Terwyl ’n mens nader stap, wag jy heimlik vir daardie kenmerkende reuk van garnale, knoffelbotter en diepgebraaide aartappelskyfies om jou by die deur in te katrol.

Maar vandag is dit die soet reuk van duisende blomme wat jou neus vul. ’n See van pienk, geel en wit begroet jou buite die gewilde visrestaurant.

Dit verbloem selfs die skerp reuk van handontsmetmiddel, deel van ons alledaagse bestaan sedert die koms van ­covid-19.

Binne is dinge op die oog af normaal. Kelners vleg met borde seekos tussen die tafels deur. Maar dan merk jy die hartseer oë bo hul maskers, ’n swarigheid in hul tred, die gedempte stemtone.

Want die Ocean Basket hier in Polokwane se The Mall of the North-winkelsentrum is die middelpunt van rou oor twee vroue wat wreed uit die boesem van dié intieme gemeenskap geruk is.

Vir geliefdes en werknemers was die vermoorde Hettie Deacon en haar dogter, Lizette, meer as net die mede-eienaars van dié gewilde eetplek.

Hettie (FOTO) en Lizette was kranige rolbalspelers
Hettie (FOTO) en Lizette was kranige rolbalspelers. Foto verskaf

Hettie (70) was “magogo” of “ouma”; Lizette (55) was “rakgadi” of “tannie”. En dié ma en dogter, hoor jy soos ’n refrein, se harte was so groot en warm soos Limpopo se uitgestrekte Bosveld.

Lizette was vreeslik lief vir haar yorkie, Roxy. F
Lizette was vreeslik lief vir haar yorkie, Roxy. Foto verskaf

Vir die betraande Christa Deacon (57), die vermoorde Lizette se skoonsuster, is alles nog onwerklik.

“Ek het nou net hier loop en vra: ‘Ouma Hettie, sien jy al die blomme?’ So asof sy nog hier is. Hulle was baie geliefd.”

Lizette se skoonsuster, Christa Deacon, by die rui
Lizette se skoonsuster, Christa Deacon, by die ruikers wat mense van Polokwane voor die Ocean Basket kom lê het. Foto: Sharon Seretla

Maar daar was klaarblyklik geen liefde in die harte van die mense wat die twee vroue in hul meenthuis oorval, met messe vermoor en toe hul bebloede lyke in die kattebak van ’n motor gelaat het nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, ’n polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig twee mans is kort voor ons druktyd aangekla en sou Dinsdag 15 September in die hof verskyn.

Die motief agter die wrede moorde is nog ’n raaisel.

Daar waar hulle nou is, aan die voete van Jesus, het hulle vrede.

“Dis bitter moeilik om te dink aan die wreedheid wat hulle in hul laaste ure moes verduur, om te probeer verstaan hoekom sulke lieflike mense daardeur moes gaan,” sê Christa. “Vir my was hulle nie skoonfamilie nie; hulle was soos my eie ma en suster.”

Haar man, Quinton (58), is nog te emosioneel om oor sy ma en suster te praat.

“Hulle was verskriklike gelowige mense, en ons vind troos daarin. Dit waardeur hulle gegaan het, is nou verby,” sê sy. “Daar waar hulle nou is, aan die voete van Jesus, het hulle vrede.”

Donderdag 10 September het nes enige gewone dag begin. Hoe en waarom dit in so ’n onbeskryfbare hel vir ma en dogter verander het, is die raaisel wat hul geliefdes folter.

Christa vertel Lizette het daardie dag haar hare laat doen, waarna sy sou gaan kuier het by ’n vriend wat in dieselfde meenthuiskompleks as sy en haar ma woon.

Sy moes ’n helse fight opgesit het; daar was bloed in haar slaapkamer.

“Maar Lizette was baie perfeksionisties. Sy het baiekeer, nadat sy by die haarkapper was, huis toe gegaan en haar hare self oorgedoen. Dalk is dit hoe sy in die leeu se bek vasgeloop het,” meen Christa.

“Ouma moes by die huis gewees het, en die verdagtes moes haar eerste oorrompel het. Sy moes ’n helse fight opgesit het; daar was bloed in haar slaapkamer.

“En toe kom Lizette daar aan . . . ”

Lizette se vriend het haar omstreeks seweuur die aand gebel. Daar was geen antwoord nie. Later het hy na Hettie en Lizette se wooneenheid in die gegoede Alpetra-kompleks gestap.

“Toe sien hy daar is groot fout.”

Maar toe kry ons die Vrydag die oproep hulle is gekry, agter in die kattebak, en hulle is dood . . . 

Hy het die polisie ontbied en ook vir Quinton en Christa in Kaapstad gebel.

“Hy het gesê Lizette-hulle is ontvoer en daar is bloed in die kamer,” vertel sy.
Lizette se wit Honda-voertuig was ook weg, en die polisie het dadelik ’n groot soektog daarna begin.

“Ons het bly hoop hulle sou veilig wees en het almal moontlik gebel. Maar toe kry ons die Vrydag die oproep hulle is gekry, agter in die kattebak, en hulle is dood . . . ”

Sy staar ’n oomblik swygend voor haar uit. “Dis swaar om aan die wreedheid daarvan te dink. My skoonma was ’n baie sensitiewe mens.”

