Tog het ’n vrou van in haar 60's en haar dogter van die Rooihuiskraal-omgewing in Centurion dié botsing Dinsdagmiddag (3 Maart) by die Mall at Reds-winkelsentrum “wonderbaarlik” oorleef.

Hoewel dit teen Woensdagmiddag steeds onduidelik was wat presies tot dié ongeluk gelei het, is omstanders en nooddienspersoneel eens oor een aspek: Dit is ’n wonderwerk dat die vroue leef.

“Dit bly steeds onduidelik oor die gebeure voor die ongeluk. Die ma, wat die voertuig bestuur het, het beweer die bakkie het glo weens ’n meganiese fout skielik versnel. Dit het daartoe gelei dat sy beheer daaroor verloor het,” sê Ruan Heyns, ’n woordvoerder vir die Community Emergency Response Team. 

Rooihuiskraal-ongeluk
Nooddienspersoneel behandel die beseerdes op die toneel. Foto: JP le Roux/Monitor Net
Rooihuiskraal-ongeluk
Die bakkie het op sy dak te lande gekom. Foto: JP le Roux/Monitor Net

Ruan sê die vrou en dogter (glo in haar 40's) was net klaar met hul inkopies binne die sentrum toe die ongeluk gebeur het. Die Ford Bantam-bakkie was onderdak op die tweede verdieping geparkeer.

“Hulle het uit die parkeerterrein gery toe die voertuig versnel. Hulle het eers ’n ander motor gestamp en toe deur die baksteenmuur gebars. Dis byna 10 m grond toe. Die bakkie het eers op sy neus geland en toe op sy dak omgekeer,” sê hy.

Omstanders het die ergste verwag. 

“Die bakkie is ’n wrak. ’n Mens kan jou werklik nie indink dat iemand lewend uit daardie voertuig sou kom nie.”

JP le Roux, ’n woordvoerder van Monitor Net-sekuriteitsmaatskappy wat ook op die toneel was, beskryf die toneel as verwoestend. Hy sê selfs nooddienspersoneel was verbaas dat die vroue by hulle bewussyn was.

Rooihuiskraal-ongeluk
Die muur op die eerste verdieping waardeur die bakkie gebars het. Foto: JP le Roux/Monitor Net
Rooihuiskraal-ongeluk
Nooddienspersoneel behandel die beseerde vroue op die toneel. Foto: JP le Roux/Monitor Net

“Jy kan die toneel vir niemand beskryf nie. Dit was verskriklik. Maar ons is dankbaar dat die vroue albei veiligheidsgordels gedra het – ek glo dis wat eindelik hul lewe gered het,” sê hy.

’n Uur lange reddingspoging, waarby verskeie nooddienste en gemeenskapsforums betrokke was, het gevolg. Meganiese kake moes gebruik word om die twee beseerdes uit die wrak te bevry. Intussen is ’n nooddienshelikopter na die toneel ontbied om hulle so gou moontlik na die hospitaal te neem.

“Ons was verbaas toe ons die dogter – wat aan die passasierskant van die voertuig gesit het – uit die wrak bevry het en geen opmerklike beserings aan haar liggaam gesien het nie. Die bakkie was veral aan haar kant platgedruk,” sê Ruan.

“Daar was geen beenbreuke nie en geen lewensgevaarlike, opmerklike beserings nie. Sy is in elk geval met die helikopter na die hospitaal vervoer om seker te maak dat sy nie inwendig beseer is nie.”

Die ouer vrou is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Albei vroue was teen Woensdag glo stabiel, maar steeds in die hospitaal.

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, het die botsing aan Huisgenoot bevestig. Hy wou nie die vroue identifiseer nie. Hy sê die polisie ondersoek die voorval. 

Rooihuiskraal-ongeluk
'n Nooddienshelikopter neem die beseerde vrou na 'n hospitaal. Foto: JP le Roux/Monitor Net