Dit was nie die eerste keer dat die polisie gaan inloer het om seker te maak alles is pluis nie. Maar toe die polisie dié keer op 22 November na die woonstel in die Remington-aftreeoord ontbied is, het hulle die lyk van die inwoner, Jeanne Souron-Mathers, in haar bed aangetref.

Hoewel sy oënskynlik aan natuurlike oorsake gesterf het, was dit nie seker presies wanneer sy oorlede is nie.

Die polisie het deur die woonstel gegaan om te probeer vasstel wanneer Jeanne oorlede is en na die inhoud van haar ys-en vrieskas gegaan.

Skermgreep: Fox News
Skermgreep: Fox News
Skermgreep: Fox News
Skermgreep: Fox News

En toe kry die oënskynlik natuurlike dood van ’n bejaarde ’n skokwending: Die polisie het op 'n lyk in die vrieskas afgekom.

Die oorskot blyk toe Jeanne se man, Paul Edwart Mathers (69), te wees. En anders as in die geval van Jeanne se dood, word hier wel vuilspel vermoed.

Nou is daar meer vrae as antwoorde. Paul is so solied gevries dat daar in dié stadium nie vasgestel kan word of hy 11 of een-en-’n-half jaar gelede in die vrieskas beland het nie. Bure kan ook nie ooreenkom oor wanneer hulle hom laas lewend gewaar het nie. Jeanne het die afgelope 12 jaar in die woonstel gebly.

Sers, Jeremy Hansen het die saak as een van die vreemdstes beskryf van die afgelope 13 jaar wat hy in Tooele is.

“Ons het nog nooit so iets hier gehad nie,” het hy gesê.

Bronne: fox13now.com, fox6now.com, daiymail.co.uk, sltrib.com