Die wrede dood van Joanna Daniela Demafelis (29), wat vermoedelik in Koeweit deur 'n nou voortvlugtige egpaar mishandel, erg aangerand en eindelik vermoor is voordat hulle haar in 'n vrieskas versteek het, het opnuut skokgolwe deur haar land gestuur.

Die lot van veral Filippynse vroue wat as huishulp in die buiteland werk, wek lank reeds groot kommer daar.

Rodrigo Duterte, die Filippynse president, het voorlopig die verdere ontplooiing van werkers uit sy land na Koeweit verbied en aangebied om die reiskoste te betaal van dié wat daarvandaan wil terugkeer.

Die beeld van Joanna se jonger suster, Jessica, wat huilend by haar kis op die Ninoy Aquino-lughawe ineenstort, simboliseer vir baie mense die tragedie van die Filippyne en soortgelyke minder welvarende lande se sogenaamde OFW’s (overseas foreign workers).

Hulle sloof hulle in die vreemde af om vir hul families te help sorg, maar word alte dikwels aan verskriklike mishandeling en uitbuiting blootgestel.

Net in die Arabiese staat waar Joanna in 2014 'n inkomste gaan soek het, word die dood van sewe ander Filippynse werkers tans ondersoek.

Intussen was Interpol luidens berigte teen Maandag op die spoor van die Libanese man en sy Siriese vrou by wie Joanna in Koeweit gaan werk het: Nader Essam Assaf en Mona Hassoun het moontlik Sirië toe gevlug lank voordat Joanna se liggaam vroeër vandeesmaand in 'n steeds aangeskakelde vrieskas in hul Koeweitse huurwoonstel gevind is.

Dit was nadat die eienaar 'n uitsettingsbevel teen hulle gekry het weens agterstallige huurgeld. Assaf word ook vir verskeie ander misdade, waaronder tjekbedrog, gesoek.

Duterte het laat blyk Joanna se liggaam het tekens van marteling getoon en dat sy moontlik verwurg is.

En volgens GMA News het die Filippynse ambassadeur in Koeweit, Renato Villa, ook gesê outopsie-resultate toon sy het verskeie gebreekte ribbes, kneusings, ernstige beserings in haar pelvis- en nierearea en inwendige bloeding opgedoen.

Duterte het Koeweit se mense reeds weke gelede gevra om Filippynse werkers met waardigheid te behandel.

"Filippyne is niemand se slaaf nie, waar hulle ook al is," het hy gesê.

En volgens Alan Cayetano, die minister van buitelandse sake wat Joanna se familie by die lughawe bygestaan het, "sal haar baie tragiese dood hopelik as aansporing dien vir die daadwerklike beskerming van ons OFW’s’’.