Die oomblik toe ’n prokureur in die stort gevang i
Die oomblik toe ’n prokureur in die stort gevang is tydens 'n verhoor. Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

'n Brasiliaanse prokureur het 'n bietjie net te gemaklik geraak tydens een so 'n virtuele verhoor.

Die prokureur, wat deel is van die verdediging se regspan, het besluit om 'n stort te gaan vat terwyl die verhoor aan die gang was.

Die verhoor is deur die Brasiliaanse federale hof in Brasilië op ’n videokonferensieplatform aangehoor, en regter Jose Jacinto Costa Carvalho het stemuitslae voorgelees toe die een ding gebeur wat 'n mens seker wil hê moet nooit gebeur nie: Die prokureur verskyn poedelkaal op die skerm.

Hy stap doodluiters kaal by die stort in en laat die water vir 'n rukkie deur sy hare loop. Ná ’n paar sekondes klim hy uit om die  kamera op sy toestel af te skakel – vermoedelik omdat hy besef het dit is nog aan.

Dit laat die dronkgeslane regter Humberto Adjuto Ulhoa uitroep: “Daar’s ’n naakte burger voor die paneel. Wat gaan aan?”

Die oomblik toe ’n prokureur in die stort gevang i
Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Die episode het sowat 20 sekondes geduur en die hele video was op die federale hof se webtuiste beskikbaar tot dit net ná 18:00 op 8 April afgehaal is. 

Die hof het op ’n versoek van die plaaslike media-agentskap G1 gereageer deur te sê hulle “werk daaraan dat videokonferensieverhore met dieselfde gladheid, formaliteit en etiek gehou word asof dit verhore van aangesig tot aangesig is.

“Maar dit hang van elke deelnemer (regter, aanklaer, verdediger, prokureur, partye en getuies) af om op te tree met respek vir die formaliteit wat die ernstige daad vereis. Eindelik berus dit by die orde van prokureurs van Brasilië (OAB) om homself uit te druk rakende etiese kwessies waarby lede van die orde betrokke is.”

Die oomblik toe ’n prokureur in die stort gevang i
Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Toe hulle deur G1 gekontak is, het die OAB geantwoord hulle “het geen inligting oor die voorval nie”. Sedert die begin van die covid-19-pandemie vind federale hofsessies deur middel van videokonferensies plaas.

Ná die blaps het regter Ulhoa gekla: “Jy moet jou kamera ontkoppel. Die prokureurs hoef net by die videokonferensie in te gaan wanneer hulle ’n mondelingse verklaring moet maak. Jy kan nie so rondloop nie. Dit ou was kaal voor ons.”