Alex White het eers gedink hy kyk na ’n tamaai wurm toe die klein reptiel onlangs lui-lui sy verskyning maak tussen die twee koppe langblaarslaai in ’n dubbelpak wat hy by ’n tak van die Aldi-supermarkgroep in Sydney gekoop het.

Maar hy het gou besef hy kyk na iets ontstellender.

“Ek het soort van heeltemal die horries gekry toe ek skielik hierdie tongetjie sien flikker en besef dis ’n slang, want wurms het nie tonge nie,” het Alex aan Associated Press vertel.

Ná heelwat kommunikasie en foto-uitruilery met natuurbewaringsmense en reptielkenners het hy uitgevind die ‘wurm’ is ’n jong bleekkopslang (Hoplocephalus bitorquatus).

Hoewel dié kalant nie dodelik is nie, is hy giftig genoeg om baie onaangename simptome te veroorsaak, insluitend hewige hoofpyn, aangetaste sig, pyn in die weefsel rondom die bytplek en abnormale bloeding. 

Alex het ook van ’n kenner verneem as een jou pik, moet jy dadelik hospitaal toe. Bleekkopslange is ’n sku spesie, maar raak gou aggressief en pik herhaaldelik wanneer hulle vasgekeer word.

Die een in Alex en sy Duitsgebore maat, Amelie Neate, se slaai was wel net omtrent 20 cm lank en nog nie uitgegroei nie. Maar volgens Grant Pattison van die Australiese wildlewe-reddingsorganisasie WIRES, wat Alex-hulle ontbied het, “was dit reeds so giftig soos wat dit ooit sal wees.

“Dis die eerste slang wat ons nog in verpakte, verseëlde varsprodukte gesien het. Ons vind wel dikwels paddas daarin.”

Facebook/Environmental News
Facebook/Environmental News

Die Aussie-gesin se slaai-pasella het blykbaar sowat 900 km ver van ’n verpakkingsaanleg in Toowoomba ongemerk saamgereis na die Aldi-winkel waar Alex inkopies gedoen het. Die supermark se koueketting het die koudbloedige knaap in ’n toestand van semi-hibernasie gehou.

Aldi het met ’n ietwat luimige verklaring op die verleentheid gereageer: “Ons het saam met die klant en WIRES gewerk om die slang se natuurlike habitat te identifiseer, wat vir seker nie ’n Aldi-winkel is nie!”

WIRES het intussen op hul Facebookblad gesê een van hul slangkenners het die verstekeling in bewaring geneem, waarna sy toestand versigtig gemonitor en hy voorberei is op vrylating. Dis hul beleid om ontwortelde diere sover moontlik terug te neem na waar hulle vandaan kom, al is dit ook hoe ver.

Die slang is dus heelpad terug na Toowoomba vervoer, waar hy losgelaat en blykbaar dankbaar in die ruigtes verdwyn het.

Tuis het Alex intussen sy slaai geëet.

“Ek het dit deeglik gewas. Daar was iets wat na slangpoef gelyk het, maar ek het dit goed afgewas en 'n slaai-pita geniet,” het hy aan The Guardian gesê. Hy het voorheen nooit regtig geluister wanneer ander sê 'n mens moet jou groente was nie, maar het nou sy les geleer, het hy met 'n glimlag vertel.

Bronne: abc.net, apnews.com, WIRES, theguardian.com, YouTube