Hy onthou die oomblik toe die brander oor sy kop breek; die slag ín sy kop – die gevoel asof iemand hom met ’n ongelooflike krag aan die binnekant van sy skedel geklap het.

Scottburgh-strand se water was rof op daardie Vrydagoggend, 30 Augustus, en die branders was ’n bietjie groter en sterker as gewoonlik, maar vir die ervare skubaduiker was dit nie te vreemd nie. Hy was daaraan gewoond dat die branders hom rondslinger, maar dié slag was iets anders.

En toe Connie Hallowell (48) se duikmasker pikdonker van die bloed raak, het hy dadelik besef: Hy’s nie bloot deur ’n brander of iets in die water getref nie – sy spies het uit sy visgeweer losgekom en sy gesig deurboor.

Connie, spies
Foto: Verskaf

“Ek het gedink die enigste ding wat dit kan wees, is my spies, want ek was al een daar buite in die see. Daar was niemand anders om my nie,” vertel Connie ’n paar dae ná die dramatiese ongeluk.

Dis ’n wonder hy en sy vrou, Cathy (47), kan Huisgenoot vandag ontvang by hul huis op Umkomaas in KwaZulu-Natal, want Connie se 1,5 m lange spies het in sy regterwang ingegaan en die punt daarvan het tussen sy linkeroog en -oor uitgesteek.

Die foto’s wat ná die ongeluk op die strand geneem is, wys sowaar hoe die spies deur sy gesig steek. Connie, ’n pastoor by die CityHill-kerk, vertel hy vermoed die krag van die brander het sy geweer teen die riwwe laat kap en het toe die spies losgelaat.

Die adrenalien het daar in die seewater ingeskop, en as ’n ervare duiker het Connie geweet hy moet kalm bly.

“Die ergste ding wat jy kan doen, is dadelik reageer. Jy moet verwerk wat met jou gebeur het,” verduidelik hy.

“Ek was net bewus van die spies wat nou aan my gesig vas is.”

Hy het daarin geslaag om sy kop bo die water te kry, maar kon nie die bebloede masker afhaal nie omdat die spies dit ook deurboor het.

Connie was sowat 20 m van die kus af, maar het besef hy moet iemand op die strand se aandag probeer trek. Hy het om hulp geskree.

“Ek het besef hoe meer ek praat, hoe groter is die kans dat ek bly leef,” sê hy.

“Ek wou hê mense moes weet ek is daar buite . . . ”

Vasbeslote om lewend uit die water te kom het hy blindelings en verward sy weg na die strand begin vind.

“Die water was in daardie stadium waarskynlik sowat ’n meter en ’n half diep. Ek het paddavoete aangehad en kon dus nie net uit die water stap nie,” vertel hy.

Connie, spies
Hy is per helikopter na die St. Anne’s-­hospitaal in Pietermaritzburg geneem. Foto: Verskaf

Maar al spartelend, strompelend en skreeuend het hy met sy beseerde lyf strandwaarts gebeur. En toe voel hy hoe die hande en arms van vreemdelinge hom op die sand uittrek.

Dit was plaaslike vissers en werkers van die strandwinkel daar naby wat sy krete gehoor en nader geskarrel het. Hulle was geskok toe hulle die duiker se deurboorde gesig sien en het dadelik ’n ambulans ontbied.

Connie was by sy volle bewussyn, maar omdat hy nie seker was hoe lank dit nog so sou bly nie, het hy vir die mense om hom gesê wat sy naam is en vir hulle Cathy se foonnommer gegee.

“Ek onthou ek het by die laaste vier syfers gekom en gedink: Dankie, Here, dat ek nommers kan onthou. My brein is steeds aktief,” vertel hy.

Terwyl hulle op die ambulans gewag het, het sy redders die stuk van die spies wat by sy gesig uitgesteek het met ’n hoekslyper korter gesny. Connie onthou die onbeskryflike pyn elke keer wanneer iemand aan die staaf geraak het. Op pad na die Netcare St. Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg het hy die paramedici hoor sê die metropolisie sou die M2-snelweg sluit om ’n helikopter te laat land wat hom hospitaal toe sou neem.

“Ek onthou ek het gedink: Sper hulle die snelweg vir my af? Vir wie word dít ooit gedoen?” lag hy.

Voor hulle die pad kon sluit, het Cathy – wat haar intussen na die hospitaal gehaas het toe sy hoor haar man was in ’n ongeluk – toevallig verby twee noodvoertuie gery wat langs die snelweg geparkeer staan.

Sy het stilgehou en vind toe uit haar man lê in een van die motors op ’n draagbaar – met ’n spies in sy kop.

