Eers het vroue een-een na vore gekom en die vinger gewys na mans wat hulle na bewering seksueel geteister of selfs verkrag het, onder andere die Amerikaanse rolprentmagnaat Harvey Weinstein (65).

In die nadraai van die #MeToo-veldtog, wat wêreldwyd uitgekring het – ook tot in Suid-Afrika – het manstemme ook nou opgeklink.

Hulle vertel van die teistering en trauma wat hulle na bewering deurgemaak het – en dit aan die hand van die rolprent-ikoon Kevin Spacey.

Die Oscar-wenner (58), wat bekend is vir sy fliekrolle in The Usual Suspects en American Beauty, is nou in ’n smerige seksskandaal gewikkel.

Die akteur Anthony Rapp (46), van die TV-reeks Star Trek: Discovery, het Kevin eerste van teistering beskuldig en vertel hoe die toe 26-jarige hom in 1986 na bewering op ’n partytjie in sy woonstel in New York probeer verlei het toe hy net 14 jaar oud was.

Die akteur Anthony Rapp beweer Kevin het hom op 14 probeer verlei.
Anthony as 14-jarige.

Kort hierna het die vervaardiger van dokumentêre rolprente Tony Montana beweer Kevin het hom in 2003 in ’n kroeg in Los Angeles betas. En die Mexikaanse akteur Robert Cavazos (35) beweer hy was een van talle jong mans by wie Kevin in The Old Vic-teater in Londen se kroeg toenadering gesoek het.

Terwyl hy van 2004-’15 skeppende direkteur van dié teater was, was hy glo berug vir die sjampanjepieknieks wat hy op die verhoog gehou het, kastig “om oor hul loopbaan te praat”, vertel Robert.

’n Anonieme man beweer Kevin het hom probeer verkrag toe hy 14 was.

“Solank jy ’n man en onder 30 was, het mnr. Spacey vry gevoel om aan jou te vat,” skryf hy op Facebook.

“Dit was so algemeen dat dit selfs ’n plaaslike grap (in baie swak smaak) geword het.”

The Old Vic se bestuur het nou ’n blitslyn ingestel sodat oud- en huidige werknemers en akteurs naamloos na vore kan kom as Kevin hulle gemolesteer het. ’n Anonieme man beweer Kevin het hom probeer verkrag toe hy 14 was. Hy noem hom “ ’n pedofiel”.

Agt mans wat aan House of Cards werk, beweer intussen Kevin het hulle jare lank gemolesteer.

In dié politieke riller speel hy ’n getroude, manipulerende politikus wat deur sy gekonkel die president van Amerika word.

Harry Dreyfuss (27), die akteur Richard Dreyfuss se seun, sê hy was 18 toe Kevin hom probeer verlei. In ’n rubriek op Buzzfeed beweer hy die voorval het gebeur toe hy sy pa in 2009 na Kevin se woonstel vergesel om vir ’n toneelstuk te oefen.

Die skokkende onthulling

Die Britse polisie het die eerste amptelike ondersoek na Kevin begin nadat ’n man beweer het hy is gemolesteer toe hy as 23-jarige vir ’n drankie na Kevin se woonstel genooi is.

Ná Anthony se onthulling het Kevin op Twitter geskryf hy het al “verhoudings met mans sowel as vroue gehad” en gesê hy “verkies nou om as gay man te leef”.

Dit was nadat Kevin getwiet het hy kan eerlikwaar nie die ontmoeting met Anthony onthou nie, maar verskoning gevra het vir wat duidelik “uiters onvanpaste, dronk gedrag” was.

Reperkussies

Deur nou eers openlik oor sy seksualiteit te praat het Kevin hom die gramskap van die gay gemeenskap op die hals gehaal. Daarmee probeer hy die aandag aftrek van die eintlike kwessie van seksuele teistering, meen baie mense.

“Dit is nie ’n storie oor Kevin wat uit die kas kom nie; dis ’n storie van oorlewing deur Anthony en almal wat dapper standpunt inneem teen ongewenste seksuele toenadering,” sê Sarah Kate Ellis, president van GLAAD, ’n Amerikaanse gayregte-organisasie.

Ook die akteur George Takei, ’n Amerikaanse kampvegter vir maatskaplike geregtigheid, het teen Kevin te velde getrek.

“Mans wat ander teister of aanrand, doen dit nie omdat hulle gay of heteroseksueel is nie; hulle doen dit omdat hulle die mag het en verkies om dit te misbruik.”

Rosie O’Donnell was van die eerste mense in die vermaakbedryf wat Kevin voor stok gekry het. Sy het getwiet: “F** jou, Kevin. Soos Harvey het ons almal van jou geweet. Ek hoop nog mans kom na vore, @KevinSpacey. Niemand het die besonderhede geweet nie, soos met Harvey, maar ’n mens het geweet albei is ’n grillerige man.”

Die industrie slaan terug

Soos met Harvey het Kevin se agent en publisiteitsbeampte reeds alle bande met hom verbreek.

’n Spesiale Emmy-prys wat hy later vandeesmaand in New York sou ontvang het vir sy bydrae “tot wêreldwye televisie”, is teruggetrek.

