Odette Dagnicourt (33) en haar sesjarige seuntjie, Jean-Stevens (JS), is dood in die brand wat vroeg Sondagoggend in Odette se huurwoonstel ontstaan het.

Tyrone Bruwer (34), ’n vriend wat die aand by hulle in die sitkamer oorgeslaap het, het die brand oorleef en is in ’n kritieke toestand in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar hy vir sy ernstige beserings behandel word.

Daniel van Heerden (32), Odette se kêrel van die afgelope agt maande, vertel hy was weens die inperking nie Saterdagaand saam toe Odette saam met haar sussie en ander familie op dié dorp gaan braai en kuier het nie.

“Dis ’n groot skok,” het Daniel Woensdag aan Huisgenoot gesê. “Ek voel nog baie deurmekaar, want ek was nie daar nie. Ons sou hierdie naweek ’n plan gemaak het om mekaar te sien. Ek voel stukkend. Ek voel asof ek verlore is sonder haar. Dit raak baie aan my en aan almal. Dit voel asof iemand my hart gevat het en dit in stukke gemaak het . . . Sy was my lewe en sal altyd my lewe wees.”

Die puin van die huis in Bostonstraat, Secunda. Fo
Die puin van die huis in Bostonstraat, Secunda. Foto: Verskaf

Odette se familie en vriende het in die eerste ure ná die brand verbete na Odette, JS en sy sussie, Shianette (12), gesoek.

Huisgenoot het verneem die nooddienswerkers op die toneel kon hulle aanvanklik nie opspoor nadat die brand geblus is nie. Daar is gehoop hulle het dalk uit die brandende woonstel gevlug.

Shane Janse van Rensburg (37), Odette se eksman JS en Shianette se pa, het bevestig Shianette is veilig nadat dit aan die lig gekom het sy is nie die aand saam met haar ma en boetie terug huis toe nie.

Shane was stukkend toe Huisgenoot Woensdagoggend met hom praat.

“My seuntjie is dood... Ek weet nog self nie presies wat gebeur het nie,” sê hy.

Kapt. Gerhard Elmes, polisiewoordvoerder het aan Huisgenoot gesê: “Daar is eers ’n saak van vermiste persone ondersoek, aangesien die ma en seuntjie nie in die huis opgespoor kon word nie. Maar die oorskot van twee mense is wel later gekry.”

Daniel vertel hulle sit nog die legkaartstukke bymekaar.

“Odette het haar sussie so 03:30 gebel om te sê hulle is veilig en by die huis, en dit was die laaste wat ons gehoor het dié Sondagoggend.”

“Ek het nie eens geweet Tyrone was ook in die huis nie.”

Tyrone is die ekskêrel van een van Odette se vriendinne. Volgens sy Facebookblad is hy ’n gehaltebeheerspesialis by die plaaslike Sasol-aanleg.

Daniel vertel Odette het die dubbelverdiepingwoonstel op die erf van die hoofhuis gehuur. Net die woonstel het afgebrand.

“Ek dink die mense waar sy gebly het, het gesê die brand het omstreeks sesuur die oggend ontstaan. Die vriend (Tyrone) het gehardloop om hulle te vra vir hulp, maar dit was te laat. Hulle kon nie op die tweede verdieping gaan nie.”

“Ons het nog baie vrae, maar die mense waar sy gebly het sê hulle dink dit is dalk ’n elektriese verwarmer wat dit kon veroorsaak het.”

Shinene Martins (32), Shane se suster, het nie kans gesien om met Huisgenoot te praat nie.

Sy het op Facebook wel ’n roerende huldeblyk aan Odette en JS geskryf: “My liefste dierbaarste seuntjie, JS, my hart is in stukke! Jy was prem gebore en was net vyf daggies oud toe pappa en mamma jou vir my kom wys het in Pretoria.

“Daai naweek het jy opgehou asemhaal en het jy leweloos en potblou in my arms gelê en ek kon jou lewe red. Ek en pappa kon jou betyds by die hospitaal kry en Liewe Jesus het jou vir nog 'n rukkie vir ons geleen. Van daardie dag af was jy my hart se punt, en tannie het nog altyd gespog oor ek die eer gehad het om jou asem terug in daai lyfie in te blaas. En nou... Ek wens ek was daar, ek wens ek kon help!

“Maar kom ons onthou die goeie dinge gou, al die foto’s waar jy jou tongetjie uitsteek of daai gesiggie so trek was die beste gesiggie wat ek nog kon kry as ek vir ’n baba so sit en suurlemoene voer. Daai windgathouding en daai frons op jou gesiggie as jy nie jou sin kry nie was altyd so flippen oulik...Ek gaan jou vreeslik verlang, boeta! My coolste dude ever!”

Aan Odette het sy geskryf: “Sussa, ek en jy... Jo, ons twee kon baklei! Maar as ons nie met mekaar baklei het nie, het ons vir mekaar baklei...

“Hierdie is die seerste seer wat ek in my lewe nog gevoel het. Dit voel of ek nie asem kry nie, my kop wil bars en die ergste van als is, ek weet soveel mense het nou so seer, en vir die eerste keer in my lewe weet ek nie hoe om te troos nie! Jou ma, jou sussies jou hele familie! Jou kant en my kant!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe