Dis een van die skokfeite waarmee die inwoners van Fredericton, die hoofstad van Nieu-Brunswyk in Kanada Vrydag hul dag moes begin.

Die nuus van ’n ernstige skietvoorval het soos ’n veldbrand deur die stad versprei.

Vier mense het gesterf. Twee van die slagoffers was lede van die Fredericton-polisiediens en die ander twee slagoffers sover bekend burgerlikes.

Volgens die polisie sal geen name in hierdie stadium bekend gemaak word nie en word daar ’n beroep op die publiek gedoen om dit te respekteer in belang van die families en kollegas van die slagoffers.

Daar is wel een verdagte in hegtenis geneem. Die gebied is veilig verklaar vier uur nadat die eerste skote geklap het, maar die polisie is steeds op die toneel besig met verdere ondersoeke.

Vroeër vandag het een van die omstanders ’n video op Twitter gedeel waarop van die skote wat klap duidelik gehoor kan word.

Justin Trudeau, die president van Kanada, het sy simpatie uitgespreek met almal wat deur die tragedie geraak is.

Talle het hul skok oor die voorval in die sosiale media gedeel.

Ross Lord, ’n joernalis vir die Global National in Halifax het Fredericton as ’n hoogs-ongewone plek vir ’n tragedie van dié aard beskryf.

Terselfdertyd word die polisie geloof vir hul dapper optrede wat hul lewens op die spel geplaas het om die gemeenskap veiilig te hou.

Vuurwapenwette: Kanada v Amerika

Op 4 Desember 2015 het drie mense in Toronto in ’n koeëlreën gesterf. Die aanvaller, Faisal Hussain (29), was een van die drie wat dood is.

Wapengeweld in Toronto het vanaf 2015 en 2016 met ongeveer 41% toegeneem. In 2017 was daar ’n skerp toename, maar dit is nie naastenby vergelykbaar met wapengeweld in Amerika nie. 

In 189 massa-skietvoorvalle in 2018 alleen het daar reeds 185 mense in die VSA gesterf. Meer as 700 is gewond.

In 2009 het die moordsyfer 33 per miljoen mense in Amerika beloop. In Kanada en Engeland was dit onderskeidelik 5 per miljoen mense en 0,7 per miljoen. Dit hou ook verband met vuurwapenbesit.

Ondanks daarvan dat Amerikaners net sowat 4,4% van die wêreldbevolking uitmaak, besit hulle 42% van die wêreld se vuurwapens. 

In die suidelike Amerikaanse state kan jy ’n pistool sonder enige agtergrondondersoeke aankoop.

’n AR-15-aanvalsgeweer soos dié wat deur Nikolas Cruz op 14 Februarie vanjaar in Florida gebruik is toe 17 studente gesterf het, is ook in 2012 by Sandy Hook-skool gebruik. Toe het 27 studente gesterf.

Volgens Walter Boeswald, ’n wapenhandelaar in Sudbury, Kanada, moet ’n persoon wat so ’n wapen wil bekom, deur verskeie prosesse gaan en ’n besitter- sowel as beperkte vuurwapenlisensie beskik. Maar jy sal moet wag voordat jy daardie wapen in jou hande kan hou.

“Anders as in Amerika het ons ’n wagperiode wat tot twee weke kan duur. Die hoofvuurwapenkantoor in Ontario moet die aansoek goedkeur.”

Vroeër vanjaar het die Kanadese regering nuwe wetweging bekend gemaak wat vuurwapenbeheer nog strenger maak. Die wet word beskryf as “gesonde-verstand-wapenwette wat ’n beter werk van agtergrondondersoeke sal doen om mense veilig te hou.”

Die inwoners van Fredericton het op 23 Maart vanjaar onder die vaandel van March For Our Lives in solidariteit met die slagoffers van massaskietvoorvalle by Amerikaanse skole, ’n optog gehou.

Bronne: cbc.ca, nationalobserver.com, newyorktimes.com, macleans.ca