Die sangers Taylor Swift (27) en Harry Styles (23), wat in 2012 met mekaar uitgegaan het, is blykbaar albei geskeduleer om in November by die Victoria’s Secret Show in Sjanghai, China, op te tree.

Taylor Swift (27) en Harry Styles (23) in 2012 toe hulle uitgegaan het. Foto: Getty Images

Volgens Seventeen het ’n toegewyde Taylor-aanhanger op ’n persvrystelling van die Sjanghaise buro vir kultuur-, radio-, rolprent- en televisie-administrasie afgekom waarin staan administratiewe lisensies is aan die sterre toegeken om op 20 November vier liedjies in Sjanghai uit te voer. 

Dit lyk of Victoria’s Secret-modevertonings die superster-ekwivalent is van partytjies waar jy ongemaklik jou eks raakloop – soos verlede jaar die geval was toe The Weeknd opgetree het terwyl sy supermodel-eksmeisie Bella Hadid op die loopplank gepronk het.

Maar Harry en Taylor kan ’n heel ander vlak van ongemaklikheid afgee, want hulle skryf blykbaar liedjies oor mekaar sedert hulle in Januarie 2013 uitgemaak het. 

Sy het blykbaar die een liedjie ná die ander oor hom vir haar album RED van 2012 geskryf en hom ook tydens amper al haar toesprake by toekennings in die skadu gestel. 

Harry se onlangse liedjie Two Ghosts gaan glo oor die langbeen-blondine, maar toe hy op Nick Grimshaw se program Radio 1 daaroor uitgevra word, het die Sign of the Times-sanger ongemaklik gelyk en ’n vae, onsinnige antwoord gegee: “Ek dink, jy weet, dis oor soms dinge verander en kan al dieselfde goed doen . . . en soms is dit net anders, jy weet?”

Sal dit die vonk wat daar voorheen tussen hulle was laat opflikker wanneer hulle mekaar sien? Ons sal maar net moet wag en kyk.

Bronne: The Independent, Seventeen, Teen Vouge, Viral Thread