In die jongste uitgawe van Huisgenoot vertel Mark in sy laaste onderhoud aan Marelize Potgieter hoe hy vir vir 30 jaar met die onthullings wat in die boek gemaak word, gespook het:


Soos ’n bloedhond wat ’n spoor vat, het hy destyds as polisieman die saak ondersoek van die beweerde seksuele aanranding van minderjarige seuns op ’n verlate eiland aan die Oos-Kaapse kus.

Mark Minnie wou die vermeende mishandelaars aan die kaak stel en reg laat geskied – selfs al was hulle van die magtigste en vernaamste mans in die land.

Hy het die een leidraad ná die ander opgevolg, maar moes eindelik noodgedwonge sy pogings laat vaar om die vermeende pedofiele voor die hof te bring. Maar nou, meer as 30 jaar later, het die verhaal van die seuns wat na bewering deur “wrede ooms’’ gemolesteer is eindelik op die boekrakke beland – en skokgolwe deur die land gestuur.

'Visvang-uitstappies'

Want in die boek getitel Die Seuns van Bird Island deur Mark en die oudjoernalis Chris Steyn word vinger gewys na genl. Magnus Malan, die voormalige minister van verdediging wat in 2011 op 81-jarige ouderdom dood is, en na nog twee oudministers in die destydse Nasionale Party-regering.

Die twee skrywers van die opspraakwekkende boek, Chris Steyn (links) en Mark Minnie, het destyds onafhanklik aan die saak gewerk.

Daar word beweer hulle het hoofsaaklik jong bruin seuns seksueel mishandel wanneer hulle vir “visvang-uitstappies” na Bird Island buite Port Elizabeth is. Hulle het glo met lugmaghelikopters daarheen gevlieg.

Die ander minister wat genoem word, is die voormalige minister van omgewingsake John Wiley, wat in 1987 vermoedelik sy eie lewe geneem het. Nou word in die boek beweer dit was dalk nie regtig selfdood nie en dat hy stilgemaak is . . .

John Wiley (links) en PW Botha.
Malan (links) saam met oudmin. Pik Botha.

Die naam van die derde minister, wat glo nog leef, word op regsadvies in die boek weerhou.

Ook 'n slagoffer

Die saak het deur die jare by Mark (58) bly spook, selfs nadat hy die polisiediens verlaat het. Die seuns se lot het hom aangegryp omdat hy self as jong seun ’n slagoffer van seksuele mishandeling was.

’n Oomblik lank is dit tjoepstil toe ons hom daaroor uitvra.

“Ek moes geregtigheid kry vir daardie seuns,” sê hy uit Port Elizabeth, waar Mark, deesdae ’n Engels-onderwyser in China, nou kuier.

“Dit was amper asof ek nie heeltemal besef het dat my eie ervaring ’n rol gespeel het nie. Maar dit was die onderliggende ding wat my gedryf het. Dit het my altyd bygebly. Wanneer ek televisie gekyk of terwyl ek in my motor gery het, het die gebeure deur my kop geflits.”

Mark wil nie besonderhede verstrek oor sy eie ervaring wat hy diep in hom weggebêre het nie. Hy bevestig net dat hy as laerskoolseun die slagoffer was van tweelingseuns in die buurt in Port Elizabeth waar hy grootgeword het.

Die punt van die ysberg

Maar noudat hy die seuns van Bird Island se verhaal vertel het, kan hy eindelik ’n mate van berusting vind.

In die twee dae sedert die boek verskyn het en Sondagkoerante oor die plofbare inhoud daarvan berig het, het Mark se foon nog nie ophou lui nie. Tussen al die oproepe en navrae deur het nuwe leidrade reeds na vore gekom, vertel hy.

Die opspraakwekkende boek Die Seuns van Bird Island.

“Ons weet nie presies hoeveel seuns betrokke was nie en ons weet nie hoeveel beseer is nie, maar hierdie (bewerings in die boek) is net die punt van die ysberg,” vermoed hy.

“Ons hoop regtig nog getuies kom na vore,” sê hy en klink weer na die bloedhondspeurder van ouds.

Die boek het Suid-Afrikaners soos ’n skop in die maag getref en het die land aan die praat, gis en wonder.

