Dit is wat met die ouerpaar Martin (26) en Careen Els (27) van Middelburg, Mpumalanga, gebeur het terwyl hul seuntjie, Ryan (3), wat serebraal gestremd is, in die sorg van Clever Kidz-kleuterskool op die dorp was.  

Op 30 September het Careen ’n oproep van die skool ontvang dat sy inderhaas na Life Med-hospitaal toe moet gaan, want Ryan kry nie asem nie. 

“Ek was by die werk,” vertel Martin. “Ons babadogtertjie is onlangs gebore en Careen is by die huis met kraamverlof.

“Sy het my histeries gebel en gesê ek moet haar kom haal; daar is iets fout met Ryan.” Toe hulle by die hospitaal aankom, het dokters reeds gespook om hom by te bring. 

Ná sowat 37 minute het hulle hom dood verklaar. “Ons is onseker oor wat gebeur het,” sê Martin, ’n tegnikus by myne. 

“Soos ons verstaan, het die kinders die dag klaar geëet en Ryan is ná ’n uur van etenstyd neergelê om te slaap.

“Dit is toe dat hy nie meer asem kon kry nie en die onderwyser hom aangetref het waar hy blou in die gesig is.” 

Martin voer egter aan dit maak nie vir hom sin nie. 

“Die onderwyser het glo ’n matras gaan bêre, en was vir 30 sekondes weg toe Ryan ophou asemhaal.

“Ons dink hy moes aan sy kos verstik het.” 

Hy sê daar is nou ’n groot leemte in hul familie. “Met ’n kind soos Ryan offer jy baie van jou tyd op. Skielik is daardie roetine net weg en jy sit met tyd op jou hande en weet nie wat om te doen nie.” 

’n Polisieondersoek is intussen van stapel gestuur om die oorsprong van Ryan se dood te bepaal.

Volgens Susan du Plessis, die hoof van die kleuterskool, het Ryan se dood hulle diep getref. 

“Ons almal was mal oor hom en sy onderwyser ontvang tans berading.

“Ryan het baie keer aanvalle gekry waar hy vir ’n paar sekondes ophou asemhaal het. 

“Daar was glad nie braaksel op die kussing waar hy gelê het nie.” 

Sy sê toe hulle besef Ryan haal nie meer asem nie, het een van die onderwysers vir hom mond-tot-mond-asemhaling probeer gee. 

“My seun het voor die kleuterskool gestop en inderhaas met Ryan hospitaal toe gejaag, maar dit was te laat.

“Sy dood het ons almal geruk. Hy was mal oor skool en ons gaan hom baie mis.”