Toe die jong prokureur onverwags sterf, het die geskokte gemeenskap van Vryheid in KwaZulu-Natal getreur. Adriaan Venter (34) was gelief op die dorp en het agting afgedwing met sy suksesvolle eenmanpraktyk. In sy stylvolle kantoor was portrette van wilde diere teen die muur en aan die meubels kon jy sien dié regsman het gesofistikeerde smaak.

Die blaadjie wat rouklaers by sy begrafnisdiens ontvang het, was lywig, met opstelle van gloeiende huldeblyke deur geliefdes en vriende. Hulle het ongetwyfeld hartseer afskeid geneem van ’n goeie boerseun en gesiene man in hul midde.

Niemand sou dink hulle treur verniet nie.

Sy ma-hulle was verslae toe hulle van sy dood hoor.

“Ek het regtig gedink hy is ’n goeie mens,” sê ’n ou skoolvriend van Adriaan wat anoniem wil bly. “Hy het my ’n paar keer uitgehelp toe ek in die moeilikheid was. Toe ek uitvind hy het ons almal om die bos gelei, was dit vir my ’n baie groot verrassing en ’n groot hartseer.”

Adriaan het inderdaad soos Lasarus uit die dood opgestaan.

Vyf maande ná sy “dood” moes sy geliefdes hoor hy is vroeg in Desember saam met sy meisie, Rozanne Vosloo (24), op pad na die Koning Shaka-Internasionale Lughawe by Durban deur die polisie vir beweerde versekeringsbedrog aangekeer.

“Sy ma-hulle was verslae toe hulle van sy dood hoor,” sê Jannie Jordaan, ’n prokureur op Vryheid. “Ek kan net dink wat nou deur hul kop moet gaan. Ek dink hulle is stukkend.”

Op 25 Julie verlede jaar het sy ouers, Frik en Remertha Venter, die slegte tyding gekry dat Adriaan daardie dag in KwaMashu, noord van Durban, aan ’n hartaanval beswyk het. Sy ouers het nie gereageer op Huisgenoot se versoek vir ’n onderhoud nie.

“Dit was vir ons almal baie vreemd,” sê Pierre Rousseau, ’n eiendomsagent en vriend van Adriaan, oor die prokureur se skielike dood. “Hy was nie die soort ou wat in townships uithang nie. Wat sou hy daar gaan maak het?”

Sy aptekersmeisie, Rozanne, het haar hart uitgestort in die begrafnisblaadjie en tydens die roudiens.

“My liefste Adriaan,” het haar skrywe begin. “Van die eerste dag dat ek jou ontmoet het, het ek geweet hier begin my moeilikheid. “Ek het jou keer op keer gevra wat is jou ‘flaws’, want ek het geweet niemand is perfek nie.”

Min het Rozanne besef in watter moeilikheid sy haarself saam met Adriaan sou begeef. Want nou is sy dalk as medepligtige by ’n moontlike bedrogsaak betrokke.

Sy meisie, Rozanne Vosloo. Foto: Verskaf

Die inwoners van Vryheid het Adriaan met hul sake vertrou. “Hy het my aktes gedoen vir die eiendomme wat ek verkoop het,” vertel Pierre. “Sy werk was altyd goed en professioneel. Ons was nie agterdogtig nie.”

Pierre het ook in die begrafnisblad ’n huldeblyk gelewer: “My vriend, Adriaan. Dit is moeilik om in woorde om te sit presies hoe ek voel . . .

“Ek is hartseer dat jy in hierdie vroeë stadium van ons af weggeneem is, dit voel of daar nog so baie is wat ons moes doen.”

Maar vandag voel hy bedrieg en om die bos gelei, sê Pierre. “Dit het ons dronkgeslaan. Alles het so vinnig gebeur.”

Die Newcastle-prokureursfirma DBM Prokureurs het verlede Mei ’n ondersoek begin nadat vermoedens na vore gekom het dat Adriaan trustees se geld wanbestee het.

Die voorsitter van die Prokureursorde in KwaZulu-Natal, Asif Essa, het volgens News24 gesê hulle het ’n klag ontvang dat R3 miljoen na bewering uit Adriaan se trustrekening verdwyn het, “maar in ons ondersoek het geblyk dit was dalk nader aan R4,5 miljoen”.

Waar Adriaan hom in die vyf maande voor sy inhegtenisneming bevind het, weet niemand.

Die Prokureursorde het by die Pietermaritzburgse hooggeregshof ’n aansoek ingedien om hom van die rol te skrap en dié aansoek is op 24 Julie in ’n tussentydse bevel toegestaan.