“Ek het gesê ek neem dié foto, want dit gaan ’n wonderwerk wees,” sê Cathy nou.

die ekstraal
Dié skandering van Connie se kop wys hoe die spies deur sy sinusse is sonder om ernstige skade aan te rig. Foto: Verskaf

Intussen is ’n foto wat een van die omstanders ná die ongeluk op die strand geneem het aanlyn versprei; dit het van Connie se vriende en familielede bereik. Hulle het dadelik vir sy herstel begin bid, vertel die Hallowells nou.

Cathy het hul dogters, Cayla (20), wat argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, en Katie (16), wat toe pas vir ’n danskompetisie na Johannesburg vertrek het, gebel om hulle te waarsku om van die sosiale media weg te bly.

Die foto’s sou die situasie erger laat lyk as wat dit was, verduidelik sy.

“Ek het net vir hulle gesê wat hulle ook al doen, hulle moenie op enige sosialemediaplatform gebruik of enigiemand toelaat om vir hulle die foto’s te wys nie, want ons vertrou dit gaan ’n wonderwerk wees,” sê sy.

“En die verslag van die paramedici was ook goed, wat my regtig baie hoop gegee het.”

Teen die tyd dat Connie by die hospitaal gekom het, het sy temperatuur tot 35 °C gedaal. Die operasie is vir twee uur uitgestel sodat sy liggaam eers warm gemaak kon word.

Omstreeks drieuur die middag het die chirurg dr. Ciaran Lalor die staaf in ’n operasie van 45 minute verwyder.

“Hy het die spiespunt met ’n skroefbek vasgegryp en die ander punt twee tikke met ’n ortopediese hamer gegee en dit het net regdeur uitgekom,” verduidelik Connie.

Hy sê die dokter moes ’n plastiekskede in sy oogkas sit om te keer dat sy oogbal weens die skade aan sy gesig in die kas terugglip.

“Dus is ek nie ’n man van staal nie; ek is ’n man van Tupperware – elke vrou se droom,” sê Connie nou en skaterlag.

Hy is die Sondag, twee dae later, al ontslaan – die dokter het geen rede gesien om hom langer in die hospitaal te hou nie. Hy het uit die hospitaal gestap met net twee piepklein letsels aan sy gesig.

‘Toe dink God Hy sal my ’n bietjie heavy metal in die kop gee’

Toe Connie in die water besef die spies het in sy kop vasgesteek, was hy nie bang om te sterf nie, maar hy wóú leef.

“Te veel mense vrees die dood – hulle vrees die dood tot op ’n punt dat hulle nie leef nie,” sê hy.

“As jy ’n wonderwerk kon uitdink, is dié voorval ’n goeie voorbeeld. Tot by die feit dat Katie weg was toe dit gebeur het.”

Ná die operasie het ’n verpleegster vir hom gesê hulle is aangesê om voor te berei om hom aan ’n ventilator te koppel.

“Ek kon gesterf het. Buiten vermink wees, nie kan sien, praat of hoor nie, kon ek ’n buis in my lugpyp gehad en aan ’n ventilator gewees het,” sê Connie.

“Dit is hoekom dit net God kan wees wat my gered het. Dis ’n absolute, absolute wonderwerk.”

Connie
Connie wys waar die spies sy gesig deurboor het. Foto: Darren Stewart

Hy vertel hy het in sy 12 jaar van skubaduik al verskeie uitdagings trotseer, al kom niks naby aan dié jongste skok nie. Hy is al teen riwwe gestamp, en ’n haai het hom sowat vyf jaar gelede aan die arm gebyt terwyl hy hom sardiens gevoer het.

“Ek het die sardien oor my skouer gegooi en die haai het oor my skouer gekom en my arm gebyt. Hy het teruggekom vir ’n tweede hap, maar my vriend het hom met die vuis geslaan en hy’t weer in die water teruggegaan,” sê hy.

“Hy het nie na my gehap nie; hy het na die sardien gehap. Maar ek het darem nie ’n operasie nodig gehad nie.” Die haaibytvoorval was God se manier om vir hom te sê hy moet wakker word, sê hy.

“Dalk het God destyds vir my gesê: ‘Haai, word wakker,’ maar ek het duidelik nie. Toe dink Hy Hy sal my ’n bietjie heavy metal in die kop gee,” spot hy.

“Ek glo wel God het my ’n platform gegee om vir mense te sê hulle moet die lewe leef. Daar is ’n rede dat God jou asem gegee het. Doen jy iets wat jou soggens laat wakker word?” vra Connie.

En ja, sê hy, hy sál weer gaan duik. Want hy leef. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.