Die sanger se ma, Ronel Brink, sê hy sal vir vyf tot ses weke ná die operasie geen vertonings kan hou nie. Hy sal ook stemrehabilitasie moet kry.

Dit is die derde keer dat Bobby ’n operasie aan sy stembande ondergaan. Hy het ’n jaar gelede poliepe op sy stembande laat verwyder en het ook in Februarie verlede jaar ’n operasie ondergaan. 

Ronel het gesê dit is onduidelik hoe lank hy in die teater gaan wees, maar dat dit nie ’n ernstige operasie is nie. Bobby het Donderdagoggend dié foto op Instagram geplaas.

It's Time...

A post shared by Bobby Van Jaarsveld (@bobbyvanjaarsveld) on

Bobby het destyds aan Huisgenoot gesê hy het sy stem met baie singery ooreis. Dit het groeisels op sy stembande laat vorm.

“Dis soos eelte op jou palm wat hard word en groei,” het hy ná sy eerste stemoperasie verlede jaar in Februarie aan Huisgenoot vertel.

Terwyl hy gewag het op dié operasie het sy vrou, Annatjie, ondersteunend langs sy hospitaalbed gewaak. Dit was drie weke voor hul dogtertjie, Armani, haar opwagting op 7 Maart 2016 gemaak het. 

“Hier lê ek nou! Gereed vir my operasie en my vrou is langs my sy. En oor drie weke sal ons weer hier wees om ons dogtertjie te verwelkom!” Hy moes vir twee weke ná dié operasie tjoepstil bly. 

In Oktober 2016 het hy nog ’n operasie ondergaan. 

“Operasie .... sukses? Onder narkose het ek blykbaar gevra of ek kan braai. Ek hou van braai. Baie. Dalk te veel,” het hy hierna op Instagram geskerts

Spoedige herstel, Bobby!