“Lindsay het by die hospitaal vir haar ma gewag. My sussie het Lindsay nog uit die ambulans gebel. Lindsay kon nie hoor wat my sussie se nie, want sy het gemompel.

“By die hospitaal het Lindsay haar ma gesien. My sussie is die hospitaal in en toe kom hulle uit en sê haar hart het gaan staan.”

Terwyl Karen Stander (58) praat oor haar suster, Addelaid Ferreira Watt (62), kan jy hoor hoe sy sukkel om die trane terug te hou. Sy was op pad van Krugersdorp, waar sy woon, lughawe toe om na Pietermaritzburg te vlieg waar Addelaid en Lindsay gebly het.

Bewysstuk

Addelaid was Maandag besig om ’n verdagte in Ixopo se streekhof aan te kla in verband met ’n plaasaanval toe die bewysstuk wat sy hanteer het, afgevuur en die skoot haar in die been getref het.

“Lindsay het my histeries gebel en gesê haar ma is in die hof geskiet,” sê Karen. “Ons het gedink omdat dit in die been is, is dit nie te ernstig nie.”

Karen het begin rondbel om meer oor die skietery uit te vind. 'n Werknemer by die hooggeregshof in Pietermaritzburg het Karen laat weet dit is die waarheid en dat Addelaid baie bloed verloor het. Sy het vir die kantore van direkteur van openbare vervolging in Pietermaritzburg gewerk.

Baie bloed verloor

Addelaid is eers na ’n plaaslike hospitaal geneem. Karen het daar nog met 'n dokter gepraat wat Addelaid behandel het. Hy het weer gesê dat sy baie bloed verloor het maar dat sy by haar positiewe is en hulle besig was om haar te stabiliseer.

Haar drie liefdes in die lewe was haar dogter, die gereg en kuns.

“My suster het aangedring om na die hospitaal in Pietermaritzburg oorgeplaas te word. Ek dink dis omdat sy bekommerd was dat Lindsay nie by haar sou kon uitkom nie.

“Addelaid was maar ’n enkelma vir die grootste deel van haar lewe. Haar drie liefdes in die lewe was haar dogter, die regte en kuns.”

Karen begin byna huil toe sy vertel van daardie verskriklike oproep toe Lindsay haar bel en sê: “My ma is dood.”

Familie

Addelaid is die derde een van hul ses kinders wat nou dood is, sê Karen. Hul ma, Joey Ferreira, wat nou 101 jaar oud is, bly by Karen in Krugersdorp. Joey het demensie.

“Ons gaan nie vir haar sê van Addelaid nie. Sy is net te oud en te broos. Min goed maak nog vir haar sin.”

“Dit is só ’n groot skok. Jy weet, sy kon al afgetree het, maar het keer op keer gesê sy is nog nie reg om haar tokse op te hang nie.

Sy het alles vir haar werk gegee.

Tog het sy twee weke gelede vir die eerste keer vir my gesê sy dink sy moet bedank, haar geld vat, gaan toer en die lewe bietjie geniet.”

Addelaid het regte aan die Noordwes-Universiteit studeer en het haar studies voltooi met die hulp van beurse en om klas te gee. Sy het alles vir haar werk gegee.

“Van die goed wat Addelaid mee te doen gehad het, was maar swaar. Sy kon haarself nie help om altyd na die foto’s te kyk nie. My stiefma en haar man is 'n klompie jare gelede op hul plaas in Trompsburg vermoor. Sy het selfs na daardie foto’s gekyk.

“Sy kon net nie daardie goed wat sy gesien het, uit haar kop blok nie. Dit raak maar swaar, veral as dit iets is wat jou raak.”

Addelaid was die snaaksste mens wat sy ken, sê Karen. Sy het altyd van enige situasie 'n grappie gemaak.

“Jy het altyd gelag as Addelaid naby is.”

Daarby was Addelaid baie erg oor haar familie. Sy sou gereeld video’s van haar en Lindsay vir Karen stuur om vir haar ma te wys en soms het haar ma haar nog herken.

“Ons ouers is geskei toe ons klein was. Addelaid het my altyd opgepas en beskerm. Sy was net altyd daar om alles reg te maak. Sy was my alles.”

De Wet Potgieter, ’n vriend van Addelaid, verstaan nie hoe ’n vuurwapen toegelaat word as ’n bewysstuk sonder dat dit behoorlik beveilig word nie.

“Dis per slot van sake een van die basiese grondreëls wat vir ons almal in die polisie en die weermag in basiese opleiding ingedril is,” sê De Wet.

Volgens De Wet was daar nog ’n los koeël in die magasyn. Sy het die geweer op die grond laat val en die skoot het haar in die been getref.

De Wet beskryf Addelaid as ’n “fancy maar tog hardegat” vrou wat vrees in booswigte se harte ingeboesem het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.