Elke middag tweeuur het honderde jong mense, van kop tot tone in skakerings van rooi en oranje geklee, op ’n stowwerige pad in die berge van Oregon vergader en plegtig gewag dat ’n motor verbykom.

Dit was altyd ’n Rolls-Royce, maar elke dag ’n ander een, en dit het stadig verbygery terwyl hulle buig en rose op die enjinkap gooi. In dié motor – geklee in gewade met ’n teemusagtige wolhoed op die kop en met ’n lang grys baard en ’n geluk­salige glimlag – was die ghoeroe aan wie hulle hul toegewy het: die mistikus Bhagwan Shree Rajneesh.

Volgelinge van die Rajneesh-beweging het in die 19
Volgelinge van die Rajneesh-beweging het in die 1980’s smiddae saamgedrom om rose op sy Rolls-Royce te gooi.

Daarna het die skare weer op die landerye gewerk, gemediteer of “hul ware self” in groepseks gevind.

Rajneesh – moenie hom met die veel makker Maharishi, die Beatles se Indiese ghoeroe, verwar nie – was in die 1970’s en ’80’s die leier van ’n New Age-kultus wat vrye liefde, onortodokse meditasietegnieke en loutere buitensporigheid soos geen ander omarm het nie.

In Indië het hy die “seksghoeroe” geheet, en hy het duisende volgelinge van oor die hele wêreld gelok.

Maar toe hy ­later na Amerika verhuis, is hy die “Rolls-Royce-­ghoeroe” gedoop, want hy het in ’n stadium 93 van dié spogmotors besit.

Sy volgelinge was dikwels hoogs geleerde beroepsmense wat gereed was om die beperkings van middelklaskonvensie te verwerp. Eers in Indië en later in kommunes in Amerika, Duitsland en Engeland het hulle tot nuwe insigte gekom. Party het hul huweliksmaats en kinders verlaat, terwyl ander al hul besittings aan die kultus geskenk het.

In ruil daarvoor het hulle ’n krale­hangertjie met ’n foto van die ghoeroe, ’n nuwe naam en sy duimafdruk op hul voorkop ontvang. Laasgenoemde was hul “derde oog” van insig.

Baie het ’n kralehangertjie met ’n foto van hom ge
Baie het ’n kralehangertjie met ’n foto van hom gedra.

Maar die groep se poging om in die 1980’s ’n utopiese stad van R95 miljoen in die Amerikaanse deelstaat Oregon te bou het hul ondergang beteken.

Dit het tot ’n skandaal gelei waarvan pogings tot moord, verkiesingsknoeiery en wapen­smokkelary deel uitgemaak het – en ook ’n massavergifting wat steeds as die grootste bio-terreuraanval in die Amerikaanse geskiedenis beskou word.

In ’n nuwe Netflix-dokumentêr in ses dele, Wild Wild Country, word die verhaal van die Rajneesh-beweging se agteruitgang bekyk; ’n vrede-en-liefde-hippiedom wat in ’n duisternis van moord en masjien­gewere versink het.

Vir dié reeks het die fliekmakers met voormalige sleutelfigure van die Rajneesh-beweging gepraat, onder wie die ghoeroe se onderbevelvoerder, Ma Anand Sheela. Elkeen is skynbaar nostalgies oor die euforiese dae. Beeldmateriaal wat destyds deur die beweging ­opgeneem is, is ook vir die reeks in­gespan.

Dit word aan die kyker oorgelaat om te besluit: Was die “Rajneeshees” ’n skrikwekkende, moorddadige kultus of, soos party steeds volhou, net ’n vreedsame, vervolgde minderheidsgeloof?

Die feite, sê die vervolgers en ander buitestanders wat met die toksiese groep te doen gehad het, is verdoemend.

Rajneesh was ’n lektor in die filosofie wat in 1970 ’n spirituele beweging en kommune in Pune naby Moembai in Indië gestig het. Sy leringe was ’n bisarre mengsel van popsielkunde, antieke Indiese wysheid, kapitalisme, seksuele bandeloosheid en vuil grappe uit die Playboy-tydskrif.

Sy “dinamiese” groepmeditasie – met toe oë en popmusiek wat blêr – het ’n ­geskree, wilde danspassies en ’n gespring behels terwyl jy “Hoo!” gil.

Sy filosofie het om seks – baie daarvan en met soveel maats moontlik – gedraai.

Hy het volgehou die meeste sielkundige probleme word deur die onderdrukking van seksuele energie veroorsaak. Die monogame huwelik is onnatuurlik, het Rajneesh aangevoer. Hy het losbandigheid van 14-jarige ouderdom af voor­gestaan en ook die omruil van seksmaats.

