Nadia Du Plooy (18) was maar twee jaar oud toe Kearns-Sayre-sindroom (KSS) by haar gediagnoseer is – ’n seldsame stadig aftakelende senuspiersiekte waarvoor daar geen genesing is nie. 

Daar is net een ander mens in Suid-Afrika met die toestand. Nadia het lank daarvan gedroom om haar vir ’n geleentheid soos ’n matriekafskeid uit te vat, maar aangesien sy die afgelope paar maande in die hospitaal was, het dit gelyk asof sy nie die kans sou kry nie. 

Dit was tot haar dokter van haar droom gehoor het en besluit het om die hulp van haar vriende en familie in te roep om dit ’n werklikheid te maak. Hy het toe saam met die stigting Reik na ’n Droom ’n pragtige aand gereël wat Nadia altyd sal onthou. 

“Die bystand van borge en helpers het van oral in Johannesburg gekom en in ’n kort tyd het hulle Nadia se eie matriekdans met haar eie sprokiesrok, haarstyl, grimering, ambulans om haar te vervoer en selfs ’n deftige motor vir ’n fotosessie gereël,” sê Pat van Schalkwyk, Nadia se tannie, aan Huisgenoot.

Nadia se gesondheid het oor die jare ernstig verswak, voeg sy by. 

“Sy het Helpmekaar Kollege verlede jaar bygewoon en toe in Oktober 2018 ’n operasie ondergaan. Van daar het alles net afdraande gegaan. In die afgelope jaar was sy altesaam ses weke by die huis. Vir die res van die tyd was sy in hoë- of verswaktesorg in hospitale in Pretoria. 

“Dit was werklik ’n jaar van hel; nie net vir haar nie, maar ook vir die gesin. ”Ambulanse is geborg om haar na die Fire Room in Monte Casino te vervoer – die venue is vir die spesiale aand geskenk – waar Nadia dit gate uit geniet het omring deur hegte vriende en familie. 

“Nadia se lyf wil net nie meer nie, en elke dag is ’n bonusdag,” sê Pat. “Tans is haar grootste stryd haar lewensgehalte, wat ongelukkig nie goedkoop is nie. 

“Al het sy ’n versorger, is haar ouers 24 uur van die dag by haar. Dis so ’n seën om haar by die huis te hê.”

Al weet Nadia sy sal nooit gesond wees nie, is sy reg om aan te hou baklei – vir haarself en vir ander wat aan die seldsame toestand ly. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.