Hulle lewe net van dag tot dag. Elke dag word hulle wakker met die hoop op net ’n greintjie inligting om hulle aan die gang te hou.

Maar niks.

“Dit het my ma vernietig,” sê Linda Hamer (49) oor die treurspel waarin haar jonger suster, Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en hul boetie Simeon (10), op 10 Julie 2019 in hul gesinshuis in Sallies Village, Brakpan, koelbloedig vermoor is.

Sy vertel haar bejaarde ma, Levina Britz, kan dit glad nie meer hanteer nie.

“Wat dink jy doen dit aan ’n ma om nie te weet wie het haar dogter en haar kinders vermoor nie?

“Al wat hulle aanhou voor die lockdown nog vir ons gesê het, is: ‘die saak is in ’n sensitiewe stadium’. Dit is so goed jy belowe ’n kind ’n sweet, maar jy gee dit nie. Al wat ons vra is: waar is die dossier? Wat gaan aan? Wys dit vir ons.”

Levina Britz
Levina Britz is hartgebroke ná haar dogter en drie kleinkinders se dood. Hulle het in hulle huis in Brakpan gesterf. Foto: Onkgopotse Koloti


Nalatigheid of opset?

Huisgenoot het in Desember 2019 onthul die saak is van ’n geregtelike ondersoek na ’n moordondersoek verander en ook foto's uit die moordhuis gepubliseer.

Johan Schwartz, Sandra se man, se vuurwapen het langs Sandra se lyk gelê. Daar is eers vermoed sy het die kinders en toe haarself doodgeskiet, maar die voorlopige ondersoek sou gou wys Sandra het nie haarself geskiet nie.

Daar was onder meer geen kruit aan haar hande of klere nie. Sy is regshandig, maar is links bo haar oog doodgeskiet. 

Johan Schwartz buite sy huis in Brakpan waar hy sy vrou en drie kinders Woensdag dood aangetref het. Foto: Deaan Vivier
Johan Schwartz buite sy huis in Brakpan waar hy sy vrou en drie kinders Woensdag dood aangetref het. Foto: Deaan Vivier

Na verneem word, het Johan intussen teruggetrek na die moordhuis en woon hy nou daar saam met iemand. Johan voer aan hy was ten tyde van die moorde nie by die huis nie, maar by die werk.

Toe Huisgenoot Johan verlede jaar kontak, het hy begin huil en uit die Bybel aangehaal. Hy wou glad nie oor die moorde op sy gesin praat nie.

“Ons grootste vrees is dat die polisie of opsetlik die dossier laat wegraak het óf dat daar nalatigheid was en die dossier weggeraak het,” sê Linda. Sy sê hulle verhouding met Johan het reeds voor die moorde skipbreuk gelei nadat Sandra glo aanduiding gegee het sy gaan van hom skei.

“My suster het vingeralleen in daardie huis gestaan. Ons vrees dat hierdie saak gaan doodloop. As die dossier of enige bewyse weg is, wil ek nie eens daaraan dink nie. Hulle praat oor geweld teen vroue en kinders, maar hier is ’n ma en haar drie kinders vermoor en niks gebeur nie.”

Die polisie 

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het ’n week gelede aan Huisgenoot ontken die dossier is weg.

“Nee, die dossier is nie weg nie. Ek sukkel net om dit op te spoor.”

Die brigadier bevestig die ondersoekbeampte in die saak het onlangs afgetree. Sy het in die dae daarna ook gesê: “Covid-19 maak dinge baie moeilik. Ek sukkel om die inligting te kry, daar is mense in kwarantyn.” 

vertrek,brakpan
Foto: Verskaf
Brakpan-gesinsmoord. Foto verskaf
Brakpan-gesinsmoord. Foto verskaf
Brakpan-gesinsmoord. Foto verskaf
Brakpan-gesinsmoord. Foto verskaf

Huisgenoot het reeds op 19 Augustus die eerste keer per e-pos die polisie genader en aangedui die familie is gereed om na die media te gaan omdat hulle geen antwoorde kry nie.

Huisgenoot het toe eers probeer om namens die familie onder meer die volgende inligting te bekom:

  • Wie is in beheer van die ondersoek? 
  • Het die polisie al enige verdagtes geïdentifiseer?
  • Watter werk is reeds op die saak gedoen?
  • Is die ballistiese toetse voltooi?
  • Het die polisie al die verklarings afgehandel?

Maandagoggend kon die brigadier steeds geen inligting verskaf nie en sy het gesê sy sal dit weer “opvolg.”

Kan ’n dossier wegraak?

’n Gesoute speurder, wat oor dekades heen al vele korrupsie-, moord- en hofsake opgelos het, sê vertroulik aan Huisgenoot gesê dit is inderdaad moontlik vir ’n dossier om weg te raak indien die regte prosedures om dit veilig en op datum gehou te word, nie gevolg is nie.

“Dis maklik vir ’n dossier om weg te raak. . . Wanneer ’n dossier geregistreer word, moet fotostate daarvan gemaak word. As ek byvoorbeeld aan ’n ernstige saak soos ’n moord- of korrupsiesaak werk waar daar groot risiko is vir die dossier om te verdwyn, sal ek ’n duplikaat by my hou en die oorspronklike laat toesluit.

“Elke klagkantoor het ’n rekenaar waarin die verklarings soos ek dit inkry, geskandeer moet word, om sodoende ook ’n elektroniese afskrif te hê. As dit soos hierdie ’n hoëprofielsaak is, sal daar in die provinsiale kantore asook enige speurtak burgerlikes wees wat daardie werk vir jou doen.

“As hulle nie die dossier of antwoorde oor die ondersoek kan verskaf nie, sal ek die familie aanraai om dringend ’n klagte by die provinsiale speurhoof te lê. Dit help nie jy gaan na jou plaaslike polisiekantoor toe nie.”

Shereé Schwartz (19)
Shereé Schwartz (19)
Lee-Ann Schwartz (16)
Lee-Ann Schwartz (16)
Sandra Schwartz. Foto: Verskaf
Sandra Schwartz. Foto: Verskaf

Huisgenoot het die beampte gevra wat is ’n billike tyd vir die polisie om die dossier op te spoor.

“’n Dag. Dit is nie die polisiewoordvoerder se werk om die dossier op te spoor nie. Sy of hy kyk op die stelsel wie is die ondersoekbeampte, hulle bel die takbevelvoerder en vra ‘ek soek die dossier vanmiddag of môreoggend op my tafel’.”

Op ’n vraag wat sou gebeur het as die ondersoekbeampte sou aftree?

“Jy vat nie die dossier saam met jou nie! Daardie dossier moet onmiddellik eers afgeteken word aan iemand anders. Dis loutere k**.”

Linda sê die polisie moet net weet hulle gaan nie net terugstaan nie.

“Ons gaan dit nie los nie!” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe