Dis ’n doodgewone Vrydagaand op Lichtenburg en die Van der Walts begin die naweek op ’n rustige noot ná die bedrywighede van die afgelope week.

Pa Waldo en ma Hanolene sit op die bank in die leefkamer en kyk 7de Laan terwyl hul jongste, Rikus (12), in sy kamer rekenaarspeletjies speel. Buite is ouboet Rewaldi (15) in die agterplaas doenig met die ditjies en datjies van ’n tienerseun.

Maar die volgende oomblik ruk die knal van ’n oorverdowende ontploffing deur die huis.

'n Plas bloed

Waldo en Hanolene spring op en haas hulle buitentoe – en daar lê Rewaldi in ’n plas bloed onder die afdak in die agterplaas. Sy kreungeluide weerklink in die skemer en bloed pomp uit sy bene. Eenkant lê die verfrommelde stukke van ’n gasbottel waarmee lugverkoelingstelsels werk . . .

Hanolene (41), ’n tandartsassistent by ’n praktyk op Lichtenburg, steek in haar spore vas en hardloop terug by die huis in.

Sy gryp haar selfoon waar dit in die leefkamer lê, bel die gesin se huisdokter en roep oor die foon dat daar ’n ontploffing was en dat Rewaldi baie seergekry het; hy moet onmiddellik kom.

Waldo (46), ’n oudpolisieman en deesdae ’n sakeman en gekwalifiseerde verkoelingstegnikus, gryp twee kussings van die rusbank, lig sy seun se bene versigtig op en sit dit op die kussings neer om die bloedvloei te vertraag.

“Ek het net heeltyd vir hom gesê hy moenie aan die slaap raak nie. Ek het geweet ek moet koelkop bly en hom kalm hou,” onthou Waldo in die wagkamer van die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp waar sy seun ná die ongeluk aansterk.

Ek wou nooit aan die ergste dink nie. Heeltyd het ek net gebid en geweet ons seun gaan dit maak.

Hulp het blitsig gekom: Die huisdokter was binne drie minute by hul huis om Rewaldi te stabiliseer en binne 45 minute het die ambulans hom by die hospitaal in Klerksdorp gehad. Terwyl Hanolene agterin die ambulans saam met Rewaldi en die paramedici na die hospitaal gejaag het, het Waldo in hul motor agternagery.

“Ek wou nooit aan die ergste dink nie. Heeltyd het ek net gebid en geweet ons seun gaan dit maak,” onthou hy.

Waldo het nog nie by die hospitaal aangekom nie toe Rewaldi na die teater gehaas word en dokters vir Hanolene sê haar kind se lewe is in gevaar; sy moet toestemming gee dat sy been geamputeer word om sy lewe te red.

'n Kwessie van lewe of dood

Hier waar sy in die wagkamer sit, vertel sy moedig: “Ek het heeltyd gewonder of ek die regte ding doen, maar dit was ’n kwessie van lewe of dood. Die dokters het gesê hulle kan nie die been red nie.”

Kort daarna, op die aand van 19 Januarie wat so gewoon begin het, is haar seun se regterbeen onder die knie geamputeer asook sy linkermiddel- en -wysvinger.

Toe Rewaldi die volgende middag in die hoësorgeenheid uit ’n geïnduseerde koma ontwaak, moes sy ouers hom die hartverskeurende nuus gee dat die lewe wat hy eens geken het nooit weer dieselfde sal wees nie.

“Ons het gewonder hoe ons vir hom die nuus gaan breek dat sy been afgesit is, maar hy het dit onmiddellik besef toe hy sy oë oopmaak,” onthou Hanolene.

Rewaldi het na sy been gewys omdat hy weens die lugpyp in sy keel nie kon praat nie, maar Waldo het saggies vir hom gesê: “Ons sal daaroor gesels wanneer jy kan praat.”

Hy wou weet of sy been en vingers in die agterplaas lê, want hy was bang sy boetie kom daarop af.

Eers toe hy vier dae later kon praat, het hy sy ouers gevra hoekom sy been geamputeer is.

“Ek het verduidelik dat dit baie seergekry het en dat dokters die been nie kon red nie,” vertel Waldo.

“Hy wou weet of sy been en vingers in die agterplaas lê, want hy was bang sy boetie kom daarop af. Ek het hom gerusgestel dat die ledemate eers hier by die hospitaal geamputeer is.”

Nuuskierig

Dit was toe dat hul seun hulle kon vertel wat daardie verskriklike Vrydagaand gebeur het. Waldo installeer deeltyds lugverkoelers vir ’n ekstra inkomste, en spesiale gasbottels word in van hierdie lugverkoelingstelsels gebruik. Hy bêre van die bottels onder die afdak in hul agterplaas.

Rewaldi het gesê hy wou die kraan van ’n leë gasbottel oopdraai omdat hy al gehoor het die laaste gas in die bottel sou teen die kraan vasvries.

Hy wou uit nuuskierigheid sien hoe dit gebeur, vertel sy pa. Waldo vermoed daar was ’n “statiese reaksie”, want dit was toe dat die gasbottel ontplof.

Toe ’n hospitaalportier Rewaldi se hospitaalbed na die binnehof stoot sodat hy ’n bietjie in die son kan kom, vertel die seun self wat gebeur het.

“Ek onthou nog die ontploffing,” sê hy met ’n skaam, moedige glimlag.

“Ek was heeltyd wakker, maar het nie regtig enige pyn gevoel nie. Ek was ná die tyd baie deurmekaar, maar het dadelik my pa langs my gesien.”

Spookpyne

Hy lig die komberse en wys wat van sy regterbeen oor is. Sy ander been het drie penne in nadat dit weens die slag van die ontploffing gebreek het. Albei bene is in verbande toegedraai.

Elke ledemaat in verbande. Rewaldi sê dit frustreer hom dat hy nog nie met sy hande sy iPad kan gebruik nie.

“Die spookpyne is erg,” vertel Rewaldi saggies.

“Partykeer voel dit vir my of ek in my kuit krampe kry en dan besef ek ek het nie meer die onderbeen nie.

“Aan die begin het dit gevoel of my twee vingers gebuig is en so in die verbande toegedraai is, maar dit is nie. Dis geamputeer . . .”

Hy sê wat hom die meeste in die hospitaal pla, is die verveling. Sy hande is nog in verbande toegedraai en dit frustreer hom dat hy nie met sy iPad kan werk nie.

“Dit raak maar eensaam hier, en al wat ek eintlik kan doen, is TV kyk.”

Net toe daag sy onderwyseres, Lize van Niekerk, op saam met ’n omgeegroep van die Hoërskool Lichtenburg, waar Rewaldi in gr. 9 is. Hulle is vrolik in pienk T-hemde en bring vir hom lekkernye. Sy juffrou buk en gee hom ’n soen op die voorkop.

“Jy moet gou gesond word. My rekenaars wag om reggemaak te word.”

Sy gr. 9-juffrou, Lize van Niekerk, wens haar dapper leerder sterkte toe.
Rewaldi geniet die laatmiddagsonnetjie in die buitehof van die hospitaal toe die gr. 11-omgeegroep van die Hoër­skool Lichtenburg hom met lekker­nye kom verras.

Waldo verduidelik Rewaldi was nog nooit erg oor sport nie en is eerder gek oor rekenaars en rekenaarspeletjies.

“Die onderwysers is mal oor hom, want hy kan enige rekenaarprobleem by die skool vir hulle oplos. As iemand met hul rekenaar sukkel, kan hulle altyd op Rewaldi staatmaak,” sê Waldo.

Dan vertel die pa trots: “Hy wil eendag ’n meganiese ingenieur word.”

Die Van der Walts is nog nie seker hoe lank Rewaldi in die hospitaal sal moet bly nie, maar omdat die pad na rehabilitasie lank sal wees, sal hy nie vanjaar kan terugkeer skool toe nie.

“Maar hy kan nie ’n hele jaar van skool misloop nie,” sê Waldo.

“Ons sal vir hom tuisonderrig reël. Sy kamer is op die boonste verdieping, maar hy hou voet by stuk hy sal steeds daar kan uitkom.”

Oppas vir dié gasgevaar

Die gasbottels wat vir lugverkoeling gebruik word, is nie algemene gebruiksitems nie, sê Grant Laidlaw, president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Verkoeling en Lugversorging.

Die bottels is dus nie dieselfde as die gasbottels wat algemeen in huishoudings gebruik word nie.

“Die bottels kan nie sonder ’n lisensie gekoop word nie en moet deur ’n kundige geïnstalleer word,” sê Grant. Hy sê die verkoelingsbottels is nie juis vlambaar nie, maar dit kan gebeur dat ’n bottel ontplof.

“Die bottel wat die seun beseer het, het waarskynlik in die son gestaan en weens die drukking was daar ’n skeuring en ’n ontploffing toe die kraan oopgemaak word.”

Hy verduidelik die gas in die bottels moet onder konsekwente druk wees.

“Wanneer die gasmolekules bo ’n sekere temperatuur verhit word, begin hulle beweeg. Dan bou drukking op en kan die bottel ontplof.”

Volgens Grant moet die bottel veilig in ’n koel, donker plek gebêre word waar dit nie aan hitte blootgestel kan word nie.

“Moet dit ook nie buite los nie; die silinder kan skade opdoen en dan is daar ’n groter kans dat dit kan ontplof.”

Hy sê ’n tegnikus moet ingeroep word as gebruikers die bottels of gas wil vervang.

Foto’s: Fani Mahuntsi; verskaf