Dit het ’n ruk geneem vir die drade om bymekaar te kom. Maar met sake teen hom oor die land heen, het Michal Jacobus Willemans (36) se skelmstreke onder verskillende identiteite skynbaar eindelik met hom opgevang. En die polisie het nou die publiek se hulp nodig om hom aan die pen te laat ry nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Dit is ’n betroubare bron van binne die polisie wat Huisgenoot die eerste keer op sy spoor plaas. Die bron vertel aangesien almal weens die covid-19-pandemie maskers moet dra, bemoeilik dit die polisie se taak om hom te kry. Hy dra ook graag ’n pet.

Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf
Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf

“Dié Michal het sake van onder in die Kaap tot in die Vrystaat en Gauteng teen hom. Hy gee voor hy is hierdie multimiljoenêr met m**r baie geld, maar die geld is kwansuis vas. Die ergste is dat mense absoluut alles glo wat hierdie ou vertel.

“Hy teiken veral ou mense. Hy werk op baie verskillende maniere, maar sy gereeldste modus operandi is om vir iemand te sê: ‘Ek gaan jou kar verkoop, maar check hierdie voertuig. Ek kan dit vir jou kry teen hierdie goedkoper prys.’”

Hy gee voor hy is hierdie multimiljoenêr met m**r baie geld, maar die geld is kwansuis vas.

Dis dan dat hy die slagoffer se voertuig voor hulle verkoop, tientalle verskonings maak hoekom hulle so lank op hul “nuwe voertuig” moet wag en dan met die geld spore maak.

Die bron voer aan dit het onder hul aandag gekom dat Michal minstens drie sake teen hom het in die Vrystaat, Gauteng en in die Kaap, wat aanhangig gemaak is nadat hy in 2017 op parool vrygelaat is.

Hy was in die tronk nadat hy skuldig bevind is op ’n diefstalklag. Van daar het hy hom na bewering onder andere as Desmond Newland, Michal Meyer, Michael Smit en Dulland Holland voorgedoen.

Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf

Die bron kan nie bevestig hoeveel gesteelde geld al gesamentlik ter sprake is nie, maar meen dit waarvan hulle weet, beloop reeds “honderde duisende rande”. In een van die sake, wat by Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion op 25 Mei vanjaar gemaak is, het hy hom as ene Desmond voorgedoen.

Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf
Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf

Ina Bower (68) van Pretoria vertel ’n skrikwekkende verhaal van hoe Michal vir haar en haar hele familie ’n rat voor die oë gedraai het.

Sy vertel Michal, wat netjies en ordentlik voorgekom het, het nie net haar Lexus-motor voor haar verkoop nie, hy het ook haar suster, Lalie Reynecke (54), wat haar been verloor het ná ’n fratsongeluk, uit ’n staatshospitaal gehaal met die belofte dat hy vir haar “beter privaat sorg” sou reël.

Lalie (middel) saam met die vermeende swendelaar,
Lalie (middel) saam met die vermeende swendelaar, Michal Willemans (links). Foto: Verskaf

Boonop het hy hulle met ’n berg skuld by ’n Pretoriase gastehuis gelos, terwyl hulle hier op Lalie se privaat sorg gewag het, vertel Ina.

“Ek probeer nou nog sin maak hoe iemand my só in die oë kon kyk en vir my lieg . . . Maar die ergste vir my is dat hy met my sussie se lewe gedobbel het.”

Die polisie het die publiek se hulp nodig om die v
Die polisie het die publiek se hulp nodig om die voortvlugtige Michal Willemans op te spoor. Foto: Verskaf

Kapt. Kay Makhubele, ’n provinsiale woordvoerder in Gauteng, het op navraag dié saak teen Michal Willemans aan Huisgenoot bevestig, asook dat ’n lasbrief uitgereik is. Op navraag of hy op parool uit is, sê Makhubele: “Die Gautengse polisie kan bevestig dat ’n soektog van stapel gestuur is en dat die verdagte voortvlugtig is.” 

Mooi praatjies en beloftes

Ina vertel toe hulle vir Michal as “Desmond” in April vanjaar ontmoet het, het hulle gedink hy is ’n “engel so reg uit die hemel”.

“Ons het hom deur my broer van Odendaalsrus ontmoet en toe hy van my suster hoor, het hy dadelik aangebied om te help. Hy het gesê hy het baie geld van sy ouers geërf en hy het ook glo geld uitgekry nadat sy vrou en kinders in ’n ongeluk dood is. Hy het vertel die Here het hom met baie geld geseën en hy wil graag ander help.”

