Wel, dit het en nou het hy net lof daarvoor.

James Green (28), ’n verslaggewer van New York, het sy storie op Twitter gedeel en dis sedertdien 11 000 hertwiet en 32 000 mense het daarvan gehou.

“Nooit gedink ’n simpel ou polshorlosie wat ek twee jaar gelede gekoop het, sou my lewe red nie. Ek het gesien my hartklop verhoog en dit was toe ’n pulmonale embolisme,” het hy op Twitter geskryf.

James het aan sy volgers vertel die app Heart Watch het vir hom ’n kennisgewing gestuur nadat dit iets ongewoon opgemerk het.

Hy het in ’n onderhoud met The Telegraph gesê as die app nie die probleem opgemerk het nie, sou dit noodlottig gewees het.

“Ek het ’n waarskuwing van Heart Watch gekry dat my hartklop voortdurend meer as my rustende hartklop van 54 is, selfs wanneer ek by my lessenaar sit,” het hy aan The Telegraph gesê.

“Dit, tesame met ander simptome wat ek ervaar het, was genoeg inligting wat ek nodig gehad het om op te tree en te besef dis nie ’n paniekaanval nie. Ek ly aan ernstige algemene angssteuring. Dit was iets meer.”

Hy het dadelik ’n dokter gebel en hy is na 'n hospitaal gebring.

Hy het ’n pulmonale embolisme aan sy aanhangers verduidelik: “Dis basies ’n bloedklont wat na jou longe beweeg en jou asemhaling kan stop as dit te groot raak.”

Hy is op bloedverdunners geplaas en danksy sy slim horlosie is hy dieselfde dag ontslaan.

James het aan sy bekommerde vriende, wat gedurig wou weet of hy oukei is, gesê: “O, ja, dit gaan goed met my. Dis betyds ontdek. Ek voel ek hoort in ’n Apple-advertensie.”

Sy inskrywing het daartoe gelei dat ander ook deel hoe tegnologie al tot hul redding gekom het. 

Spooky Darius het op James se inskrywing reageer en vertel hy het onlangs borspyne ervaar. “Ek het my hartklop op my @SamsungUS Galaxy S5 nagegaan en dit was hoog. Ek het toe ’n ablasie benodig. Tegnologie is baie nuttig.”

Volgens die app Heart Watch se webtuiste is die Apple-horlosie ’n hoogs gesofistikeerde instrument wat jou hartklopdata meet en vaslê. 

“Dit wys hoe jou hart oor vier eenvoudige aansigte klop: Wakker, reëlmatig, oefen en slaap. Elkeen is geïsoleer, want hoewel jy dalk ’n hoër hartklop wil hê tydens ’n oefensessie, is dit waarskynlik nie ’n goeie ding as jou hart vinnig klop wanneer jy nie oefen nie, en dis waarskynlik iets wat jy vir jou dokter wil wys.”

Bronne: The Telegraph, Heart Watch