Met groot, sagte oë wat jou blik gevange hou, was hy so charismaties dat baie van sy volgelinge geglo het hy kon ’n tweede Boeddha wees. Hulle het sta­dions met 20 000 sitplekke volgepak om hom te hoor praat.

Maar Rajneesh, wat in 1931 gebore is, was geen vroom mistikus in ’n lendedoek nie. Hy kon nie genoeg aardse besittings versamel nie – nie net Rolls-Royce’e nie, maar ook duur juweliersware en Rolex-­horlosies besaai met diamante.

Hy het veral welgestelde Westerlinge na sy asjram in Pune probeer lok. Daar het hy lesings gelewer voor ’n reuse­banier wat lui: “Gee jou aan my oor en ek sal jou verander.”

Die lede van die kultus in 1979 tydens ’n diens.
Die lede van die kultus in 1979 tydens ’n diens.

Hy het sulke buitensporige pryse vir groepterapie gevra dat van sy vroulike volgelinge as prostitute gewerk het om die geld bymekaar te skraap.

Die Britse akteur Terence Stamp, die ster van die rolprente Billy Budd en Far from the Madding Crowd, het in 1976 by hom opgedaag nadat sy meisie, Jean Shrimpton, ’n supermodel van die 1960’s, hom gelos het. Hy het ’n hele paar jaar daar gebly.

Anneke Wills, ’n Britse aktrise wat in die trefferreeks Doctor Who gespeel het, het in 1975 by die asjram aangesluit.

“Vir die eerste paar nagte het ek in my kussing gehuil. Ek het my wonderlike huis vir ’n matras in ’n gemeenskaplike slaapsaal verruil,” het sy later vertel.

“Maar daar was wonderlike mense. Die vryeliefdeding het my verveel. Ek het in die meditasie belanggestel.”

Ses jaar later het sy die “Bhagwan” na Oregon gevolg. Sy was een van duisende nie-Amerikaanse volgelinge wat gereëlde huwelike aangegaan het sodat sy in die land kon bly.

Die Britse joernalis en rubriekskrywer Bernard Levin het ook daarvoor geswig.

Hy het in sy laat 40’s in die asjram gebly en later ’n rits vleiende artikels oor die Bhagwan geskryf. Hy het hom beskryf as “die kanaal waarlangs die lewenskrag van die heelal vloei”.

Rajneesh het in 1981 na Oregon geskuif omdat die Indiese owerheid hom toe vir immigrasiebedrog, belasting­ontduiking en dwelmsmokkelary begin ondersoek het. Die groep het ’n veeplaas van 26 000 ha gekoop naby die dorpie Antelope met net 50 inwoners.

Die diep gelowige plaaslike inwoners het nie juis die 7 000 nuwelinge met ope arms verwelkom nie.

Veeboere het met gewere en Bag a Bhagwan-buffer­plakkers begin rondry, maar met hul ­oorwig van getalle het die Rajneeshees in die plaaslike verkiesing beheer oor die dorp oorgeneem.

Die plaaslike inwoners en die Rajneeshees het dikw
Die plaaslike inwoners en die Rajneeshees het dikwels vasgesit.

Antelope is na Rajneeshpuram herdoop. Die oorwinnaars het ’n gewapende “vredesmag” gestig wat daagliks met Uzi- halfoutomatiese gewere op hul skietbaan geoefen het. Hulle het op die dorp rondgery in ’n Jeep met ’n 30-kaliber-masjiengeweer daarop gemonteer.

’n Plaaslike park is vir kaalbas sonbaai opsygesit. ’n Verontwaardigde inwoner het gekla sy hoor “heeldag en -nag mense se orgasmiese ervarings”.

Later is met bouwerk aan ’n selfonderhoudende Rajneeshstad vir 50 000 in­woners begin, met huise, winkels en selfs ’n lughawe. Maar die plaaslike inwoners het saam regstappe gedoen om dié ontwikkeling te keer, met die steun van politici wat ál meer oortuig geraak het die Rajneeshees is ’n gevaarlike kultus.

Die joernalis Christopher Hitchens het in ’n BBC-dokumentêr die bisarre gebeure by die asjram onthul. Beeldmateriaal het ’n klomp naakte mans en vroue gewys wat mekaar in ’n stampvol vertrek verskree en aanval.

Dié dokumentêr het ook die sluier gelig oor nog ’n ontstellende sessie toe ’n vrou kaal gestroop is en “omring is deur mans wat haar toesnou en die aandag op haar liggaamlike en geestelike tekort­komings vestig tot sy kruiperig en vol trane en verskonings is”.

“In daardie stadium word sy omhels en getroos dat sy nou ‘ ’n familie’ het,” sê Christopher. “Terwyl sy van verligting snik, word sy nederig ’n lid van die stam.”

Hy sê dit was nie duidelik wat sy moes doen om haar klere terug te kry nie.

“Maar ek het wel geloofwaardige en aaklige getuienis oor hierdie aspek gehoor,” voeg hy somber by.

Gerugte het die ronde gedoen dat Rajneesh sy eie harem het. Trots het hy teenoor die media gespog dat hy al seksuele verhoudings met “honderde vroue” gehad het. Maar die ghoeroe se jare lange Britse minnares en versorger, ’n brunet genaamd Christine Wolf Smith (of Vivek, soos hy haar genoem het), het grotendeels sy seksuele behoeftes bevredig.

Die ghoeroe en sy meisie Christine Wolf Smith.
Die ghoeroe en sy meisie Christine Wolf Smith.

Weens gesondheidsprobleme het Rajneesh nog voor sy aankoms in Amerika opgehou om sy volgelinge toe te spreek. Hy het hom in “openbare stilswye” onttrek, in ’n bewaakte kompleks gewoon en selde uitgegaan, buiten sy ritte smiddae in een van sy geliefde Rolls-Royce’e.

Hy het die bestuur van die beweging aan Ma Anand Sheela, sy sekretaresse, oorgelaat.

Sy was ’n jong Indiese vrou, klein van gestalte en met ’n innemende glimlag, maar daaragter het ’n genade­lose megalomaan geskuil. Aan haar heup was ’n groot handwapen altyd vas. Sy sou enigiets doen om te sorg dat die beweging oorleef en sy haar mag behou.

In 1984 het die Rajneeshees vir soveel as 6 000 haweloses van oral in Amerika ’n tuiste op die veeplaas gebied, skynbaar as ’n weldaad.

In die werklikheid is hulle met busse aangery sodat hulle kon regis­treer om in ’n verkiesing vir die plaaslike distrikskommissie te stem. Die Rajnee­shees wou beheer oorneem sodat hulle goedkeuring vir hul stad kon kry.

Die ghoeroe wou ’n utopiese stad vir sy volgelinge bou.

Toe amptenare die bedrogspul fnuik, is die haweloses weer in busse gelaai en in omliggende stede afgelaai.

Sheela se oorheersing oor die kultus is bedreig toe Hollywood met die ghoeroe gefassineerd raak.

Françoise Ruddy, die medevervaardiger van The Godfather, het swierige geldinsamelings by haar herehuis in die Hollywood Hills vir hom begin hou. Daar kon gaste sy voorliefde vir duur tierlantyntjies bevredig soos ’n horlosie met diamantversiering van miljoene dollars wat hy versoek het.

Rajneesh het ook baie geld bestee aan die dwelms waaraan hy verslaaf was. Hy het groot hoeveelhede Valium gedrink en distikstofmonoksied (laggas) ingeasem.

Moontlik in ’n dwelmwaas het hy oortuig geraak ’n katastrofe bedreig die wêreld. Hy het sy persoonlike dokter, George Meredith, middels gevra sodat hy pynloos kon sterf.

Teen dié tyd het die paranoïese Sheela sleutelmense in die groep, ook die ghoeroe, afgeluister.

Rajneesh en sy onderbevelvoerder, Ma Anand Sheela.
Rajneesh en sy onderbevelvoerder, Ma Anand Sheela.

Nadat sy Rajneesh se gesprek met George gehoor het, het sy haar bondgenote oortuig die dokter wil hul meester doodmaak en moet dood­gemaak word.

Jane Stork, ’n Australiese volgeling, het ’n miniatuurspuitnaald met adrenalien in die dokter se linkerboud ingedruk.

“Ek het soos Johanna van Arkel gevoel wat tot die geveg toetree,” sê sy in die dokumentêr.

“Dit het alles daaroor gegaan om die Bhagwan lewend te hou.”

Maar die dokter het oorleef. Hy was net een van die mense op Sheela se moordlys van die kultus se “vyande”. Dit het joernaliste, amptenare en die Amerikaanse staatsprokureur vir Oregon, Charles Turner, ingesluit.

Sy het geweet Charles wou die groep van immigrasiebedrog aankla oor die vals huwelike wat vir buitelandse lede gereël is.

Weer het Jane tot die sluipmoord ingestem en het sy heeldag met ’n rewolwer buite sy kantoor gewag. Hy het nie sy opwagting gemaak nie. Ander amptenare is ook agtervolg, maar die moordplanne is later geskrap.

