Storm het op 22 Augustus veelvuldige breinbeserings opgedoen en is ’n dag later in ’n hospitaal in Mosselbaai breindood verklaar. 

Storm het glo aan ’n bewegende motor vasgehou terwyl hy op sy skaatsplank was. Hy het agteroor geval en met sy kop op die teer neergeslaan. 

“Storm Smorenburg sal as Oakdaler onthou word vir sy omgee vir ander en sy liefde om ander van hulp te wees,” skryf Hoër Landbouskool Oakdale op hul Facebook-blad. 

Volgens die inskrywing was Storm ’n baie positiewe kind wat aan baie van die skool se aktiwiteite deelgeneem het. 

“Hy was in graad 8 betrokke by toutrek en moes as gevolg van ’n rugbesering sy deelname staak. 

“Hy het as ’n noodhelper begin en later sy Rugby Medic 3-noodhulpsertifikaat verwerf. Daarmee het hy Saterdae en tydens toernooie met entoesiasme diens as noodhelper verrig.” 

Storm het ook tydens somervakansies by Lappiesbaaistrand as lewensredder opgetree. 

“Storm sal onthou word as ’n redder van lewens en hy het hierdie status van hom vervolmaak toe hy self besluit het om ’n orgaanskenker te wees.” 

Volgens ’n familielid wat nie genoem wil word nie, het Storm sy skaatsplank as sy hoofvervoer gebruik om by die skool te kom. 

“Sy ma-hulle is stukkend. Dit is hulle enigste kind,” sê sy. 

’n Gedenkdiens vir Storm sal Woensdag in Riviersonderend gehou word en Vrydag by die Hoër Landbouskool Oakdale.