'Loutere kaf'

Terwyl die oudjoernalis en politieke kommentator Max du Preez aan Netwerk 24 gesê het die opspraakwekkende bewerings is niks nuuts nie en het as “skinderstories’’ in die tagtigerjare wyd die ronde gedoen, verwerp Magnus se familie die aantygings.

Hulle is uiters geskok en meen die uitsluitlike doel van die boek is om Magnus swart te smeer, het hul familiewoordvoerder, genl.maj. Gert Opperman, aan Huisgenoot gesê.

“Dit is nie die man wat ons geken het nie en dit is nie die man wat hy was nie. Hy was nie perfek nie. Niemand van ons is nie, maar dié ding was nie een van sy foute nie.”

Ook oudmin. Pik Botha, destyds minister van buitelandse sake, het die bewerings teen Magnus as “loutere kaf’’ afgemaak toe Huisgenoot sy kommentaar vra.

Magnus en Pik het destyds saam in die NP-kabinet gedien. Pik sê die bewerings teen Magnus is “loutere kaf”.

Bier en 'n boek

Waarom nou, ná al die jare, so ’n boek skryf? was van die vrae op talle lippe.

Die idee om ’n boek oor daardie onafgehandelde polisieondersoek van destyds te skryf het sowat twee jaar gelede in ’n kroeg aan die ander kant van die aardbol posgevat, vertel Mark.

Hy woon sedert 2007 in China, waar hy Engels gee. Hy was een aand saam met vriende daar in ’n kroeg toe hulle ’n nuwe gesig nooi om saam met hulle te kuier.

“Dit was ’n Frans-Kanadese man en hy het gesê hy is ’n skrywer,’’ vertel Mark van die toevallige ontmoeting wat verreikende gevolge sou hê.

“Ek het toe al ’n paar biere in en sê toe vir hom ek wil nog eendag ’n boek skryf.”

Mark het vir dié man van die destydse polisieondersoek vertel en almal het aan sy lippe gehang.

“Toe laat val iemand ’n bier en die storie was vergete.”

Pedofilie. Staatskorrupsie. Moorde. En hulle wou my doodmaak.

Die volgende aand was hulle weer in die kroeg toe die man wat hy die vorige aand ontmoet het vir Mark daar kom haal en vra hy moet weer die storie vertel. Die man het hom aangemoedig om die storie te skryf, maar Mark was onseker omdat hy geen skryfondervinding gehad het nie.

“Hy het vir my gesê ek hoef nie ’n skrywer te wees nie; ek moet net ’n stem hê en die storie vertel. Ons het mekaar tweeuur daardie oggend gegroet, want hy moes êrens heen vlieg,” onthou hy.

Die volgende oggend het hy ’n e-pos van die man ontvang. Ewe kripties het daar gestaan: “Pedofilie. Staatskorrupsie. Moorde. En hulle wou my doodmaak. F@k hulle. Ek is ’n geheime narkotika-agent in die Suid-Afrikaanse Polisie. Hier is my storie wat in Februarie 1987 begin. . .’’

Hy het met dié woorde solank die boek vir Mark begin, het sy nuwe skrywersvriend verduidelik. “Nou moet jy self verder skryf . . .”

Mark het begin skryf en sowat ’n jaar later sy manuskrip aan die uitgewer gestuur. Intussen het die uitgewer ook van Chris Steyn gehoor en dat sy die saak destyds as joernalis ondersoek het. Sy is gevra om ook haar storie te skryf sodat dit deel van Mark se boek kon uitmaak.

Chris en Mark het destyds onverpoos gewerk om die hooggeplaastes aan die pen te laat ry vir hul beweerde misdade. Chris se storie is later gepubliseer, maar die inhoud daarvan is erg afgewater.

Die begin

Die verhaal begin toe ’n vrou en haar tienerseun Mark in 1987 in sy kantoor in Port Elizabeth kom spreek het. Die seun was eers huiwerig om te praat, maar nadat Mark voorgestel het dat sy ma solank in die kantien gaan koffie drink, het die seun vir hom vertel mans maak sy ouer broer seer.

