Mense wat op straat vir suurstof bedel. Ander wat op hospitale se voorstoepe sterf omdat daar nie meer beddens beskikbaar is nie. Parkeerterreine wat in tydelike hospitale omskep word om meer pasiënte te huisves. Lyke wat in hope buite krematoriums veras word omdat daar nie meer plek binne vir die dooies is nie.

Dalk onthou jy nog die doemprofeet-scenario’s wat party mense ’n jaar gelede voorspel het as covid-19 onbeheers deur die wêreld sou woed. In Suid-Afrika is ons tot dusver genadiglik dié lot gespaar. Maar in Indië, die land met die wêreld se naasgrootste bevolking, speel hierdie hel op aarde tans af.

Die land oortref al wat ’n makabere covidrekord is. Onlangs het Indië op een enkele dag 300 000 nuwe infeksies aangeteken. En 3 000 covidsterftes word daagliks aangemeld. Dis net die amptelike syfers. In ’n land waar miljoene mense naamloos in massiewe krotbuurte woon en nooit by hospitale uitkom nie, is die eintlike syfers veel erger.

Massaverassings- terreine in Indië het die wêreld
Massaverassingsterreine in Indië het die wêreld ­geskok. Foto: Magazine Features

Wetenskaplikes sê daar is waarskynlik tussen dubbel en vyf keer soveel covidgevalle in Indië as die 3 miljoen wat tot dusver amptelik aangeteken is. Mutasies en variante van die virus versprei soos ’n veldbrand deur dié Asiese land, lê gemeenskappe lam en laat honderdduisende mense na asem snak.

“Die hospitale het nie plek vir die siekes nie, en die krematoriums het nie plek vir die dooies nie,” sê Aatish Taseer, ’n Indiese joernalis en skrywer.

“In my tuisstad, Nieu-Delhi, lyk dit soos die eindtyd.” Verpleërs en dokters begin hul skof direk nadat hul vorige skof klaargemaak het, met geen tyd vir rus nie. Sommige se familielede lê siek in die hospitaal waar hulle werk, maar hulle is te besig om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. “Die situasie is kritiek,” sê ’n dokter in ’n hospitaal in Nieu-Delhi. “Die volgende twee weke gaan louter hel wees.”

Die Kumbh Mela-fees het die verspreiding van die v
Die Kumbh Mela-fees het die verspreiding van die virus vererger. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters

“Ek het nog nooit soveel sterftes in ons waakeenheid aanskou nie,” sê ’n ander dokter wat met kritieke pasiënte werk.

“Ek kry omtrent 50 oproepe per dag van mense wat ekstra medisyne, beddens en suurstofsilinders vra. Ek het niks vir hulle beskikbaar nie. My pasiënte gaan dood.”

Indië het ’n bevolking van 1,3 miljard mense. Angs en paniek het dié menigte nou in hul greep. Harsh Vardhan, Indië se minister van gesondheid, belowe die land sal alles moontlik doen om die gety van nuwe infeksies in bedwang te kry.

“Ons sal die lug, spoorweë, paaie, see, hemel en aarde versit om covid- 19 se uitdagings te oorkom,” het hy getwiet. Maar mense is skepties oor die regering se beloftes. Veral omdat die ramp volgens baie mense die regstreekse gevolg van die premier, Narendra Modi, en sy regering se nalatigheid is.

’n Uitgeputte gesondheidswerker rus by een van die
’n Uitgeputte gesondheidswerker rus by een van die talle massaverassingsterreine wat opgeskiet het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy hubris, onbeholpenheid en gewetenloosheid is grootliks verantwoordelik vir dié katastrofiese tweede golf,” sê Aatish.

Die situasie in Indië lyk des te erger omdat dié land ’n paar maande gelede as ’n model vir ander voorgehou is. Toe was dié land se infeksiekoers aan die afneem, Indiese politici het gespog dat hulle die virus nek omgedraai het en hulle het selfs vir Amerika hulp gestuur. Modi het in Januarie verklaar die virus is verslaan nadat hulle verlede jaar inperkings en ander maatreëls ingestel het.

