Verbeel jou jy stap nog ewe op die sypaadjie langs die pad en trap niksvermoedend in 'n poel water - net om die volgende oomblik te besef die aarde sluk jou in; jy is besig om te verdrink. 

Dit is nie net 'n nare nagmerrie nie. Die oomblik is toevallig op 'n selfoonvideo vasgevang toe dit met die Russiese pensioentrekker, Mikhail Kuptsov (69), gebeur.

Gelukkig was daar omstanders wat dadelik kon ingryp en hom van 'n gewisse waterdood red.

Mikhail het op 26 Junie straafaf gestap in Gazovikov-straat in die stad Tyumen in Rusland toe hy op die sypaadjie, in wat hy gedink het, net 'n poel water is, trap.

Wat hy nie geweet het nie, was dat ’n waterpyp gebars en dit die sloot langs die pad met water gevul het. Maar dit was so modderig dat hy nie besef het hoe diep die sloot is nie.

Elena Stanislavskaya, ’n plaaslike inwoner, was toevallig besig om ’n motor af te neem wat skynbaar in die water vasgeval het toe sy sien hoe die bejaarde man op haar skerm opduik. Sy het dit aanlyn gedeel, sonder om die impak daarvan te besef.

Die video, wat ook die oomblik wys toe 'n verbyganger Mikhail red, het intussen wêreldwyd opspraak gewek.

In die beeldmateriaal stap Mikhail op die sypaadjie voor ’n woonkompleks toe die gat vol vuil water hom insluk. 

'n Mens sien hoe die taxibestuurder Nikita Zubkov (22) hom dadelik te hulp snel. Met sy bene onder die water, trek hy die drywende en oënskynlik bewustelose Mikhail uit die water. Hy lê hom dan op die sypaadjie neer.

Mikhail het gedink hy trap in 'n poel.
Mikhail het gedink hy trap in 'n poel. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Nikita vertel hy was die dag besig om vir ’n kliënt te wag toe hy hulpkrete hoor. “Ek het net iemand hoor gil ’n man is besig om te verdrink,” vertel hy. Hy was eers verward oor wat aangaan. “Toe sien ek dit lyk asof ’n man in die modderwater verdrink. Mense het geskree, toe hardloop ek nader om te help.” 

Mikhail het gedink hy trap in 'n poel.
Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Nadat Nikita die man uit die oorstroomde gat gehelp het, het hy seker gemaak die man is ongedeerd.

“Hy het (op die toneel) herstel en gesê alles voel piekfyn. Ek kon sien niks ernstigs het met hom gebeur nie en is daar weg. Ek het nie eens sy naam gevra nie.  

“Toe spoor die man se familie my op met die hulp van spesialiste van Tyumen Vodakanal om my te bedank."

Vodakanal is volgens hul webtuiste 'n onafhanklike konsultasiemaatskappy wat in Rusland in die verskaffing van water en die verwydering van afvalwater spesialiseer.

Nikita is beskeie oor sy heldedaad.

"Om eerlik te wees dink ek nie ek het iets buitengewoons gedoen nie. Enigiemand in my posisie sou dieselfde gedoen het.” 

Volgens die persdiens van die Tyumen-waterdiens het hulle dadelik met herstelwerk begin nadat die lek aangemeld is. Dit is voortgesit nadat die water uit die sloot gedreineer is. 

Mikhail het gedink hy trap in 'n poel.
Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Mikhail se familie soek steeds antwoorde en gaan die saak nie daar laat nie.

Een van die pensioentrekker se kinders vertel dit gaan nie goed met hul pa nie.

“My pa verkeer nog in skok. Hy is afgetree. Hy word binnekort 70. Ons is baie dankbaar teenoor die persoon wat ons pa gehelp het. Ons sal later kommentaar lewer oor wat gebeur het, en hoe, en die presiese omstandighede van die voorval.” 

Volgens die nuuswebstuiste NTV wil familielede die video van die voorval by ’n verklaring aan die polisie aanheg.

Hulle versoek regstappe teen die nutsmaatskappy wat versuim het om mense van die gevaar in te lig.