Vir hulle was dit te goed om waar te wees, maar hulle was innig dankbaar. Ina vertel haar suster, Lalie, het in China skoolgehou, maar het verlede jaar voor die inperking kom kuier.

Lalie Reynecke het haar been na 'n fratsongeluk ve
Lalie Reynecke het haar been na 'n fratsongeluk verloor. Foto: Verskaf

“Met die lockdown het sy maar aangebly en gekuier tot sy weer kon teruggaan, maar toe gebeur die fratsongeluk . . .”

Op 1 April vanjaar het ’n stuk yster by die hek op die hoewe, waar sy buite Pretoria by ’n vriend gekuier het, glo meegegee. Die stuk yster het haar teen die haksteen getref.

Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel
Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel het. Foto: Verskaf

Vroeg Vrydag 2 April is sy dokter toe om steke, ’n klem-in-die-kaak-inspuiting en antibiotika te kry, maar die volgende dag het die wond reeds nie goed gelyk nie. Haar familie het met haar na ’n privaat hospitaal gehaas en met haar aankoms was sy reeds bewusteloos.

Sy is per ambulans na ’n staatshospitaal oorgeplaas omdat sy nie ’n mediese fonds het nie. 

Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel
Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel het. Foto: Verskaf

“Van daar het haar – en ons – nagmerrie begin, want die dokters moes eindelik haar regterbeen net bo die knie afsit,” vertel Ina. Met haar suster in die staatshospitaal en drie operasies, onderskeidelik om die been eers te amputeer en daarna weer twee keer weens gangreen te opereer, het die “weldoener” op die toneel verskyn.

Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel
Lalie se been nadat sy 'n infeksie begin ontwikkel het. Foto: Verskaf

“Hy het ons op 6 Mei in ’n gastehuis ingeboek en gesê Lalie moet uit daardie hospitaal, hy gaan help om sorg vir Lalie by ’n privaat hospitaal kry.”

Dit was in dié tyd dat hy Ina se ou Lexus raakgesien het.

Lalie se geamputeerde been. Foto: Verskaf
Lalie se geamputeerde been. Foto: Verskaf

“Desmond (soos ons hom leer ken het), het my gevra wat doen ek nog met die ou kar. Ek het gesê ek dink al ’n geruime tyd daaraan om dalk ’n kleiner motor, wat ’n bietjie ligter op brandstof is, te kry,” vertel sy.

Desmond het gesê “hy werk toevallig in die motorbedryf”.

“Hy het my verseker hy het net die regte motor in gedagte, so ’n mooi klein karretjie wat net groot genoeg sal wees om Lalie se rolstoel in te pas, want ek sou nou vir haar moes begin sorg.”

Ina was die dag saam toe Desmond glo haar motor wettiglik, met papier en al, voor haar by ’n handelaar in Pretoria vir R47 000 verkoop. 

Die voorvlugtige Michal Willemans. Foto: Verskaf

“Daar moes die gevaarligte al vir my geflikker het,” vertel sy mismoedig. “Ek het geweet my Lexus is baie meer werd.”

Maar weer het Desmond haar verseker hy wil hulle met ’n nuwe kar “seën” en sou die verskil op die nuwe motor inbetaal. Sy het met vertroue die R47 000 aan hom oorbetaal.

Intussen was hy in lang gesprekke met die dokter wat haar sommer by die gastehuis sou kom sien. Maar dié dokter het nooit gekom nie. Ook nie haar nuwe kar nie. 

“Daar moes die gevaarligte al vir my geflikker het. Ek het geweet my Lexus is baie meer werd.”

“Dit was toe ons self die dokter bel en sy ontvangsdame sê dat hy nooit ooit privaat huisbesoeke doen nie, dat ons besef het daar is fout . . .”

Intussen het haar broer op Odendaalsrus ook begin navrae doen, net om te moes uitvind daar is baie ander mense wat om dieselfde redes na “Desmond” soek.

"Desmond" het ook nooit die gastehuis, waar hulle 10 dae gebly het, se rekening betaal nie. Lalie was ook haar afsprake by die staatshospitaal kwyt.

“Hy het heeltemal die mat onder ons uitgeruk. Ons het hom vertrou! Ek is ’n pensionaris. Ons sit nou sonder ’n kar en is nou op ander mense se genade. Ek het die hele ding vir die Here gegee. Ek glo hy sal gevind word en dan sal hy boet.”

  • Enigiemand met inligting wat na sy inhegtenisneming kan lei, kan kapt. Yolanda Hulme van die Welkom-polisie by 071-482-1670 of kapt. Francois Zylstra van die Boksburg-Noord-polisie by 078-925-0451 bel.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe