"Veral my pa kry baie swaar. Wimpie was die eerste kleinkind. Vir my is dit steeds nie ’n werklikheid nie. Ek verwag elke oomblik dat hy hier gaan instap met daai mooi glimlag van hom.”

So skryf Valerie Lottering van Vanderbijlpark op haar seun Wimpie Koekemoer (30) se Facebook-tydlyn.

Wimpie is op 28 Oktober in die Oki Doki Pub and Grill op die dorp aangerand. Sy vriendin, Ria Calitz, het hom hospitaal toe gevat. Ria en Wimpie het ’n 20 maande oue seuntjie. Op 30 Oktober, twee dae ná die aanranding, is Wimpie breindood verklaar en is hy dood.

Op 13 November is ’n gr. 11-leerling van ’n Sasolburgse skool in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding en moord. Hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Wimpie was ’n bekende op die dorp veral vanweë sy liefde vir karaoke. ’n Insameling is op 4 November gehou om geld in te samel vir Ria en om die begrafniskoste te dek. 

’n Roudiens is op 8 November in die Volle Evangelie Kerk se Park-tabernakel op die dorp gehou.

“Wimpie, my kind, Moeks sit vanaand hier,” het Valerie geskryf.

“Ek kan nog nie my kop rondom die hele ding kry nie. Ek kan nie glo jy is weg nie. Ek het vanaand foto’s uitgekrap uit ouma Bettie se albums. Van jou eerste dae af tot hoe lank toe. 

“Jy was myne vir 30 jaar. Ek mis jou. Ek wil jou vashou. Ek wil jou hoor lag. Ek wil jou hoor sing. Ek wil nie vanaand gaan slaap nie. Ek ruik jou. Ek voel jou. Ek weet nog nie wat voorlê nie. Ek weet nie hoe gaan ek aangaan nie. Die pad vorentoe sonder jou is donker. Ek weet nie hoe om te voel nie. Ek is stukkend. Ek voel dood binne. Ek weet nie hoe om te voel nie. Ek mis jou my kind.”