Nadia van der Westhuizen het in 2013 uitgeblink in
Nadia van der Westhuizen het in 2013 uitgeblink in die werklikheidsreeks SA’s Got Talent, maar ook oop kaarte daaroor gespeel dat haar ma toe in die gevangenis was. Foto: Corrie Hansen / Gallo Images

Van jongsaf het sy van ’n blink toekoms as suksesvolle sangeres gedroom, maar Nadia van der Westhuizen het gou besef roem sou vir haar ’n skadukant hê – sy sou moes oop kaarte speel oor ’n groot seer in haar jong lewe. 

Daarom het sy as 11-jarige deelnemer aan die e.tv-werklikheidsreeks SA’s Got Talent voor die TV-kameras gebieg: “My ma. . . sy is in die gevangenis en dis eintlik vreeslik moeilik.”

Tog het sy bygevoeg: “Maar ek is baie lief vir my ma.”

Nou, agt jaar ná die ontboeserming waarmee die klein meisietjie met die groot stem TV-kykers ontroer het, bly Nadia (18) steeds lief vir haar ma, selfs al het Nelmari van der Westhuizen (40) pas weer agter die tralies beland.

“Bonnie en Clyde van die wynland is vasgetrek,” het ’n nuusopskif gelui oor Nelmari se arrestasie saam met dié van haar kêrel, Petrus Wilders (33), verlede maand. Hulle het reeds op aanklag van diefstal in die landdroshof in Stellenbosch verskyn en word ook met twee bedrogsake by gastehuise in die Boland verbind.

Al het die jong sangeressie destyds gehoop dat haar ma eindelik ’n skoon blaadjie sou omslaan, het Nelmari sedert haar vrylating in 2014 op parool al verskeie kere met die gereg gebots.

“Ek is nie eers heeltemal seker hoeveel keer sy binne was nie,” sê Nadia. “Sy was op ’n keer vir 18 maande verhoorafwagtend en toe is die saak uitgegooi of teruggetrek.”

Haar oë raak effens vogtig wanneer sy oor haar ma praat, maar haar skouers bly fier en regop hier by haar ouma Alta en stiefoupa Johan Kotzé se huis in Proteahoogte, noord van Kaapstad – dieselfde huis waar Nelmari op Dinsdag 17 Maart in hegtenis geneem is, dié keer voor Nadia.

“Dit was baie traumaties. Ek het baie gehuil. Ek wou nie hê die kinders moes alles sien nie,” sê Nadia oor haar drie jonger sibbe, ’n halfsussie en twee halfboeties.

En haar ma?

“Sy was stil, gelate.”

Nadia as jong meisie toe sy aan SA's Got Talent de
Nadia as jong meisie toe sy aan SA's Got Talent deelgeneem het. Foto: Noncedo Mathibela

Die lang arm van die gereg het Nelmari vir die soveelste keer ingehaal nadat lede van die blitspatrolle daardie dag ’n silwer Citroen in Voortrekkerstraat, Bellville, opgemerk het wat met die diefstaf van ’n motorfiets die vorige week verbind word. 

Haar kêrel Petrus is net daar in hegtenis geneem en die ondersoek het hulle na die Kotzés se huis gelei.

Daar het hulle ’n motor vol pruike, stelle sleutels, messe, chirurgiese handskoene en geheuestokkies gekry.

Die Bolandse “Bonnie en Clyde” se modus operandi was glo om plek by gastehuise te bespreek en dan items soos elektroniese toestelle uit kamers te steel.

“Ek weet nie hoekom hulle haar en ­Petrus ‘Bonnie en Clyde’ noem nie,” sê Nadia oor dié verwysing na die Amerikaanse paartjie wie se rooftogte in die gelyknamige fliek van 1967 uitgebeeld is. “Dis nie asof hulle die wêreld saam platbesteel het nie. Ek dink hulle was by twee voorvalle saam betrokke.”

Petrus Wilders, wat saam met Nelmari aangekla word. Foto: Facebook
Petrus Wilders, wat saam met Nelmari aangekla word. Foto: Facebook

Petrus, ’n jare lange vriend van haar ma, het eers onlangs haar kêrel geword, vertel Nadia. “Ek dink nie dit is Petrus wat haar beïnvloed het nie. Inbrake is haar forté en sy het ’n sterk persoonlikheid.”

Nog voordat Nadia in 2013 vir SA’s Got Talent ingeskryf en die topses gehaal het, was haar ma reeds in en uit die gevangenis. 

“My ouma-hulle vertel my dat my ouers ’n goeie stoffeerbesigheid gehad het toe ek klein was. Hulle het baie geld gemaak het toe met dwelms deurmekaar geraak. My pa het later weggetrek en reggekom, maar hy is nie regtig deel van my lewe nie.”

Haar grootouers het destyds vermoed dat alles nie pluis is in klein Nadia se ouerhuis nie en sy ál meer by hulle gebly. Sy het later by hulle grootgeword en hulle het haar aangemoedig om aan kunswedstryde deel te neem en sanglesse te neem. 

Die afgelope jare was ’n wipwarit van hoop en teleurstellings vir Nadia en haar grootouers, want hulle het bly glo dat Nelmari haar lewe sou regruk.

“Elke keer as sy uit die tronk kom, is sy vir so tydjie reg,” vertel Nadia oor haar ma. “Dan begin die verkeerde vriende haar uitsnuffel – iemand sal bel of net hier opdaag.”

Die afgelope tyd het haar ma ’n nomadiese bestaan gevoer en dikwels by vriende oorgebly. Wanneer hulle haar bel en vra waar sy is, het sy meestal geantwoord: “Ek is op ’n kolletjie.”

Nadia vermoed haar ma se stryd om haar lewe te verander het baie daarmee te doen dat sy die aanvaarding waarna sy smag, by die “verkeerde vriende” vind. En haar dryfveer is om geld in die hande te kry vir dwelms.

“Sy is goed met wat sy doen. Sy is intelligent. My ouma sê sy sal net na ’n sleutelgat kyk en weet watter soort sleutel daarin hoort. Dit is een van die redes hoekom die vriende haar so uitsoek.

“Ek dink sy kry ook ’n mate van kick daaruit, veral as sy nie gevang word nie.”

Nadia en haar ma, Nelmari van der Westhuizen, wat
Nadia en haar ma, Nelmari van der Westhuizen, wat onlangs weer in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Ondanks dit alles bly sy lief vir haar ma. “Ek praat nie goed wat sy doen nie, maar sy is nog steeds my ma. Al was sy in en uit ons lewens, was sy nog altyd deel daarvan. Wanneer sy hier is, sal sy gehaltetyd saam met ons deurbring. Sy sal op die mat sit en met die kinders speel. 

“Ek dink nie sy weet altyd wat sy aan ons doen nie. Dis asof sy nie regtig hoor wat ’n mens sê nie. Ek dink dit is die dwelms. . .”

Sy kan sien wanneer haar ma dwelms gebruik het, want dan raak sy “agitated.”

“My grootste wens vir haar is dat sy haar intelligensie vir iets goeds kan aanwend.”

Intussen preek Nadia as ousus vir haar sussie en boeties om nie die verkeerde leefwyse te kies nie. “Ons het beslis gesien watter foute my ma maak.”

Sy bring baie tyd saam met haar sibbe deur, selfs al woon sy deesdae by haar kêrel van die afgelope 18 maande, Jaden Ellis (22), hier naby. Hy werk vir ’n digitale onderneming wat borde met korporatiewe handelsmerke oprig. 

Nadia het ’n kursus in kantoorbestuur by ’n kollege gevolg nadat sy die skool ná graad 9 verlaat het, en help nou haar grootouers met ’n gastehuis en wassery wat hulle bedryf.

“Dit is steeds my droom om ’n loopbaan van sang te maak,” sê sy.

Sy het na haar sukses in SA’s Got Talent by Huisgenoot Skouspel van 2014 opgetree en was ook daardie jaar en die vorige jaar by Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn op die verhoog.

Sy het twee jaar laas opgetree, nadat kenners in die bedryf haar aangeraai het om met ’n sangloopbaan te wag tot sy ’n bietjie meer volwasse is. Teen verlede jaar was sy vuur en vlam om nuwe geleenthede aan te gryp, maar toe ry die pandemie haar planne in die wiele. 

“Ek is dol oor die vermaaklikheidsbedryf. As daar vir my ’n deur oopmaak, sal ek daar deurstap,” sê sy, haar donker oë blink van geesdrif.

Net soos sy steeds haar drome oor ’n sangloopbaan koester, beskaam die hoop nie dat haar ma wanneer sy weer vrygelaat word, ’n nuwe lewe vir haar en haar kinders sal begin bou nie. 

Sy en haar grootouers wens hulle kan Nelmari dan na ’n rehabilitasiesentrum stuur, weg van die bekende omgewing en die “”verkeerde vriende”. Maar vir eers knyp die finansies en moet die gereg sy loop neem. 

Nadia het ná haar ma se onlangse arrestasie haar in die gevangenis besoek. “Sy lyk rustig,” vertel sy. Dan word sy stil, leun vooroor en begin gespanne oor haar been vryf. 

Die toerusting wat in ’n voertuig gevind is wat po
Die toerusting wat in ’n voertuig gevind is wat polisie gekonfiskeer het en wat Nelmari na bewering vir inbrake gebruik. Foto: SAPD

Is dit vir haar in haar tienerjare steeds “vreeslik moeilik” -- soos sy dit as 11-jarige op TV gestel het – om sonder ’n ma se raad en leiding haar pad deur die lewe te probeer vind?

“Ek kry my tye wat ek af voel,” erken die donkerkop met die groot oë. “Soms wil ek net ’n mamma hê.”

Bykomende bron: Netwerk24

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe