Kailee Mills was saam met drie van haar vriende in ’n motor op pad na ’n partytjie.

Soos menige tiener was die lewenslustige tiener ook gek oor selfies, en hoekom dan nou nie een met jou vriende neem terwyl jy spesiaal vir ’n geleentheid aangetrek het nie?

Maar Kailee se besluit om vir daardie kortstondige oomblik haar veiligheidsgordel los te maak om die selfie te neem, het haar lewe gekos.

Die bestuurder het na bewering té vinnig gery en beheer oor die motor verloor.

Haar drie vriende was almal vasgegord en het geringe beserings opgedoen, maar Kailee is vanaf die agterste sitplek uit die motor geslinger. Haar verpletterde ouers, David en Wendy Mills, het hul pragtige dogter vir altyd verloor.


Nou het die egpaar die Kailee Mills-stigting van stapel gestuur wat met plakkers wat aan motors se ruite geplak word, insluit. Die slagspreuk op die plakkers sê “Click it or Ticket” en hulle hoop dit sal motoriste en hul passasiers aanmoedig om wel vas te gordel.

Sleutelhouers, t-hemde en ’n verskeidenheid plakkers maak deel van die veldtog uit.

Tydens ’n gedenkdiens is daar ’n verskeidenheid skoene in wit uitgestal as verteenwoordiging van die die 929 mense wat reeds in dié staat hul lewens verloor het omdat hulle nie sitplekgordels gedra het nie.

Wendy verwys na die wit skoene as “spookskoene” en sy sê dis asof sy die slagoffers daar sien staan.

Kailee word deur pienk skoene verteenwoordig.

David en Wendy Mills by die "spookskoene". Die pienk tekkies is vir Kailee. Foto: Facebook (Kailee Mills Memorial)

“Sy het ’n unieke lag gehad wat jou laat glimlag het. Sy was gek daaroor om mense te laat glimlag,” het David gesê.

“As ons dit kan regkry om selfs net een lewe deur Kailee se storie te red, is dit als die moeite werd.”

Hoekom sitplekgordels dra?

Trauma-dokters en verkeersowerhede in Suid-Afrika het die weiering om sitplekgordels te dra, as ’n vorm van nalatigheid beskryf.

Dr. Jeanne-Marie van der Westhuizen van die nood-en trauma-eenheid van die Sint Dominic-hospitaal, Oos-Londen, het aan die padveiligheidsorganisasie Arrive Alive gesê ouers “faal hul kinders deur nie die wet (op sitplekgordels) en gesonde verstand toe te pas óf deur kinders te leer om vas te gordel nie.”

“Jy moet te alle tye jou kinders in die motor vasgordel, of hulle nou twee of 22 jaar oud is,” is haar advies.

Prof. Sebastian van As van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad sê waar kinders tydens ongelukke uit ’n motor geslinger word, is daar ’n 75% kans dat die kind sal sterf.

Waarskuwing: Video kan sensitiewe kykers ontstel

Bronne: arrivealive.co.za, nzherald.co.nz, kxan.com