“Die hof het die Maandag die bevel gegee dat die Prokureursorde kan voortgaan met die proses, en die Dinsdag is hy dood,” vertel Pierre en sê hy en prokureurs op die dorp het dit baie vreemd gevind.

Volgens Asif is die aansoek ná Adriaan se dood laat vaar, “maar daar is nou weer ’n ondersoek begin om die verdagte omstandighede te ondersoek”.

Volgens kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, is die saak aan die Valke oorhandig. “Hy het my groot skade berokken,” vertel Abrie Kilian, Adriaan se voormalige vennoot en ook ’n prokureur op Vryheid.

Volgens Abrie het hy Adriaan reeds in November 2016 by die Prokureursorde verkla, maar die saak is eers in Junie verlede jaar by die hof ingedien. “Hoewel ons sakevennote was, was ons firma nooit ’n vennootskap nie. Hy het die trustrekening alleen behartig en bestuur. Dit was ongelooflik frustrerend.”

Die laaste keer dat hy en Adriaan gepraat het, het Pierre ook onraad vermoed. Dit was ’n week voor sy “dood” en Adriaan het hom by sy kantoor kom sien.

“Hy wou verskoning vra vir die geld wat steeds uitstaande was.”

Die begrafnisbrief waarmee die jong Adriaan se hartseer familie en vriende verlede jaar van hom afskeid geneem het.

Volgens Pierre het Adriaan die Saterdag voor sy “dood” sy prokureursvriend Gerrie Grové gekontak en hom gevra om die eksekuteur van sy boedel te wees. Huisgenoot het Gerrie gekontak, maar hy het nie op oproepe of WhatsApp-boodskappe gereageer nie.

“’n Lykskouing is nooit gedoen nie. Ek was onder die indruk sy ouers het sy lyk gaan eien en het eers later verneem Rozanne het Durban toe gegaan om dit te doen,” vertel Pierre. Sy het glo ná die uitkenning sy “lyk” veras voor sy terug is Vryheid toe.

Adriaan sou waarskynlik nooit uit die dood opgestaan het as dit nie vir sy lewensversekering by Liberty Life was nie. Toe Rozanne glo ’n maand ná sy dood met ’n vervalste doodsertifikaat die eis indien, het die versekeraars onraad vermoed.

Nerina Bodasing, woordvoerder van Liberty Life, het net bevestig ’n verdagte en ’n medepligtige is in hegtenis geneem. Nqobile het bevestig Adriaan en Rozanne is by die lughawe aangekeer.

“Die verdagtes het na Mauritius probeer vlug,” sê sy. “Hulle het glo op 28 Augustus ’n vervalste doodsertifikaat by die versekeraars ingedien en dit het tot die ondersoek gelei.”

Die vervalste doodsertifikaat.

Nadat die twee op 13 Desember aangekeer is, was hulle in aanhouding, maar hulle is op 15 Desember vrygelaat. Volgens Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die saak weens ’n gebrek aan bewyse nie op die hofrol geplaas nie.

“Die staatsaanklaer is besig om die polisie met hul ondersoek by te staan,” het sy gesê. In dié stadium is daar nog geen hofdatum nie.

Waar Adriaan hom in die vyf maande voor sy inhegtenisneming bevind het, weet niemand.

“Dit is vir ons almal ’n raaisel,” sê Jannie. Maar Rozanne het klaarblyklik voorgegee niks skort nie en was steeds op haar pos in die hospitaal op Vryheid.

“Sy het met tye gespanne gelyk,” sê Natasha Badenhorst, ’n klerk wat vir Adriaan gewerk het en met Rozanne bevriend was. “Sy het die afgelope vyf maande nie baie oor Adriaan gepraat nie.”

Volgens Natasha het Rozanne in dié tyd baie rondgereis en gesê sy gaan Durban, Pretoria of Kaapstad toe. “Ek weet nie of sy vir hom gaan kuier het waar hy geskuil het nie.”

Vir Natasha is dit ’n groot slag: “Ek kan nie glo hy het dit aan ons almal gedoen nie. Ek is swanger en nou sit ek sonder werk.” Volgens Abrie is Adriaan baie slim en het hy altyd die uiterste beproef om te sien of hy suksesvol sal wees, maar dié keer het hy misluk.

“Adriaan het nooit die kortpad gekies omdat hy lui was of nie die vermoë gehad het om die langpad aan te durf nie. Hy het die kortpad gekies omdat hy briljant was en om sy sukses te beproef.

“Ek het vir my vrou gesê as Adriaan wel sy dood vervals het, lê hy op die strande van Mauritius of Australië.”

  • Huisgenoot het die bewerings aan Rozanne gestuur, maar sy het teen druktyd nog nie op ons boodskappe gereageer nie.