Die netbalma is wild en ontembaar, sê die skoolhoof. Die hoof is ’n diktator en ’n boelie, sê die netbalma. En in die middel is ’n 11-jarige meisie wat wil weet hoekom sy nie meer vir haar skool mag netbal speel nie.

Jane*, ’n ma van Kaapstad, is die afgelope vyf jaar op haar pos langs die netbalbaan wanneer haar dogter, Maddy*, speel.

Tipe 1-diabetes is vier jaar gelede by die kind gediagnoseer, maar die klein blits is so ’n uitblinker op die baan dat sy vanjaar vir die WP se o.11-span gekies is. Maar as die skoolhoof sy sin kry, sit Jane nooit weer haar voete langs die netbalbaan nie.

Gavin Keller, hoof van die Primêre Skool Sun Valley in Vishoek naby Kaapstad, het Jane langs die baan verbied omdat sy volgens hom “onbeheerbaar” is. Luidens ’n e-pos wat hy in Augustus aan haar geskryf het, is haar gedrag onaanvaarbaar en gedra sy haar met min selfbeheersing.

Dít nadat sy ’n e-pos aan ’n buurskool gestuur het waarin sy kla dat die skeidsregter van ’n wedstryd bevooroordeeld was a en nog een aan onderwysers by haar dogter se skool oor ’n taak wat haar dogter moes doen.

Gavin het Jane daarna in sy e-pos daarvan beskuldig dat sy haar dogter “elke enkele dag van haar lewe” traumatiseer.

Hy skryf dit is jammer dat haar talentvolle dogter moet boet vir “haar ma se sondes” en voeg by geen ouer behoort ’n skeidsregter te kritiseer nie. “Dit is slegte maniere.”

Hy sluit sy brief af: “Die personeel het my gevra om dit duidelik te maak: Jou dogter is gelief en deel van ons gemeenskap; haar ma se gedrag kan nie langer geduld word nie.”

Jane (43) glo weer die skoolhoof is diktatoriaal en ’n boelie. Sy sê haar dogter is deur dié wrywing getraumatiseer.

“Dis baie stresvol,” sê die geskeide ma. “Sy was al ’n paar keer in trane en het aan my gesê: ‘Mamma, as jy nie vir my kan kom kyk nie, wil ek nie speel nie.’ ”

Jane sê dit help dat sy steun van ander ouers by die skool kry.

“Ek het al meer as 150 e-posse ontvang. Hulle was ongelooflik ondersteunend.” Met Huisgenoot se besoek aan Sun Valley het een ouer Jane beskryf as “dapper om eindelik teen Gavin op te staan”.

’n Ander ouer het haar hul “heldin” genoem. Gavin was tevore al in die nuus, maar toe om ander redes. In 2015 het hy die land aan die gons gehad toe hy aankondig sy skool het huiswerk afgeskaf.

Hy het verduidelik die kinders bring reeds sewe uur per dag op die skoolbanke deur en moet tyd hê vir maats, lees en sport.

Die drama het op 1 Augustus begin toe Jane een van haar dogter se wedstryde bygewoon het. Die vriendskaplike wedstryd het daardie middag suur geraak toe Jane haar stem dik maak oor die ander skool se skeidsregter wat volgens haar “uiters bevooroordeeld” was.

Sy het haar frustrasie teenoor hom geopper, waarop dié glo gesê het sy moet aan die skool skryf as sy voel daar is ’n probleem. Dis toe presies wat Jane gedoen het, maar die reaksie wat sy gekry het, was allermins wat sy verwag het.

“Jul afrigters is uiters bevooroordeeld wanneer julle by netbalwedstryde blaas,” het sy in haar e-pos geskryf. “Dit gaan al so lank aan dat julle ’n reputasie gekry het vir swak sportmanskap. Dit is die enigste skoolsport waar ek al ooit sulke blatante en omvattende partydigheid teëgekom het.”

Gavin is in kennis gestel van Jane se brief aan die ander skool, en hy het daarna aan haar ’n e-pos gestuur waarin hy haar “onbeheerbaar” en ’n “liefdelose” ma noem. Hy het ook daarin gesê sy het nie selfbeheersing nie.

“Ek was totaal geskok,” sê Jane, ’n projekbestuurder en die ma van nog ’n dogter (14).

“As jy so iets lees deur ’n skoolhoof, en nogal ’n gesiene hoof daarby, dink ’n deel van jou: ‘Regtig? Is alles hier regtig waar?’ ”

Twee weke later het Jane ’n e-pos aan een van Maddy se onderwysers gestuur oor iets heeltemal anders.

“Ek het gevra of ek ’n afskrif kan kry van ’n taak wat Maddy ingelewer het en wat ek net een keer gesien het. Maddy het gevra of sy dit beter kon gedoen het en ek het gevoel ek kan nie antwoord sonder om die taak voor my te hê nie.”

Maddy moes dit voor die leerders op die verhoog aanbied. “Ek het in my e-pos gesê dis jammer dat ek haar moes help nadat sy haar aanbieding reeds op die verhoog voorgelê het. Sy is nie voor of gedurende die proses die vaardighede geleer om dit te doen nie.”

Miskien was dit die breekpunt vir Gavin, want hy het aan Jane teruggeskryf en dié keer gesê sy word verbied om Maddy se netbalwedstryde by te woon. “Jy gaan voort om op te tree op ’n manier wat net as totaal onaanvaarbaar beskryf kan word,” was sy reaksie.

Hy het ook geskryf Jane se e-pos aan Maddy se onderwyser was “ ’n aanduiding van die trauma wat jou kind elke enkele dag van haar lewe moet deurmaak”.

Maddy is vroeër vir die WP se o.11-span gekies. Foto: Verskaf

Gavin het gedreig hy sal Maddy aan die skool se netbalspan onttrek as Jane nie instem om van haar wedstryde weg te bly nie.

Hy het ook gesê sy moet eerder ’n mediese persoon stuur om tydens wedstryde ’n oog oor Maddy se diabetes te hou en van skoolgeleenthede wegbly. ’n Sogenaamde skoolverlaatvorm is ook aan Jane gestuur.

Dis ’n vorm wat ouers kry wanneer ’n kind die skool verlaat – hulle moet hierop die boksie merk wat die rede vir die vertrek aandui.

“Talle ander ouers het gesê hulle het ook uit die bloute sulke kwaai e-posse ontvang tesame met ’n verlaatvorm. In elke geval was die boodskap duidelik: Pas in of f*****,” beweer Jane. Twee dae ná Gavin se tweede e-pos aan Jane was Maddy reeds vir ’n netbalwedstryd opgewarm toe glo vir haar gesê is sy mag nie speel nie.

Jane, wat geweier het om weg te bly, was daar om die wedstryd by te woon.

’n Senior lid van die skool se sportdepartement het Jane toe glo eenkant geroep en gesê die “opdrag kom van bo” en dis tussen “jou en mnr. Keller; bespreek dit dus met hom”.

“Ek moes die situasie aan Maddy verduidelik. Sy was in trane en het aanhou vra: ‘Hoekom gebeur dit?’ ”

Die skool het na bewering aangevoer Maddy het ’n oefening nie bygewoon nie en kon weens dié rede nie speel nie, maar Jane ontken dit en sê haar kind het nog nooit ’n oefening sonder ’n ondertekende nota misgeloop nie.

“Sy is verbied om te speel omdat haar skoolhoof nie van haar ma hou nie,” beweer Jane. Jane sê wat dit nog erger maak, is dat haar eksman nooit deur die skool in kennis gestel is van wat aangaan nie, hoewel hy die een is wat die skoolgeld betaal.

“Kan jy dink hoe hy gevoel het toe hy by die skool aankom om die wedstryd te kyk en hoor sy is verbied om te speel?”

Toe Huisgenoot Gavin om kommentaar nader, wou hy niks sê nie omdat hy glo aangeraai is om nie met die media te praat voor die skool se beheerraad, die onderwysdepartement en Jane saam om ’n tafel gesit het nie.

Hy het dit wel duidelik gestel hy dra net Maddy se belange op die hart. Jane sê dis belaglik.

“Hoe kan iemand uit sy pad gaan om ’n kind te verhoed om haar wonderlike skoolherinnerings met haar ma te deel en dan sê hy dra haar belange op die hart?”

Op 28 Augustus sou Gavin, die beheerraad en die kringbestuurder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) saam met Jane vergader. Die vergadering het egter sonder haar voortgegaan omdat sy haar prokureur saamgebring het.

Jessica Shelver, woordvoerder van die WKOD, verduidelik dit was teen die Skolewet om ’n prokureur na so ’n vergadering saam te bring. Op die vergadering is besluit om Jane te verbied om die res van die derde kwartaal enige skoolgeleenthede by te woon.

Jane het ’n brief ontvang van die beheerraadvoorsitter wat haar inlig die verbod sal vir nog ses maande ingestel word as die skool “nog ’n voorval van enige aard ervaar wat op jou betrekking het”. Jane oorweeg dit nou om haar dogter uit die skool te haal.

“Dis ’n jammerte, want sy is so gelukkig daar. Maar jy kan jou kind nie in ’n skool hou waar sy so geviktimiseer word nie.”

  • *Skuilname. 
Mag ’n skoolhoof ’n ouer by skoolgeleenthede verbied?

Die Skolewet bepaal ’n beheerliggaam beheer en bestuur die skool se geboue en terrein; daarom kan dit beheer wie op die skoolterrein toegelaat word, sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole.

Volgens hom is die skoolhoof deel van die skool se beheerliggaam, maar so ’n besluit moet in samewerking met die beheerliggaam geneem word.

“Die implikasie is dat die beheerliggaam enige persoon toegang tot die skoolterrein kan weier. Veral met sport kry jy oorgeesdriftige ouers wat op skeidsregters en selfs kinders skree en hulle onvanpas gedra. In geen skool is dié soort gedrag ooit aanvaarbaar nie.”

Hy het nie genoeg kennis oor die spesifieke saak nie, maar sê ’n kind is nie veronderstel om op enige manier deur ’n ouer se optrede geraak te word nie.