Rajneesh se meisie, Vivek, was ook in die visier. Sy het later aan die Amerikaanse speurdiens (FBI) gesê sy glo Sheela het eenkeer vir haar ’n koppie tee met gif daarin gegee. Dit het haar hartkloppings laat kry en baie naar gemaak.

Die kultus het sy eie laboratorium vir biologiese oorlogvoering gehad en bokse met vergiftigde sjokolade is aan party teikens gestuur. ’n Regter is amper dood nadat hy daarvan geëet het.

’n Vlieënier van die groep se eie lug­redery, Air Rajneesh, het ook beweer Sheela het hom aangesê om ’n bom uit sy vliegtuig op ’n gebou te laat val.

Toe verhoudings in die groep ál meer versuur, het Sheela en van haar bond­genote een aand in September 1985 van die veeplaas gevlug en in Wes-Duitsland geskuil.

Woedend oor haar gedros het Rajneesh sy stilswye ná vier jaar verbreek. In die openbaar het hy haar en haar “bende fasciste” van talle ernstige misdade beskuldig soos drie pogings tot moord en die verduistering van miljoene. Hy het ­geïnsinueer dat sy uit jaloesie weggegaan het omdat hy nie by haar wou slaap nie.

“Dit het geblyk sy is nie ’n vrou nie, maar ’n ware feeks,’ ” het hy gesê.

Sheela het teruggekap en die beweging ’n “reusebedrogspul” genoem van ’n man wat geensins in nuwe insigte belangstel nie.

Rajneesh se bewerings het die FBI op die veeplaas laat toeslaan. Hulle het op ’n bunker onder Sheela se huis afgekom met 10 000 bandopnames van haar massa-meeluisterprojek en ’n arsenaal met ongeregistreerde vuurwapens wat vir ’n Rajneesh-“sluipmoordspan” bedoel was.

Toe hulle die volgelinge ondervra, het die FBI nog bose planne oopgevlek. In ’n poging om die kiesers op Antelope uit te skakel wat Rajneesh nie ondersteun nie, het die Rajneeshees die watertoevoer van die naaste dorp, The Dalles, probeer vergiftig deur bewers – draers van skadelike bakterieë – daarin vry te laat.

Toe dit blyk die bewers is te groot om deur die dambedekkings te glip, is die diere by voedselverwerkers ingeprop en hul versapte lywe in die reservoir gegooi.

Dit het nie gewerk nie, maar in ’n proeflopie vir ’n meer uitgebreide poging om kiesers uit te skakel, het die Rajneeshees kos op slaaitoonbanke in restaurante oral op die dorp met salmonella besmet. Meer as 750 mense het ernstig siek geword en ’n paar, onder wie ’n pasgebore baba, het byna gesterf.

Sheela en sewe ander is uitgelewer aan Amerika, waar hulle skuldig bevind is aan sameswering tot aanranding, pogings tot moord, brandstigting, massavergiftiging en onwettige meeluistering.

Sy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan sy 29 maande uitgedien het voor sy vrygelaat en gedeporteer is. Sy is nou in haar 60’s en woon in Switserland, waar sy ’n tehuis vir mense met psigiese siektes bestuur.

Haar regterhand, Jane, is ook opgesluit.

Aanklaers kon Rajneesh net van immigrasiebedrog aankla. Hulle was bang dit sou op ’n bloedige skietgeveg met sy swaar gewapende verdedigingsmag uitloop as hulle hom in hegtenis probeer neem, maar Rajneesh het in ’n straler gevlug. Hy is vasgetrek toe die tuig land vir brandstof net voor dit Amerika sou verlaat.

Die ghoeroe het tot ’n pleitooreenkoms ingestem en is gedeporteer. Hy het na Pune teruggekeer, sy naam na Osho verander en is in 1990 op 58 aan hartversaking dood.

Mense in die binnekring het erken al het hy vrede en liefde verkondig, het Rajneesh gure beskouings gehad, en hy was selfs ’n aanhanger van Hitler.

Twee volgelinge in 1981 by ’n Bhagwansentrum in Du
Twee volgelinge in 1981 by ’n Bhagwansentrum in Duitsland.

Vandag is daar steeds ’n klein aantal Rajneesh-volgelinge oor die wêreld. In die jare sedert die kultus se bloeityd het voormalige lede lelike waarhede oor die vryeliefdekultuur blootgelê: Party vroue is verkrag, aborsies is soms afgedwing, en amper 90% van die volgelinge het ’n seksueel oordraagbare siekte gehad.

Ironies genoeg is die Oregon-veeplaas wat eens ’n hawe vir vrye seks was nou ’n Christenjeugkamp waar evangeliese jong Amerikaners oor die deugde van seksuele onthouding onderrig word.

© Associated Newspapers Ltd; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, NETFLIX
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.