Paige Howitt, van Birmingham in Engeland, ervaar gedurig ondraaglike pyn en sê dit voel dikwels asof sy “lewend gebrand’ word.

Komplekse streekpynsindroom (KSPS), ’n ongewone vorm van chroniese pyn wat volgens die Mayo Clinic gewoonlik ’n arm of been raak en deur skade aan die sentrale senuweestelsel veroorsaak word, is by Paige, ’n handelsontleder gediagnoseer.

Luidens die Daily Record laat die ongeneeslike toestand Paige dikwels met ’n kwaai brandgevoel in haar linkerknie, swelsels en spierspasmas en dit lei tot slapeloosheid.

Paige het die toestand op 17 ontwikkel nadat sy ’n knieoperasie ondergaan het.

“Ek het toe intense pyn in my knie begin kry,” vertel Paige. “My chirurg en pynspesialis het komplekse streekpynsindroom tipe 2 by my gediagnoseer – my senuwees is in die operasie raak gesny.”

Paige het behandeling in ’n spesiale suurstofkamer gekry om haar liggaam te help genees, maar die hoë koste van die behandeling, tesame met die lang reis daarheen, het beteken Paige, wat net vier uur slaap inkry weens die pyn, moes die enigste behandeling wat lyk of dit kan help, staak.

Intussen slaap sy met ’n yskas vol yspakke langs haar bed en draai ’n swangerskapkussing om haar linkerknie om die pyn te verlig, berig Independent.

“Ek het selfs ’n yskas langs my bed. Maar dit (die yspakke) het die bloedtoevoer na my knie verminder, en dit veroorsaak sekondêre probleme.”

Paige hoop om sowat R460 000 in te samel op haar blad JustGiving om haar eie suurstofkamer te koop om tuis te gebruik. Indien sy nie die geld vir die behandeling kan insamel nie, sal die jong vrou dalk haar been moet laat amputeer.

Sy het haar droom om ’n verpleegster te word, laat vaar weens haar verlammende toestand. Sy hoop steeds om binnekort verligting daarvan te kry.

Foto: iStock

“KSPS het soveel van my lewe verander en my drome weggevat. Ek ly aan depressie en angs as gevolg daarvan. Ek wil elke dag tou opgooi, wetend dat ek nie meer opsies het nie. Dit het nie ’n kuur nie, maar ek het hoop en verligting nodig. Hiperbariese suurstofterapie kan dit vir my bied.”

Bronne: independent.co.uk, viralthread.com, dailyrecord.co.uk