Waar sy in die beskuldigdebank van die hof in Oos-Londen staan, voel die jong blondekopvrou verpletterd en verneder.

Al wat sy weet, is dat sy onskuldig is. Maar hier staan sy tereg dat sy die vrou aan wie sy van kleins af so geheg was, gehelp het om miljoene van die Padongelukkefonds te steel. 

Kirstie Leigh Voogt (27) was net twee jaar oud toe haar ouers geskei het en sewe toe haar pa weer trou. Van die begin af het haar stiefma, Retha (47), ’n spesiale rol in haar lewe vervul. Retha was haar bondgenoot in haar stryd om ’n verhouding met haar biologiese pa te smee.

Toe Kirstie vir haar eie studies moes betaal, het Retha haar gehelp. 

Retha Voogt en haar man, Alec, Kirstie se pa. Foto
Retha Voogt en haar man, Alec, Kirstie se pa. Foto: Verskaf

Later het hulle kollegas by dieselfde Oos-Londense ouditmaatskappy geword: Moore Stephens PDB (nou Moore East London Inc).

Maar in Desember 2019 word Retha aangekla weens bedrog van sowat R11,5 miljoen. Die klagte hou verband met die kook van trustrekenings van begunstigdes van die Padongelukkefonds.

En saam met haar word Kirstie en ander familielede aangekla: Kirstie se pa, Alec, haar halfsuster, Seanna (21), haar pa se suster, Bernie van Eeden en Retha se ma, Theresa Coetzee.

Dit het seergemaak om my familie te moes verloor. Dis vir my erg om te dink Retha was oukei daarmee dat ek my hele toekoms kon verloor.

Almal behalwe Retha is vrygespreek nadat sy ingevolge ’n pleitooreenkoms skuld beken het, maar eers ná verskeie hofverskynings.

In die proses het ’n geskokte Kirstie die verhaal van Retha se dubbele lewe as dobbelslaaf en bedrieër hoor ontvou. En sy het aanskou hoe dit haar en haar familie in twee skeur.

Haar pa het langs haar in die beskuldigdebank gestaan, maar hy het haar stiefma ondersteun. Sy het net meer vervreemd van Alec begin voel en geensins nader aan hom soos sy al die jare gesmag het nie.

“Dit het seergemaak om my familie te moes verloor. Dis vir my erg om te dink Retha was oukei daarmee dat ek my hele toekoms kon verloor,” vertel Kirstie vandag in haar woonstel in Oos-Londen.

Kirstie Leigh Voogt is verlig alles is verby nadat
Kirstie Leigh Voogt is verlig alles is verby nadat haar stiefma, Retha, haar by haar bedrog betrek het. Foto: Verskaf

Op 24 Junie vanjaar is Retha tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

En die meer as R11 miljoen wat sy oor vyf jaar verduister het by die maatskappy waar sy en Kirstie saamgewerk het? Als weggedobbel.

“Dit gaan steeds my verstand te bowe hoe sy dit reggekry het. Ek het gedink sy geniet dit net om te dobbel, en ek weet sy het chroniese slaapmedikasie gebruik. Baie keer wanneer sy die volgende dag moeg gelyk het, sou sy net sê sy het weer sleg geslaap.”

Sy het ná die egskeiding by haar biologiese ma grootgeword, en aanvanklik kon sy heelwat van haar pa en sy nuwe vrou, Retha, sien. Maar op 10 het Kirstie saam met haar ma van Oos-Londen na Humansdorp getrek, en dit het moeiliker geraak om familiebande te behou.

Retha by haar en Alec se dogter,
Retha by haar en Alec se dogter, Seanna. Foto: Facebook/RethaVoogt

Eers ná skool in 2012 is Kirstie terug Oos-Londen toe om by haar ma se ouers te gaan bly.

Alec was ’n bekende musikant by plaaslike kuierplekke en het dikwels sy aande agter die mikrofoon verwyl.

“Ons hele gesin, ek inkluis, het nog altyd ’n passie vir musiek gehad,” onthou Kirstie. En Retha was die spreekwoordelike regterhand van die direkteur van Moore Stephens, Johan Pretorius.

Terug in Oos-Londen het Kirstie haar goeie verhouding met haar stiefma hervat. Kirstie se droom was om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word, maar sy moes grotendeels vir haar eie studies by Unisa betaal. Retha het “hand bygesit”.

Volgens Kirstie het Retha ook vir Alec ’n toelaag gegee.

“Dit was bekend onder ons dat hy baie sleg met geld was. Retha was die broodwinner.”

Retha het selfs vir Kirstie in 2012 haar eerste tydelike werk by Moore Stephens gekry. En in 2016 het sy voltyds daar as ouditeur begin werk.

