Jared Standley (21) word nou deur twee aanklagte van eerstegraadse moord met verswarende omstandighede in die gesig gestaar weens die dood van sy ouers, Theresa (56) en Steven Standley (55).

Volgens CBS News het die pa ’n ysingwekkende oproep voor die moord gemaak. 

“Hy het verlede Woensdag ’n ander seun gebel en gesê Jared het onverwags teruggekeer en dat hy 911 moet skakel as hy nie oor 15 minute van hom hoor nie,” berig CBS News.

The News Tribune berig Jared het sy ma doodgeslaan voor hy sy pa doodgeskiet het. 

Na wat berig word het Jared erken hy het sy ouers vermoor omdat hy “hulle soveel gehaat het”.

“Hy het gesê hy het eers sy ma verskeie kere teen die kop met ’n kolf geslaan en haar toegedraai en beplan om haar te begrawe.”

Hy het toe op sy pa gewag om huis toe te kom.

“Die beskuldigde het gesê hy het sy pa in die huis probeer kry sodat hy hom stil-stil kon skiet of hom met ’n mes kon steek,” het die adjunk-aanklaer Jared Ausserer geskryf in die verklaring vir die bepaling van die waarskynlike oorsaak van die saak. 

“Toe sy pa die deur probeer toe stoot om te verhoed dat Jared inkom, het hy sy pa deur ’n venster in die deur in die kop geskiet.”

Teen die tyd dat die polisie na die huis is, was Jared nie daar nie, berig People

Die Pierce County-polisie het op hul Facebook-blad gesê toe hulle by die huis aankom, het hulle ’n koeëlgat deur ’n venster in die voordeur gesien en kort daarna die slagoffers se liggame gevind.

“Hulle het hom eindelik opgespoor nadat hulle sy huurmotor by ’n Comfort Inn nagespoor het.” 

Die polisie het Jared in die skouer geskiet, maar hy het nie ’n lewensbedreigende besering opgedoen nie.

Aanklaers sal waarskynlik vir die doodstraf vra in die saak. 

Bronne: People, CBS News, Facebook, The News Tribune