Die eenjarige JD Lange het in die dae nadat hy uit die intensiewesorgeenheid van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad na ’n hoësorgsaal oorgeplaas is, ’n massiewe terugslag beleef.

Jean-Mari Muller, JD se tante, het Maandag aan Huisgenoot bevestig JD is terug in die intensiewesorgeenheid en die jongste skandering oor die naweek het getoon JD het inderdaad “geweldige breinskade” opgedoen.

Dit blyk die dokters kon nou optel dat die senuwees wat sy asemhaling- en slukfunksie reguleer, inderdaad beskadig is.

Dit was vir die familie ’n skok aangesien die eerste skanderings wat op JD gedoen is, aanvanklik geen breinskade getoon het nie.

“Medies gesproke is daar nie veel meer wat die dokters vir hom kan doen nie,” sê Jean-Mari. “Net God kan nou ingryp.”

JD het drie weke gelede, op Maandag 2 Maart, by sy nuwe dagsorg in Saldanhabaai in die swembad beland kort nadat sy ma, Jessica (28), hom hier afgelaai het sodat sy met ’n nuwe werk kon begin.

Die skool se personeel het self met hom na die nabye Life West Coast-hospitaal gejaag. Hy is later die dag na die Rooikruis-hospitaal oorgeplaas.

“JD het Donderdag, nadat hy die Dinsdagaand na die hoësorgeenheid oorgeplaas is, ’n groot terugslag beleef. Sy asemhaling het drasties verswak. Die dokters het dadelik ’n CT-skandering aangevra.

“Die dokter is saam in want hulle was bang sy longe val plat. Dit wat hy vermoed het fout is, is toe bevestig. Die senuwees wat sy asemhaling en sluk beheer, het seergekry.”

Sy vertel die dokter het aan Jessica die verskriklike nuus oorgedra dat JD nooit weer sal kan loop, regopsit of staan nie.

JD is daarna in ’n kritieke toestand terug in die intensiewe-eenheid geplaas.

Jean-Mari vertel as JD nou enigsins ’n virus of longinfeksie opdoen, dit sy dood sal beteken.

“Ons glo die Here se hand is oor JD en dat hy hom volkome weer sal herstel. Ons vertrou Hy sal doen wat die dokters nie kan nie.”

Jean-Mari vertel die volgende stap is nou om vir JD ’n tragea, oftewel ’n nuwe sintetiese lugpyp, in te sit. Dié meganisme, wat in ’n persoon se nek gesit word, help hom of haar om met die hulp van ’n ventilator asem te haal.

“Die dokters wil nie hê JD moet al sy energie gebruik net om asem te haal, in plaas daarvan om op die res van sy liggaam te fokus wat gesond moet word nie. JD is weer baie rustig vandat hy terug is in die intensiewe-eenheid. Sy ma en ’n verpleegster is by hom.”

Saterdagaand op die JD Lange Prayers and Updates-groep op Facebook, is ’n biduur om 19:00 vir JD gehou.

“Mense van oor die wêreld heen het laat weet hulle bid saam, maak nie saak hoe laat dit daar by hulle is nie. Vandat mense vir JD gebid het, is ook Jessica weer rustiger.”

Sy vertel Sondag het JD net daar waar hy lê hartstogtelik begin huil.

“Vir die eerste keer vandat hy in die hospitaal is het hy werklik gehuil. Daar was regte trane!”

Jean-Mari glo dié uiting aan emosie ná al sy pyn was ’n goeie teken, want dit toon vordering.

Sy weet die Here dra vir JD hierdeur.

“Ons vind rustigheid daarin dat die Here aan die stuur is.”