“Retha het altyd seker gemaak sy is eerste op kantoor. Johan het haar met alles vertrou. Ek en Retha het nie nou saamgewerk nie, maar Retha was vir almal die go-to persoon.”

Tog het Retha later geld by Kirstie begin leen.

“Aan die begin was dit nie so gereeld nie, maar met die jare het dit toegeneem, en die bedrae het ál groter geword. Ek het geweet sy dobbel, maar nooit sou ek kon dink ek was besig om ’n verslawing te voer nie.”

Kirstie vertel Alec en Retha het op ’n tyd uitspattig geleef.

Eers teen die begin van 2018, toe ek moeg raak daarvoor om vir haar geld te leen, het dinge my begin bekommer . . . Maar ek het nie gevoel dis my plek om enigiets te sê nie.

“Retha het baie deftige skoene en duur grimering gedra en selfs haar tande laat doen.”

Sy het vir Alec ’n nuwe kitaar gekoop en die huis laat opknap. Later het Kirstie uitgevind Retha was ’n gesiene BBP-gas by Hemingways Casino, waar sy graag ná werk tot laatnag gedobbel het terwyl Alec in kuierplekke gesing het.

“Eers teen die begin van 2018, toe ek moeg raak daarvoor om vir haar geld te leen, het dinge my begin bekommer . . . Maar ek het nie gevoel dis my plek om enigiets te sê nie. Alec het geweet sy is baie by die casino en soms was hulle saam daar.”

Een dag het Retha gevra of sy haar “dobbelwengeld” – wat sy glo deur die beleggingsmaatskappy PSG belê het – na Kirstie se bankrekening kon oorplaas.

“Sy wou glo nie hê Alec moes toegang daartoe hê nie. Ek het nie twee keer gedink nie, want sy het in die verlede baie lojaliteitsgeskenke van die casino gekry.”

Sy het ook geweet haar pa kon nie met geld werk nie en gedink die oorbetaling deur PSG sou tydelik wees. Maar daarna het groot geldbedrae gereeld in haar rekening opgeduik.

“Ek sou dit dan dadelik aan Retha terugbetaal.”

Oplaas het sy Retha daaroor gekonfronteer. Retha het gesê dis ’n administratiewe fout deur PSG ná die eerste oorplasing. Kirstie het toe gevra dat dit nooit weer gebeur nie en ook geweier om weer aan haar geld te leen. 

“Ek dink Retha het gevoel ek sou nooit vir haar kon nee sê nie, maar toe ek weier, het ons verhouding begin versuur.”

Alec staan Retha by tydens haar vonnisoplegging in
Alec staan Retha by tydens haar vonnisoplegging in die hof. Foto: Malibongwe Dayimane

En toe, op 7 Desember 2018, word Kirstie na Johan Pretorius se kantoor ingeroep. Sy moes hoor Retha het die Padongelukkefondsrekeninge leeggesteel – en dat sy wat Kirstie is betrek word omdat van die geld deur haar bankrekening is. 

“Eers wou dit nie insink nie. Ek was verstom. Maar toe onthou ek die sogenaamde PSG-belegging.”

Sy het haar volle samewerking met die maatskappy- en polisieondersoek gegee. Maar byna ’n jaar later is sy in hegtenis geneem en is haar vingerafdrukke soos ’n misdadiger s’n geneem . . .

Met hul eerste hofverskyning op 3 Desember 2019 het Retha en Alec elk R10 000 borgtog gekry. Kirstie en die res van die familie is met ’n waarskuwing vrygelaat.

“Elke keer dat ons in die hof verskyn het, het Retha gemaak asof sy nie kan staan nie en teen Alec geleun. Ek voel natuurlik dit was alles net toneelspel,” vertel Kirstie.

Van Retha se versoenende rol tussen haar en haar pa was daar nie meer sprake nie. Op 4 September 2020 het sy vry uit die hof gestap en op 20 November die res van die familie, toe Retha skuldig pleit.

Ek het vrede gevind in die feit dat ek nooit ’n verskoning van Retha of enigiemand anders sal kry nie . . . en dalk is hierdie aanvaarding ook ’n vorm van vergifnis.

“Ek was baie bly dat die strafsaak verby was. Terwyl dit aangegaan het, was ek ongelooflik getraumatiseerd oor wat van my loopbaan en reputasie sou word.”

Met Retha se vonnisoplegging was Alec daar om haar te troos – al het die hof bevind sy het haar familie en kollegas gemanipuleer sonder enige gedagte oor die gevolge vir hulle.

Tot vandag toe het sy geen berou getoon nie. Maar Kirstie voel sy kan nou alles agter haar sit en weer haar kop lig.

“Ek het vrede gevind in die feit dat ek nooit ’n verskoning van Retha of enigiemand anders sal kry nie . . . en dalk is hierdie aanvaarding ook ’n vorm van vergifnis.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe