Min het André (42) en Werner Dry (40), twee broers van die Oos-Rand, geweet dat dié foto hul laaste saam met hul pa, Gerhard (71), sou wees.

Want net een dag nadat dié gesin op 6 Oktober dié foto van hul seevakansie op Durban se hoofstrand laat neem het, het Gerhard sy lewe in dié einste waters verloor. Hy is deur ’n sterk seestroom meegesleur en het verdrink.

Hulle het verbete baklei om Gerhard bo die water te hou en na veiligheid te neem, sê André Dinsdag aan Huisgenoot.

Alles vergeefs. 

“Dit was ontsettend erg om te beleef; ek dink ons albei is nog geskok,” sê André.

Gerhard en sy twee seuns het in Durban vakansie gehou en op daardie dag besluit om in die see te gaan swem.

André en Wener
Die laaste foto wat van Gerhard geneem is - een dag voor sy dood. Foto: Verskaf

“Die see was rof, maar ons was nie diep in nie. Alles gebeur so vinnig. Jy kan dit eintlik vir niemand verduidelik nie. ’n Stroom het my pa ingetrek en ons het albei probeer om hom uit die stroom te kry.

“Ek het later besluit om na die kuslyn te swem om die lewensredders te gaan roep, maar intussen is Werner en my pa dieper en dieper die see ingetrek.”

Vier lewensredders is eindelik die see in. Hulle het lank gespartel om Gerhard en Werner uit die water te bring, sê André.

“As dit een minuut langer was . . .” sê André. Sy stem is skor.

“Dan was my boetie dalk ook nie meer hier nie. Hy het heeltyd my pa se hand vasgehou. Hy het belowe om hom nie te laat gaan nie. Later was hulle so diep die see in dat hy nie meer kon staan nie. Toe die lewensredders hulle uitbring, was my pa bewusteloos. Ons het 40 minute lank kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas, maar vergeefs. Ons kon nie my pa weer bybring nie. Hy is daar op die strand dood verklaar.”

Dis vir albei broers ’n geweldige skok, sê André. Veral omdat hul pa baie lief was vir die natuur, veral vir die see.

“Dis vir ons eintlik so pynlik ironies. Hy was so lief vir die buitelewe, vir stap en swem en net in die buitelug wees. Hy was geweldig gesond en fiks, veral vir iemand van 71 jaar oud. ’n Dag voor sy dood, toe ons die foto geneem het, het hy nog vertel hoe lekker dit is om saam met sy twee seuns by die see te wees.

André en Wener
André. Foto: Verskaf
André en Wener
Werner. Foto: Verskaf

“Hy het altyd vertel hoeveel vrede hy by die see ervaar; hoe gelukkig hy is. En ’n dag later is sy lewe geneem deur een van die dinge waarvoor hy die liefste was.”

Hulle was ’n baie hegte gesin, vertel hy. Gerhard was vier dekades lank die hoof van parke en rekreasie in Springs. 

“Hy was ’n man van inbors. Hy het soveel mense se lewe aangeroer. Jare nadat hy afgetree het, het inwoners vertel hoe hulle hom mis. Hy het so 'n passie gehad vir sy werk – en vir die lewe. Hy het altyd gesê: ‘My kind, die lewe is kort. As jy iets wil doen, moet jy dit nou doen’.” 

Hy het “nooit herstel” ná die dood van sy vrou, Louise, 14 jaar gelede nie. Sy is aan kanker dood.

“Jy weet, daar was nie een dag dat hy nie oor haar gepraat het nie. Hy het so na haar verlang; 14 jaar lank het hy swaargekry. Hy was ongelooflik lief vir haar en het nooit ’n ander vrou in sy lewe toegelaat nie. Dís waarin ons nou vrede vind: Dat hulle ná 14 jaar weer bymekaar is en dat hy gelukkig is.”

Op Facebook skryf Werner: “Ek en André het nog nooit so alleen gevoel soos nou nie, en ons wag steeds dat pa terugkom van ’n stappie af. Pa was ons held, maar het ná ma se dood nooit weer herstel nie. Ons hoop julle is weer saam en gelukkig. Moenie worry oor my en ouboet nie; ons het mekaar hier. Lief vir pa en ma, altyd.”

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie. Die familie beoog om later vandeesweek ’n roudiens te hou.