’n Ooggetuie het ’n video van die voorval aan Huisgenoot gestuur.

Dié kompleks het die voorval in ’n verklaring bevestig en gesê dat die skietery omstreeks 11:55 plaasgevind het. 

“Menlyn Maine-sekuriteit was dadelik op die toneel en die polisie kort daarna," lui die verklaring.

’n 45-jarige verdagte is kort ná die voorval in verband met die skietery by die sentrum in hegtenis geneem.

Daar word beweer dat die oorledene by twee ander mans was toe die verdagte hulle genader het en ’n struweling plaasgevind het. 

Volgens die polisie blyk dit dat die verdagte na sy motor gegaan het, en teruggekeer het met ’n vuurwapen en meer as een skoot afgevuur het na die oorledene wat glo die situasie probeer ontlont het.

Die man is op die toneel dood verklaar.

Volgens Brigadier Mathapelo Peters het die polisie die vuurwapen in hul besit en ondersoek tans die motief.

Die verdagte sal in die Pretoria-landdrofshof verskyn op aanklag van moord.

Op ’n video wat ’n ooggetuie vir Huisgenoot gestuur het, kan gesien word hoe twee mans in ’n vuisgeveg betrokke is en onder meer mekaar se hemde van hul lywe afskeur.

’n Derde man wat na die bakleiery gestaan en kyk het, haal dan ‘n vuurwapen uit en vuur ’n skoot af.

Die skoot tref een van die mans in die bakleiery en hy val op die grond neer.

Op die video kan jy hoor hoe mense gil nadat die skoot afgegaan het.

Volgens Huisgenoot se inligting het die skieter in ’n voertuig geklim en weggery maar is toe by die uitgang van die parkeerterrein vasgekeer.