Antje Teute (43), ’n perdeafrigter van Vechta, Duitsland, het ’n fraktuur opgedoen en ’n deel van haar skedel is ingeduik nadat ’n hings haar geskop het.

Weens bloeding op haar brein, was sy in ’n koma en dokters het voorspel dat sy nooit hieruit sou ontwaak nie.

Antje Teute
Antje Teute Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Hulle het voorts gemeen dat indien sy sou ontwaak, sy waarskynlik ernstig gestremd sou wees en nie kon beweeg of praat nie.

“Die dokter het gesê as ek oorleef, sou ek waarskynlik permanente sorg moes ontvang,” onthou sy.

Maar teen alle verwagtinge het Antje oorleef, en ná 10 groot operasies praat sy nie net nie; sy loop ook. 

Die fratsongeluk het drie jaar gelede gebeur toe Antje, ’n gekwalifiseerde perdeafrigter, ’n merrie by die stalle ingeneem het en ’n driejarige hings van agter in haar vasgehardloop en haar omgestamp het.

Sy het haar kop teen die klipvloer gekap en een van die hings se hoewe het in haar skedel ingeslaan. 

Met die operasies, waarvan die mees onlangse een in Mei was, is die gebreekte fragmente van haar skedel verwyder en dit het ’n duik in haar kop gelaat. Sy het intussen haar blonde hare laat groei om die grusame besering te verbloem.

“Gelukkig het die dokter se voorspellings nie in my geval waar geword nie, en ek is nie ’n 24-uur-geval nie. Ek kan weer praat, dink en sonder ’n rolstoel loop.” 

Antje Teute
Die ongeluk het drie jaar gelede gebeur toe die gekwalifiseerde perdeafrigter pas ’n merrie by die stalle ingeneem het toe ’n driejarige reunperd van agter in haar vashardloop en haar omstamp. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Maar nadat sy baklei het om gesond te word, wag daar nog ’n stryd: met die versekeringsfirma vir perde-eienaars. 

“Tot vandag toe het die versekering vir aanspreeklikheid vir perde-eienaars nog nie ’n sent betaal nie,” sê sy. “Op die oomblik is ’n skikkingsaanbod van R975 000 voor die hof wat ek nie kan aanvaar nie.” 

Haar tienerseun woon nou by haar eksman, en al het sy goed herstel, meen Antje sy kon ná haar ongeluk nie haar werk as maatskaplike klerk hervat nie.

“Ek kry net ’n klein pensioen en wie weet wat die toekoms inhou? Dalk het ek nog breinchirurgie of operasies nodig.” 

Sy sê sy wil nie van geliefdes afhanklik wees om te oorleef nie.

“Hoekom moet my ma, my eksman of my seun geldelik belas word om my te ondersteun net omdat die versekeringsmaatskappy nie sy verpligtinge wil nakom nie?”