Dié was toe in die hospitaal met ’n anale besering. Die ouer broer het Magnus later as “ ’n wrede oom’’ beskryf en gesê hulle noem hom “Ore”.

Magnus Malan.

Hy (die ouer broer) het van “oom Dave” vertel wat glo seksuele dade op hom en ander seuns uitgevoer het. Die jonger broer moes soms toekyk.

“Oom Dave’’ was glo Dave Allen, destyds ’n flambojante sakeman in Port Elizabeth.

Mark het ’n lasbrief gekry om Dave se huis te deursoek en het op pornografie afgekom. In die motor op pad na die polisiekantoor het Mark vir hom gesê daar is getuies wat hom van seks met minderjarige kinders beskuldig.

“Skielik het hy die name van hooggeplaastes laat val.”

Name soos Magnus Malan, John Wiley en die ander minister, beweer Mark.

Twee sterftes

“Ek was heeltemal verstom. Ek kon nie glo wat ek hoor nie, maar het glad nie gereageer nie. Ek dink hy het homself uit die situasie probeer praat of dalk het hy gedink ek sal terugstaan as ek hoor met watter magtige mense ek te doen het.”

Dave is op borgtog vrygelaat, maar toe hy die volgende dag in die hof moes verskyn, het Mark die nuus gekry dat Dave homself daardie oggend oënskynlik doodgeskiet het.

Kort daarna het die staatsaanklaer Mark aangesê om verdere ondersoeke na die saak te staak. Amptelik was Mark se hande afgekap, maar hy het hom nie laat afskrik nie en het voortgegaan om inligting te versamel en leidrade op te volg. Die raaisel het verdiep toe John sowat ’n maand ná Dave se dood op ’n soortgelyke manier gesterf het. Ook hy het na bewering sy eie lewe geneem.

Mark het vermoed daar was ’n verband tussen die twee se dood en dat dit dalk nie selfdood was nie, maar moord. 

Verdwene dossiere

Hy het ook later op die skokverhaal afgekom van ’n jong bruin seun wat na bewering op Bird Island in sy anus geskiet is. Hy is daarna glo in groot geheimhouding in ’n provinsiale hospitaal behandel wat destyds net vir wit pasiënte beskore was.

’n Verpleegster het vir Mark vertel sy het dit vreemd gevind dat die seun streng bewaak is, met net die matrone wat by hom toegelaat is. Sy naam is ook nooit in die saal se toelatingsregister vir pasiënte aangeteken nie.

Groot was Mark se frustrasie toe die dossier met onder meer die verklarings van die twee broers wat die eerste klagte gelê het en ook die bandopname met die verklaring van die verpleegster uit sy kantoor verwyder is. Dit was glo in opdrag van ’n brigadier van die polisie se hoofkantoor in Pretoria.

'Van narkotika tot onlustepolisieman en informant'

Mark is ’n paar maande later van Port Elizabeth na die onluste-eenheid in Soweto oorgeplaas, glo omdat hy te veel beroering veroorsaak het.

“Van ’n polisieman in die narkotika tot ’n onlustepolisieman,” sê hy en lag toe hy hieraan terugdink.

Toe daar op ’n voertuig geskiet is waarvan hy ’n insittende was, het Mark gevrees dit was ’n aanslag op sy lewe. Hy het ook vermoed dat terwyl hy in Johannesburg gewerk het daar met sy voertuig by sy huis in Port Elizabeth gepeuter is. Want toe Bernadine, sy meisie en later sy vrou, daarmee ry, het rook by die enjin uitgeborrel.

Hy het probeer om terug te keer Port Elizabeth toe.

“Ek het ’n onderhoud met die brigadier daar gehad en hy het vir my gesê ek maak te veel moeilikheid met die Dave Allen- en die Ore-ding. En hy vra my toe hoekom ek dit nie kan los nie.

“Ek het vir hom gesê toe ek 12 jaar oud was, het dieselfde met my gebeur. Ek weet wat daardie kinders deurmaak.”

Die brigadier het voorgestel dat hy as polisieman uittree en as informant oor georganiseerde misdaad in Port Elizabeth begin werk.

Magnus en PW Botha het nou saamgewerk.