En Netflix het in ’n verklaring bekendgemaak die verfilming van House of Cards is vir eers gestaak.

'Soos 'n bruid oor die drumpel gedra'

In ’n onderhoud met die aanlyn nuusdiens Buzzfeed het Anthony besonderhede verstrek oor die aand in New York toe die ster hom glo as tiener probeer verlei het. Hulle het toe albei in Broadway-opvoerings opgetree.

Kevin “het my opgetel soos ’n man sy bruid oor die drumpel dra” voor hy hom op ’n bed neergesit en “intiem probeer verkeer het met my”. Anthony kon hom glo “loswriemel” en uit die woonstel ontsnap.

Hy het sy hand hard op my kruis geplaas en my hele geslagsdeel vasgegryp.

Tony het Radaronline, ’n webtuiste oor glansmense, van ’n ontstellende voorval 14 jaar gelede in ’n kroeg in Los Angeles vertel.

“Ek het ’n drankie bestel. Kevin het sy arm om my kom sit. Hy het sy hand hard op my kruis geplaas en my hele geslagsdeel vasgegryp.”

Tony het ses maande lank aan posttraumatiese stressteuring gely en moes terapie kry, beweer hy.

Ook ’n Britse kroegman, Daniel Beal, het van ’n skokkende voorval in 2010 vertel toe Kevin glo sy geslagsdele aan hom ontbloot het in die kroeg van ’n hotel in Wes-Sussex, waar hy toe gewerk het.

Later het hy Daniel, wat toe net 19 was, sy duur horlosie aangebied om “stil te bly”.

Steelfoto's van 'n gekafoefel

Al is die swye tot nou bewaar, was daar met die jare aanduidings dat die ster ’n geheime lewe lei. In 2000 het die Amerikaanse tydskrif Star steelfoto’s geplaas van hom en ’n jong man wat in ’n park buite Los Angeles kafoefel.

Vrae is ook geopper toe Kevin in 2004 ’n klag by die polisie indien dat hy om vieruur die oggend van sy selfoon beroof is terwyl hy in ’n Londense park met sy hond gestap het. Dit het mense laat wonder wat hy daardie tyd van die nag in ’n openbare park gedoen het.

'n Leë dop

Sy ouer broer, Randy Fowler, ’n 62-jarige Rod Stewart-nabootser en limousinebestuurder, het in ’n onderhoud met die Britse koerant Daily Mail onthul hy en Kevin is in hul jeugjare in San Fernando, Kalifornië, erg mishandel.

Kevin se ouboet, Randy Fowler, is ’n Rod Stewart-nabootser. Hy beweer hul pa was ’n Nazi-bewonderaar en verkragter wat hom seksueel aangerand en Kevin liggaamlik mishandel het.
Die akteur Anthony Rapp beweer Kevin het hom op 14 probeer verlei.
Kevin by sy oorlede ma, Kathleen Fowler.

Tussen al die pakke slae deur wat hy moes verduur, het sy pa hom gemolesteer en hul ma het haar daarvoor blind gehou, het Randy vertel.

Met twee sulke beskadigde ouers het nie een van ons in ons jeugjare ’n kans gehad nie.

“Kevin was so vasbeslote om die slae te vermy dat hy net in sy spoor getrap het tot daar niks binne-in was nie.”

Dit het van sy bekende broer ’n “leë dop” gemaak wat nog nooit ’n ware verhouding gehad het nie, meen Randy, wat van hom vervreem is.

“Met twee sulke beskadigde ouers het nie een van ons in ons jeugjare ’n kans gehad nie,” het hy bygevoeg. Die vraag is nou of Kevin se reputasie ’n kans het om van die skandaal te herstel.

Sink of swem?

In die misdaadriller All the Money in the World, onder regie van Ridley Scott met Mark Wahlberg en Michelle Williams te speel, het Kevin die rol van die biljoenêr J. Paul Getty vertolk. Die fliek is intussen in die lig van die bewerings van die Amerikaanse AFI-fliekfees onttrek.

TriStar, 'n filiaal van Sony, het bevestig die fliek sal steeds op 22 Desember vrygestel word want "dit is nie net die werk van een persoon nie."

Kevin self word in geheel uit die fliek gesny. In 'n ongewone wending het Ridley nou die veteraan-akteur Christopher Plummer genader om die rol van J. Paul Getty oor te neem.

Ten spyte van kommer of die fliek wel gereed sal wees vir die voorgestelde verspreidingsdatum, is bronne dit eens: "As daar een man is wat dit kan regkry, is dit Scott Ridley."

Teen druktyd was dit nog onbekend of ander projekte van hom ook in die slag sal bly. Hy het ook reeds ’n hoofrol losgeslaan in die misdaaddrama Billionaire Boys Club. Maar of ons die gevalle rolprentheld gou – of ooit – weer op die silwerdoek sal sien, is ’n ope vraag.  

BRONNE: METRO.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, NYTIMES.COM, QUEERTY.COM, DAILYMAIL.CO.UK
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GREATSTOCK/SPLASH NEWS