Daar was rede om optimisties te wees. Indië het op 16 Januarie mense begin inent, en in die daaropvolgende weke het 2,4 miljoen mense entstowwe gekry. Navorsing het dit laat lyk asof dele van die land groepimmuniteit ontwikkel het. Dit het so goed gegaan dat Indië ander lande begin help het.

Modi het sy land “die wêreld se apteek” genoem, en die meeste van die entstowwe wat daar vervaardig word, is na ander lande, waaronder Suid-Afrika, uitgevoer. Beperkings in Indië is toe verslap en mense is toegelaat om na hartelus na massabyeenkomste te gaan.

Die eerste gevaarligte het in die deelstaat Wes-Bengale opgeduik. Dié staat het in Maart en April ’n verkiesing gehou waarin mense in agt fases oor ’n tydperk van 34 dae gestem het, wat heelwat interaksie by die stembus beteken het. Op 20 Maart, toe die stemmery begin het, het die streek 3 380 covidgevalle gehad. Teen 26 April het dit tot 94 949 opgeskiet.

Gesondheids­werkers in beskermende drag.
Gesondheids­werkers in beskermende drag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die getal daaglikse nuwe gevalle het toe van 383 tot 15 992 gestyg. In die noordelike staat Uttarakhand het dinge by die Hindoe-saamtrek Kumbh Mela handuit geruk. Die fees, wat op 11 Maart gehou is, het derduisende mense gelok wat saamgedrom en hulle in die Ganges gedoop het. Die gevolg was dat minstens 1 600 mense by die saamtrek covid-19 opgedoen het, en baie van hulle het die virus na hul tuisdorpe teruggeneem, van waar dit verder versprei het.

“Die Kumbh-fees moes uitgestel gewees het,” sê die Indiese historikus Gopal Bhardwaj. “Die doel van dié godsdiensbyeenkoms is om mense innerlike vrede te gee, maar hoe kan jy vrede in jou hart hê as ’n geliefde covid-19 het?”

Nou staan die Indiese regering bont om ’n humanitêre ramp op te los. Die departement van gesondheid sê hulle het wel suurstof, maar sukkel om dit betyds van die fabrieke na die hospitale te kry. Geld is beskikbaar gestel om 551 nuwe suurstofverskaffers by hospitale landwyd op te rig. Medisyne soos Remdesivir, belangrik vir die behandeling van covid, is nou waardevolle kommoditeite.

Die gesondheidsminister, Harsh Vardhan, het mense
Die gesondheidsminister, Harsh Vardhan, het mense probeer gerusstel. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

’n Remdesivir-inspuiting wat gewoonlik die ekwivalent van R800 kos, word nou vir 10 keer soveel verkoop, sê dr. Aashish Chaudhry, ’n bestuurder van een van die hospitale wat die ergste met pasiënte oorlaai is.

Nou staan die Indiërs bakhand vir hulp by lande aan wie hulle vier maande gelede nog bystand verleen het. Pres. Joe Biden van Amerika het reeds laat weet hulle sal ventilators, toetse en beskermingsdrag vir dokters stuur.

“Net soos wat Indië hulp aan die VSA gestuur het toe ons hospitale vroeg in die pandemie gesukkel het, is ons vasbeslote om hulle ook te help,” het Biden getwiet. Nou word wyd geëis dat Modi bedank. Maar politieke ontwrigting is die laaste ding wat die land nou nodig het, sê Aatish.

“Almal bid vir iemand om te help.”

BRONNE: NEWS.SKY.COM, TIME.COM, SCROLL.IN, BBC.COM, REUTERS.COM, THEGUARDIAN.COM, WIONEWS.COM
Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, GALLO IMAGES/ REUTERS, RAJ K RAJ/HINDUSTAN TIMES/SIPA USA/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA