Die 81-jarige Anna Kleynhans sê sy het haar boeglam geskrik toe sy haar foon verloor het. "Ons was besig met inkopies doen. Ek het my oë laat toets en tussen deur dit alles verloor ek toe my foon iewers. My hart het byna gaan staan toe ek in my handsak kyk en hy's nie daar nie," vertel sy aan Huisgenoot.com. 

Sy het natuurlik die ergste vermoed: dat haar selfoon gesteel is en sy hom nie weer gaan kry nie.

"Dis eintlik ongelooflik. Ek het onlangs een van my ore (gehoorapparate) verloor en oral daarna gesoek. Ek het dit darem ook weer gekry. Hy't onder my stoel gaan lê, weet jy. Ek's baie gelukkig, want jy weet 'n selfoon en ore is maar duur goed." 

Anna se kinders het verwoed gesoek na haar foon en haar nommer gebel. Hulle was baie verbaas toe die voormalige Springbokafrigter antwoord.

"Heyneke het toe gesê hy bring dadelik vir ons die foon." 

En het sy die man herken? "Nie dadelik nie. Toe hy my foon vir my gee, het ek dit gegryp en in my handsak gedruk. Ek's eintlik 'n groot Blou Bul, so toe hulle vir my sê wie dit is, het ons 'n foto saam hom geneem," sê Anna. 

Dié foto is deur haar seun, Neels Kleynhans, op Facebook gedeel met dié boodskap: "En daar verloor my Moedertjie haar selfoon in Pretoria, en kyk wie tel dit op en bring dit persoonlik terug na haar toe. Heyneke Meyer, jy is en bly 'n gentleman.

"Ek wens net my geliefde Bulle se oë gaan oop en stel jou weer aan as direkteur van rugby. Baie dankie aan jou vir hierdie onbaatsugtige gebaar. Min mense sou doen wat jy gedoen het. Jou naam was altyd hoog in my oë, maar ná hierdie daad is dit nou baie hoër."