Volgens die polisie is die twee die aand tussen ses- en agtuur in Lizette se wit Honda uit die meenthuis geneem. Hul bankkaarte is op ’n kassie gelaat, en ’n ­televisiestel op die vloer.

Ure later is Lizette se motor sowat 25 km van Polo­kwane deur die polisie van die pad afgedwing. ’n Man het uitgespring en te voet gevlug.

Lizette en haar ma, Hettie, se lyke is in hul moto
Lizette en haar ma, Hettie, se lyke is in hul motor gevind. Foto: SAPD


Toe die polisie die kattebak oopmaak, het hulle die bebloede lyke van Hettie en Lizette aangetref, hul hande met kabelbinders agter hul rûe vasgemaak.

“Ons wil net antwoorde en geregtigheid hê. Hulle was vreeslik geliefd in ­Polokwane. Die hele stad treur en is woedend,” vertel Christa.

In hul rou klou die familie vas aan hul mooi herinnerings aan ma en dogter wat saam gesterf het.

Christa vertel vir Hettie en Lizette was familie allerbelangrik. Almal het jaarliks by hul vakansiehuis op Mosselbaai saamgetrek.

“Ouma was dol daaroor wanneer almal saam bordspeletjies speel. Haar kleinkinders was haar alles.”

Christa en Quinton het drie kinders: Xavier (31), Xante (30) en Xijon (18).

Lizette het nooit getrou of kinders gehad nie, maar was ’n “tweede ma” vir haar broerskinders.

“Lizette het ’n intense vermoë gehad om te luister; ek dink dit is hoekom mense so mal was oor haar.”

Hettie en Lizette was albei lief daarvoor om tennis en rolbal te speel.

Christa en Lizette het saam die eerste Ocean Basket-restaurant in The Mall of the North gekoop. Later het Christa-­hulle Seepunt toe getrek, en Hettie het Lizette gehelp om die restaurant te bestuur. Ten tyde van hul dood het Lizette vier Ocean Basket-restaurante gedeeltelik of ten volle besit, met haar ma wat haar gehelp het om dit te bestuur.

Oor die toekoms van dié restaurante sal later besin word.

Ocean Basket Savannah Mall would like to inform you about the passing away of Ocean Basket Savannah Mall Owner's...

Posted by Ocean Basket Savannah Mall on Monday, 14 September 2020

“As familie koester ons nie ’n wrok nie. Ons wil net hê iets betekenisvols moet uit hul dood kom,” benadruk Christa.

Hier in die Ocean Basket vertel die bestuurder, Petros Lehutso, hy sukkel om die moorde te verwerk. “Ouma Hettie was nog die dag van haar verdwyning hier . . . ”

Volgens hom was albei geliefd onder werknemers. “Ek kan nie vir jou sê hoeveel van die mense hier gehuil het nie. Ek voel of ek my ouma en my ma verloor het.”

Lizette het die personeel op die hart gedra. “As jy gesukkel het, en al het jy vandag geld gekry, sou sy jou sommer R2 000 voorskiet. Sy het regtig omgegee.”

Dia van Staden en Lizette het as eerstejaarstudente aan die Potchefstroomse Onderwyskollege hegte vriendinne geword. Nes Lizette het Dia nooit getrou nie. “Ons het altyd gespot ons gaan saam op die ouetehuis se stoep sit,” vertel Dia.

“Dis haar menswees, haar omgee wat dié so ’n groot tragedie maak,” sê sy.

Ons het baie saamge­kuier. Sy was so ’n mensemens, so warm.

“Sy het vir mense ’n tweede en ’n derde kans gegee. Sy het dwelmverslaafde werk­nemers gehelp om skoon te kom. Lizette het nie kwaad geken nie.”

Lucas Kreet, ’n restaurantgas, onthou: “Hettie sou oor jou kom uitvra en onthou wie jy is. Almal is geskok.”

Riaan Grobbelaar, ’n oudvervaardiger van Groot FM, onthou weer Lizette se fyn humorsin. “Ons het baie saamge­kuier. Sy was so ’n mensemens, so warm.”

Sowat 500 Polokwane-inwoners het ná die moorde by die restaurant ’n gedenkdiens en protesoptog teen geweld teen vroue en kinders gehou.

“Almal ken hulle. Hulle was altyd vriendelik en het die ekstra myl vir hul kliënte gestap,” vertel die organiseerder, Adéle van der Linde.

Buite die restaurant, op pad terug na die motor, hang die soet blommereuk van rou steeds oor alles.

Want ook in die tyd van die corona­krisis, bly die golf van misdaad iets wat sin verswelg.

Nuwe verwikkelinge

Sedert die artikel in Huisgenoot verskyn het, is Advanced Amid (30) en Casper Mudau (35) – albei van Zimbabwe – in verband met die moord in hegtenis geneem.

Hulle het reeds op 15 September in die hof verskyn en die saak sal op Vrydag 25 September weer voor landdros Janine Ungerer voorkom.

Netwerk24 berig verder Sophy Mmako, die 51-jarige huishulp wat vir Lizette gewerk het, en haar kêrel, Lazarus Mahlo (41), is ook in hegtenis geneem.


Hulle het op 21 September in die Polokwane-hof verskyn op aanklagte van moord, huisroof en ontvoering en sal in aanhouding bly tot hul hofverskyning op 25 September.

Bronne: netwerk24.com, news24.com, reviewonline.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe