Klagtes van boeliegedrag is ingedien teen dr. Anto
Klagtes van boeliegedrag is ingedien teen dr. Anton Prinsloo, die hoof van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion. Foto: HSEldo.co.za.

’n Goeie skool is aan die hart van ’n hegte gemeenskap. Dis waar jou kinders opgevoed en geslyp word om hulle die beste kans op sukses te gee wanneer hulle die wêreld as jong volwassenes binnevaar.

Dit is waar goeie waardes en beginselvaste rigtingwysers vir die grootmenslewe ingeprent word.

En aan die kern van ’n goeie skool is ’n toegewyde, gesonde onderwyserskorps – en ’n hoof wat sy span suksesvol kan lei. 

Dekades lank was die Hoërskool Eldoraigne dié skool in Centurion. Ouers het tougestaan om hul kinders daar in te skryf. Maar toe begin die uittog van onderwysers. En gou was die leerders ook blykbaar nie gelukkig nie. 

Sedert Januarie 2015 het 153 onderwysers by dié skool bedank – en dikwels nie vir groener weivelde in ander stede of provinsies nie. Minstens 16 het bloot uitgewyk na Eldoraigne se buurskool, die Hoërskool Zwartkop.

Onderwysers vertel die vrees het begin sodra hul wekkers soggens lui en hulle vir nog ’n skooldag moes gereed maak. Talle het medikasie gebruik teen hul angs dat dit dié dag hul beurt sou wees om in die personeelkamer afgekraak te word.

Maar waarom sou onderwysers by Eldoraigne bedank teen ’n tempo sowat vyf keer soveel as by omliggende Gautengse skole?

Die rede, vertel talle oudleerkragte aan Huisgenoot, is die “klimaat van vrees” geskep deur dr. Anton Prinsloo, wat vyf maande gelede as hoof verwyder is weens beweerde boeliegedrag.

Tydens sy vyf jaar as hoof het hy na bewering sy onderwysers emosioneel en verbaal mishandel en hul selfvertroue ondermyn. 

“Ek het my menswees verloor,” sê een onderwyser wat weg is. “Ek was te bang om enigiets te sê wanneer ek van hom verskil, want dan word jy voor die ander verkleineer. Dis erg om dit te erken, maar ’n mens begin dink of hy dalk reg is.”

Onderwysers vertel die vrees het begin sodra hul wekkers soggens lui en hulle vir nog ’n skooldag moes gereed maak. Talle het medikasie gebruik teen hul angs dat dit dié dag hul beurt sou wees om in die personeelkamer afgekraak te word.

Die onderwysers praat anoniem omdat hulle deur die Gautengse onderwysdepartement verbied is om oor die situasie te praat en omdat hulle Anton steeds vrees.

“Hy is nog nie heeltemal weg nie; wat as hy weer terugkom?” vra een. 

Maar dis die tweede verslag in Maart vanjaar, deur Mkhabela Huntley Attorneys, in opdrag van die Gautengse onderwysdepartement, wat nog verdoemender was.

Hul onthullings oor sy jarelange skrikbewind by die skool word ondersteun deur twee verskillende verslae wat deur Huisgenoot gesien is. 

Die eerste, ’n “klimaatverslag” deur ’n Pretoriase konsultasiefirma, Koekemoer en Adendorf, is reeds in November 2019 deur die skool se bestuursraad aangevra.

Dit lui: “Sy bestuurstyl word as koud en dalk te taakgeoriënteerd beskryf. Hy duld nie foute nie en mag te veel op foute fokus en dan kritiseer.”

Maar dis die tweede verslag in Maart vanjaar, deur Mkhabela Huntley Attorneys, in opdrag van die Gautengse onderwysdepartement, wat nog verdoemender was.

“Ons het met minstens 30 werknemers by die skool gepraat. Byna almal met wie ons gepraat het, het dit beleef of gesien hoe dit gebeur,” skryf die prokureursfirma oor die sowat 20 klagtes van emosionele mishandeling teen Anton wat tot in daardie stadium deur die departement ontvang is.

In Mei vanjaar is Anton elders in die departement herontplooi hangende die uitslag van ’n dissiplinêre ondersoek teen hom. Die leerders het glo in luide applous uitgebars toe hulle die nuus hoor, en een onderwyser het gehuil van verligting.

Met die waarnemende hoof, Dave du Plessis, in beheer het die donker wolk oor “Eldo’s” begin wyk. 

Hoerskool EldDave du Plessis is tans die waarnemen
Dave du Plessis is tans die waarnemende hoof by die skool. Personeel sê die atmosfeer is reeds baie beter. Foto: HSEldo.co.za.

Kort voor ons druktyd het Anton nog nie op Huisgenoot se versoeke om kommentaar op die klagtes teen hom gereageer nie.

Vroeër het hy by navraag aan Huisgenoot gesê dis alles “ ’n klomp nonsens”. Hy het bygevoeg: “Ek mag in elk geval nie kommentaar lewer nie aangesien ek ’n departementele amptenaar is.” 

Hy het ook toe gesê die bewerings teen hom is “ver verwyderd van die waarheid”. 

Maar by party onderwysers is daar ’n knaende vrees dat dit nie die laaste sien van Anton was nie; daarom deel hulle vandag hul ontberings met Huisgenoot.

Hy het die vloer met jou gevee. Hy het dikwels vir personeel gesê: ‘Ek gaan jou op jou gat skop.’ Of: ‘Ek gaan jou ore vir jou trek.’ Onderwysers het na die weeklikse personeelvergadering verwys as ‘Sweepslag-Vrydag’. Ons is verkleineer en gekritiseer vir ons werk.

Alana* was in ’n bestuursposisie by Eldoraigne voor sy daar weg is “omdat ek nie meer onder Anton kon werk nie”. Sy beweer hy het uit die staanspoor boeliegedrag in personeelvergaderings getoon. 

“Ek onthou die eerste dag dat hy as hoof ’n vergadering geroep het. Ons was daardie jaar met die matriekuitslae vierde in die land. Ons was baie trots. Maar hy het gesê vierde beteken niks. Die wind was uit ons seile,” vertel sy. 

“Hy het die vloer met jou gevee. Hy het dikwels vir personeel gesê: ‘Ek gaan jou op jou gat skop.’ Of: ‘Ek gaan jou ore vir jou trek.’ Onderwysers het na die weeklikse personeelvergadering verwys as ‘Sweepslag-Vrydag’. Ons is verkleineer en gekritiseer vir ons werk.” 

Nog ’n oudonderwyser, Pieter*, beweer Anton het nooit sy leerkragte bedank of geloof nie. “Ek het sportseuns en -meisies gehad wat internasionaal presteer het, maar ek wag nou nog vir ’n gelukwensing van hom af. Hy het my onbeholpe laat voel omdat hy ’n mens voor al die ander personeel gekritiseer het. Niks was ooit goed genoeg nie.”

Volgens Pieter wou Anton alles self beheer. “Al ons adjunkhoofde moes van voor af aansoek doen vir hul poste. Hy het gemikrobestuur.

“Ek het jare lank elke kwartaal kwotasies van verskeie busmaatskappye gekry vir die vervoer van ons kinders na sport- en kultuurgeleenthede. Toe besluit hy oornag ek moet vir elke busrit drie kwotasies kry en hy sal die beste een kies. 

“Dit was menslik onmoontlik om klas te gee, sport af te rig, ander administrasie te doen en soms eers ’n dag of twee voor ’n byeenkoms nog busse te reël.”

Hy sê Anton het altyd die skuld verskuif. “Ouers het my oor kinders se sportbeurse gevra, en dan het ek gesê alles moet nou deur Anton gaan; dis ’n nuwe beleid. Maar hý sê vir hulle ek is stadig.”

Hoerskool Eldoraigne
Hoërskool Eldoraigne in Centurion. Foto: Lubabalo Lesolle.

Melissa* was nog jonk en aan die begin van haar onderwysloopbaan toe sy twee jaar gelede by “Eldo’s” weg is.

“Ons het konstant op eiers geloop. Ek was te bang om my werk te geniet. As ek verby hom gestap het, was ek te bang om te groet, want ’n mens weet nie wat uit sy mond gaan kom nie.”

Sy vertel sy was eenkeer amptelik met siekverlof, maar dat Anton haar gedwing het om te werk “al was my stem heeltemal weg weens brongitis. Ek het op my arms gelê in sy kantoor soos hy my aanhou uithaal oor my siekverlof, want ek kan myself nie regop hou nie, maar werk moet ek werk.”

‘Ons is verkleineer en gekritiseer vir ons werk’

Nog ’n voormalige onderwyser sê aan Huisgenoot: Drie jaar nadat hy uit selfbehoud padgegee het by Eldo’s, is dit vir hom steeds te seer om oor sy lewe onder Anton se hand te praat.

“Ek is al jare ’n onderwyser. Maar die tyd daar . . . Dit was verskriklik. Ek kon nie meer nie. Ek wil nie sy gat dieper grawe nie; hy is ook ’n mens, en ek het hom al vergewe.”

In hul verslag aan die onderwysdepartement bevind Mkhabela Huntley Attorneys daar is “oorweldigende bewyse” dat verhale soos hier bo waar is.

“Personeel het bewyse gelewer dat hulle genoop was om medikasie te kry om die angstigheid te beheer wat dié gedrag by hulle gewek het. Ons bevinding is dat die hoof personeel verneder; ’n nie-insluitende omgewing vir onderrig skep; en ook nie ten volle eerlik is met personeel en die bestuursraad nie. Daar is diep ongelukkigheid oor die hoof,” lui die verslag.

By ’n byeenkoms saam met leerders. Verlede maand h
By ’n byeenkoms saam met leerders. Verlede maand het leerders ’n petisie begin nadat Anton terug op sy pos was. Foto: HSEldo.co.za.

En wat van die leerders? 

“Jy het nooit gewaag om vir hom ‘meneer’ te sê nie. Hy sou jou op die plek uittrap en sê hy het nie al die jare studeer om ’n meneer te wees nie. Hy is doktor,” sê een oudleerder

’n Ouer sê haar dogter moes al ná skool bly as straf omdat sy Anton “meneer” genoem het. 

“Hy was nooit, maar nooit, in ’n goeie bui nie. Almal het draaie om hom geloop,” sê ’n ander leerder. 

Selfs ’n plaaslike haarkapster vertel baie ouers het by haar gekla omdat daar so gereeld personeelveranderings was.

“Die een ná die ander ouer het in my stoel gekla. Ek weet van ouers wat hul kind aan die einde van gr. 11 geskuif het omdat so baie van die kind se onderwysers daardie jaar verander het, en hulle was bang die matriekpunte ly daaronder.”

‘Hy het omgegee oor die gebou, maar nie oor die mense in die gebou nie’

Tog sê een ouer hy het net respek vir Anton, en hy glo in sy onskuld. “Hy was ’n goeie leier, en ’n goeie leier kan nie almal gelukkig hou nie.”

Hy onthou toe hy en Anton mekaar die eerste keer ontmoet het.

“My seun het rugby geoefen; ek was op die paviljoen. Hy het verbygeloop, sy hand uitgehou en homself as Anton voorgestel. Toe ek hom vra watter een van die seuns syne is, het hy gesê hulle almal is.”

Anton se kritici gee toe hy het nuwe sportgeriewe gevestig en die terrein lyk uitstekend. “Die skool is deesdae ’n monument,” sê Alana. “Maar baie mense het vir dié monument gesneuwel. Hy het omgegee oor die gebou, maar nie oor die mense in die gebou nie. Baie van ons het huilend uit elke vergadering uitgestap.”

Iemand van die departement het hier ingeloop en aangekondig dr. Prinsloo is terug. Ek was so ontsteld dat ek gaan wegkruip het, want ek het in trane uitgebars.

Die uittog van onderwysers het volgens party veroorsaak dat ’n plekkie op die skoolbanke in Eldo’s nie meer so gesog soos voorheen is nie. En die skool se matriekslaagsyfer is nie meer wat dit was nie. “Die skool se sport en atletiek ly daaronder. Kinders wat presteer gaan bloot nie meer Eldoraigne toe nie,” sê Pieter.

Vir vier, vyf maande ná Anton se vertrek was Eldo’s ’n baie gelukkiger skool. En toe, op 18 Augustus, duik hy eensklaps weer op . . . 

“Iemand van die departement het hier ingeloop en aangekondig dr. Prinsloo is terug. Ek was so ontsteld dat ek gaan wegkruip het, want ek het in trane uitgebars,” vertel een personeellid. 

Toe het Steve Mabona, onderwyswoordvoerder, aan Huisgenoot verduidelik dit is gedoen omdat net twee personeellede bereid was om in sy dissiplinêre verhoor teen Anton te getuig. 

Maar in die Eldo’s-skoolgemeenskap was die duiwel los. Minstens 50 ouers het in ’n petisie aan die bestuursraad beswaar gemaak teen Anton se terugkeer. Leerders het hul eie petisie, “Red Eldo’s”, begin.

Op sy beurt het die bestuursraad die onderwysdepartement met regstappe gedreig.

Johan Rossouw, ’n oudleerder van Eldoraigne en ’n professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat, het in sy Netwerk24-rubriek geskryf: “Daar is meer as een manier om, soos ons skoolleuse lui, jou roeping te vervul. Lojale verset om ons skool in ere te herstel is een so ’n manier.”

Die skoolgemeenskap se verset het sake op die spits gedryf, sê Chris Klopper, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. “Ons het verskeie gesprekke met die departement gevoer.”

Die departement het geluister. 

Op 27 Augustus, ná net meer as ’n week, moes Anton ’n tweede keer sy ou kantoor ontruim – en volgens die departement is dit omdat dié wat aanvanklik klagtes teen hom gebring het, nou bevestig het dat hulle wel teen hom sal getuig.

“Nuwe bewyse is ook gelewer. Ons evalueer tans alle bewyse en sal binne sewe werkdae ’n kennisgewing van verhoor uitreik,” sê die departement se Steve Mabona.

Anton is na die distrikskantoor verskuif hangende die uitslag van sy dissiplinêre verhoor.

By Eldo’s se onderwysers, leerders en die ouergemeenskap is daar opnuut ’n gees van dankbaarheid en verligting, vertel een leerkrag. Vir krag en inspirasie kyk hulle weer na hul skool se leuse: “Vervul jou roeping.”

* Skuilname.

Regsverteenwoordiger se reaksie

By navraag sê Anton se regsverteenwoordiger, adv. B.L. Roode: “Daar is tot op hede geen formele klag van wangedrag aan dr. Prinsloo gerig nie. Sou daar egter ’n formele dissiplinêre proses belê word, sal dr. Prinsloo dienooreenkomstig op sodanige beweringe kan antwoord, indien nodig.

“Daar kan dus geensins in hierdie stadium kommentaar gelewer op die meriete, al dan nie, van die departement van basiese onderwys se besluit om ’n verdere ondersoek te loods nadat daar aanvanklik bevind is dat die beweringe teen dr. Prinsloo nie gestaaf kon word nie. Dr. Prinsloo respekteer die departement se besluit om die saak verder te ondersoek en hom tydelik te verplaas sodat die proses sy verloop kan neem.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe