake lyk positief.”

Matthew is tot 12 maande gemeenskapsdiens gevonnis omdat hy die beskermingsbevel oortree het. 

Bronne: Dailymail.co.uk, Metro.co.uk