In daardie tyd het Mark stilletjies ’n nuwe dossier oor Bird Island se seuns begin saamstel. ’n Informant het vir hom vertel hy dink hy weet waar die seun is wat in sy anus geskiet is. Volgens hom was hy in ’n plek van veiligheid. Daardie aand het Mark die nuus met Bernadine gedeel.

“Ek was so bly en het gesê: ‘Ons het die seun gevind; ons het die seun gevind!’

“Sy het na my gekyk en gesê ek is ’n idioot. Om die eenvoudige rede dat ek nie meer ’n polisieman was nie en nie die mag gehad het om die saak verder te voer nie. Op daardie oomblik was die frustrasie net te veel. Ek het met my vuis op die televisiekas geslaan en vir haar gesê ek sal al hierdie nonsens laat staan. Dit was net nie meer die moeite werd nie.

“Ek dink sy was gefrustreerd en dit het baie druk op ons verhouding geplaas.”

Hy het daarna besluit om sy werk as polisie-informant te laat vaar en het met sy eie onderneming as ’n privaat speurder begin.

Dit kon nie sy en Bernadine se verhouding red nie. Hulle is in 1988 ná ’n verhouding van twee jaar getroud, maar het later geskei. Hulle het daarna weer versoen geraak, maar is in 1995 finaal uitmekaar.

Uit hul huwelik is ’n seun, Markus (nou 24), gebore. Hy het as 15-jarige seun by sy pa in China aangesluit. Mark is ook pa van ’n 13-jarige dogter uit ’n latere verhouding.

Met trane en ’n swaar hart het ek geweet hy was op die punt om hom in iets te begewe wat ek geweet het hom kon doodmaak.

In ’n roerende inskrywing op Facebook vertel Markus hoe trots hy op sy pa is.

“Nadat ek deur die eerste twee hoofstukke van die boek is, moes ek ophou. Met trane en ’n swaar hart het ek geweet hy was op die punt om hom in iets te begewe wat ek geweet het hom kon doodmaak. Ons het nog altyd verskillende menings oor dinge en sienings oor die lewe gehad.

"Ek het nooit verstaan waarom hy so kwaai maar so beskermend oor my was toe ek grootgeword het nie. Die storie het regtig my perspektief verander.”

“Ek is bly jy het die moed gehad om die goed uit die donker te bring,’’ skryf Markus vir sy pa en voeg by: “My gebede gaan na al die slagoffers uit.”

Dis die woorde van ’n seun wat die soort trauma gespaar gebly het wat selfs ’n geharde polisieman soos Mark lewenslank bygebly het – tot hy die pen opgeneem en eindelik die stilswye verbreek het oor die grudade wat na bewering dekades gelede op Bird Island gepleeg is.

Die eiland in die nuus
Die eiland in die nuus
  • Bird Island is ’n taamlik plat eiland van 19 ha groot sowat 60 km van Port Elizabeth. Dit maak sedert 2005 deel van die Addo-olifant- Nasionale Park uit.
  • Daar is net ’n rooi-en-wit vuurtoring en ’n ou verlate en verwaarloosde oppassershuis met ’n motorhuis op die ­eiland, vertel mense wat al die eiland besoek het.
  • Deesdae word slegs na­vorsers – en net een op ’n slag – op die eiland toegelaat, berig die webtuiste raggycharters.co.za
  • Jy kan wel teen R2 800 per persoon ’n bootvaart om die eiland onderneem en dit van die oop see bekyk, maar jy mag nie voet aan wal sit nie omdat dit ’n bewaringsgebied is.
  • Soos die naam aandui, is dit ’n para­dys vir seevoëls. Dit is die tuiste van meer as 270 000 molganse (“Cape gannets”), die grootste broeikolonie van dié voëls op aarde.
  • Afrika-pikkewyne maak ook nes op die eiland. Robbe is daar te sien en haaie sirkel om die eiland.

BRONNE: RAGGYCHARTERS.CO.ZA, MYPE.CO.ZA
FOTO'S: GALLO IMAGES/SUNDAY TIMES, BEELD/LEON BOTHA, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GOOGLE EARTH, WWW.RAGGYCHARTER.CO.ZA