In die sekuriteitsvideo sien ’n mens  hoe die rooi Toyota-dubbelkajuit­bakkie by die vulstasie op Virginia in die Vrystaat indraai, gevolg deur ’n wit Nissan Micra-motor. Albei voertuie parkeer buite sig van die kamera. Dan ry die wit motor alleen weg.

Die rooi Toyota-dubbelkajuit­bakkie draai in by di
Die rooi Toyota-dubbelkajuit­bakkie draai in by die vulstasie op Virginia in die Vrystaat.

Agter die rooi bakkie is die wit Nissan Micra-motor sigbaar.

Die wit motor ry alleen weg.

Ure later, in Welkom, raak die bakkiebestuurder se man, Danie, vrees­bevange omdat sy vrou nie terugkeer nadat sy hul 11-jarige seun by die skool gaan aflaai het nie.

So begin die dramatiese verdwyning op 12 November van die jong Welkomse ma Carin Bezuidenhout (34).

Die land gons. Wat het van Carin geword, en is sy ongedeerd? En die skrikwekkende vrees: Is sy dalk ontvoer of selfs vermoor?

Haar man, hul seun en Carin se matriekdogter uit ’n vorige verhouding is ontroosbaar.

Op dié ou foto is Carin se man, Danie, by haar en hul seun en haar dogter uit ’n vorige verhouding (nou in matriek).

Die raaisel oor Carin, ’n wildspekulant, se verdwyning verdiep toe dit aan die lig kom dat ’n wildboer van Noordwes klagte van bedrog teen haar ingedien het omdat sy hom na bewering nie vir ’n wildtransaksie betaal het nie.

Maar intussen kon haar familie die vreesgedagtes nie afskud nie.

“Ek kan nie vir jou sê of sy ontvoer is, of hulle haar as ’n sekswerker gebruik, of sy vermoor is en of sy wegkruip nie. Ons weet nie,” het Carin se skoonpa, Piet Bezuidenhout, ná haar verdwyning in Welkom aan Huisgenoot gesê.

Min het Carin se geliefdes geweet dat sy twee dae ná haar verdwyning glo by die dood omgedraai het nadat sy ’n oordosis pille in ’n gastehuis in Port Elizabeth gedrink het.

Sy was glo drie dae lank in ’n hospitaal in dié kusstad voor sy haar familie gekontak en Danie uit die Vrystaat gery het om haar te gaan haal, het bronne aan Huisgenoot gesê.

Nog drama het gevolg. Volgens ’n bron het Carin eers teenoor haar familie en die polisie in Port Elizabeth beweer sy is die dag van haar verdwyning in ’n minibustaxi ontvoer en verkrag voor sy eindelik in Port Elizabeth weggekom het.

Maar die Welkomse polisie het haar storie verwerp en sy het glo aan hulle erken sy het haar verdwyning beplan. Die bedrogklag in Noordwes wat oor haar kop gehang het, het dalk te veel geword.

“Sy het toe gesê as sy stres, lieg sy,” vertel die bron.

Elf dae ná haar verdwyning is Carin op Donderdag 22 November in Welkom in hegtenis geneem.

Die BP Harmony-­vulstasie buite Virginia, Vrystaat, vanwaar Carin in ’n wit Nissan Micra verdwyn het.

Die dag daarna was sy in die beskuldigdebank in die plaaslike landdroshof weens klagte van meineed en dwarsboming van die gereg. Ook die aanklagte van diefstal en bedrog wat in Noordwes teen haar aanhangig gemaak is, het oor haar kop gehang.

Danie was baie bekommerd toe hy agterkom sy vrou is weg. En g’n wonder nie; die myngemeenskap van die Vrystaatse Goudveld is kort tevore deur twee opspraakwekkende misdaadvoorvalle geskud.

Misdaad in Welkom

Op 7 November is die mynbaas Johnny Botha se vrou, Charmaine (42), ontvoer en moes hy volgens bronne wat daarby betrokke was twee goudstawe ter waarde van R22 miljoen vir haar vrylating betaal.

En op 10 November het Times Live berig Shai Mohapi (54) is deur motor­kapers in die parkeerterrein van Welkom se Commando-winkelsentrum dood­geskiet. Dis 2 km van die Bothas se huis.

Danie en Carin werk al vyf jaar saam; sy as wildspekulant en hy as wildvanger. Dit beteken hulle vang en verkoop namens boere wild teen ’n kommissie.

Die oggend van haar verdwyning het Carin hul seun soos gewoonlik by die skool gaan aflaai. Toe sy nie by die huis opdaag nie, het Danie besef sy is weg.

Toe hy onraad vermoed, het hy sy pa gebel.

“Danie was histeries. Hy het gesê: ‘Pa, kom help my,’ ” het Piet aan Huis­genoot vertel. Volgens hom het sy skoondogter net met die klere aan haar lyf en haar selfoon verdwyn.

Die bakkie se opsporingstelsel het gewys dit staan by die vulstasie op Virginia. Hulle is daarheen. ’n Ooggetuie by die vulstasie vertel Danie het onophoudelik gehuil en gesê: “My vrou is weg.”

Maar die videogreep van die rooi bakkie en wit motor het vir meer vrae as antwoorde gesorg.

Carin en Danie by hul rooi bakkie. Foto: Facebook

Toe kom die kinkel: Op Swartruggens in Noordwes lees die wildboer Jaco Naudé van Carin se verdwyning en hy nader die media met bewerings dat Carin hom R145 000 vir ’n transaksie skuld.

Jaco het beweer Carin het weke voor haar verdwyning vir hom gesê sy kan hom nie betaal nie omdat haar man weens ’n hartaanval dood is. Hy het ’n bedrog- en diefstalklag ingedien.

Ook vir die polisie het alles nie sin gemaak nie. Hoekom, as sy gekaap of ontvoer is, het die vulstasie se personeel nie enigiets gesien of gehoor nie?

Volgens Huisgenoot se bron was die wit Micra glo ’n taxi wat deur Carin bestel is om haar van die vulstasie na ’n langafstandbushalte te neem. Van daar het sy na bewering ’n bus na Port Elizabeth gehaal.

'Hande vol pille'

In ’n gastehuis in die Oos-Kaapse stad het sy glo “hande vol pille” gedrink voor sy bewusteloos aangetref is. Die gastehuiseienaar het die nooddienste gebel en sy is in ’n hospitaal opgeneem.

Volgens Andrew Callis, Danie se prokureur in Bloemfontein, het Carin na familie in Port Elizabeth gegaan nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Sy het hulle en die plaaslike polisie toe die nagmerrie­verhaal vertel en hulle  het haar man gebel.

Toe Danie Carin op 18 November gaan haal, het sy voor haar uitgestaar, sê Andrew. Eers toe hulle naby die huis in Welkom is, het sy hom vertel sy is ontvoer en verkrag.

Huisgenoot se bron het vertel Carin het beweer sy is deur vier mans in Welkom in ’n Toyota Quantum-taxi ontvoer, “tesame met ’n blonde meisie”. Sy het nie geweet waarheen hulle ry nie, maar hulle is volgens haar herhaaldelik in die bussie verkrag voor hulle in Port Elizabeth aan­gekom het, vertel die bron.

Haar familie het glo nie geweet wat om te dink nie.

Andrew sê hy het verneem hulle het in Bloemfontein sielkundige hulp vir haar gaan soek. Met hul terugkeer het Danie haar gebring na die polisie in Welkom, waar sy die verkragtingsverhaal glo teenoor die polisie herhaal het.

In haar verklaring van agt bladsye lank beweer sy ’n man het langs haar voertuig stil­gehou, met ’n pistool teen haar venster geklop en haar gedwing om uit te klim.

Toe die polisie haar begin uitvra, het Carin na bewering gebieg sy het haar verdwyning beplan, beweer die bron.

Intussen, terwyl die land gegis het oor die rede vir haar verdwyning, het die polisie amptelik volgehou hulle onder­soek net ’n klag oor ’n vermiste mens. Eers op Donderdag 22 November het kapt. Stephen Thakeng, Noord-Vrystaatse polisiewoordvoerder, bevestig Carin is in hegtenis geneem op klagte van meineed, bedrog en diefstal.

“Dit het blykbaar alles net te veel geraak vir haar,” vertel die bron.

“Sy het geen ander uitweg gesien nie. En toe sy nie daarin slaag om haar eie lewe te neem nie, het sy die storie oor haar ontvoering en verkragting opgemaak.”

'Ons hele gesin is stukkend'

Dis Vrydag 23 November, die dag ná Carin se arres. Die hofsaal in Welkom is stampvol, maar al ondersteuning daar vir Carin se saak is haar man en ’n vriendin.

Voor in die beskuldigdebank draai Carin om en kyk na hulle.

“Ek is lief vir jou,” vorm sy die woorde met haar lippe terug vir haar vriendin en sy kyk vraend na haar man. Haar onderlip begin bewe.

“Ag, shame,” laat hoor verskeie mense simpatiek. Danie huil openlik.

Die polisie lei Carin weg om haar na die Kroonstad-vrouegevangenis, sowat 50 km van Welkom, te neem.  

Danie bly verslae agter. Buite die hof sê hy: “Ek is stukkend. Ons hele gesin is stukkend. Die ding vernietig ons.”

Want al is sy vrou opgespoor, is die raaisel van haar verdwyning nog nie opgelos nie.

  • Carin sou op 29 November om borgtog aansoek doen.
  • Teen druktyd het sy nog nie ’n regsverteenwoordiger gehad nie. Sy het aangedui sy wil om regshulp aansoek doen.
  • Andrew sê Carin het aan Danie gesê haar storie is versin.