En nie eens die bloedige Bolandse hitte buite demp die stralende Clement en Clint Petersen (32) se opgewondenheid oor hulle binnekort saam ewige trou gaan beloof nie.

Dat hul bruide boonop susters is, verdubbel as’t ware die vreugde van vandag se bruilof, ook vir die sowat 100 gaste hier. Kort-kort sien jy hoe een broer sy hande inmekaarwring en die ander een aan sy das torring, maar so af en toe fluister hulle vir mekaar iets wat die ander een breër laat glimlag.

Olivia en Clint het mekaar in 2009 op die boodskap
Olivia en Clint het mekaar in 2009 op die boodskapdiens Mxit ontmoet, en hul romanse blom al 11 jaar lank. Nie lank daarna nie het Rhoshé, saam met wie Olivia alles doen, Clement by die broers se ouerhuis ontmoet. Foto: Misha Jordaan

Dan breek die groot oomblik aan. Die deure van die ou Holy Trinity-kerk in die Paarl se hoofstraat swaai oop en die orrelklanke van die troumars vul die kerk.

’n Stralende Rhoshé Persent (29) en haar pa, Owen (57), kom in die paadjie afgestap.

Net nadat hy sy dogter afgegee en die bruidegom se blad geskud het, draai hy om om haar ousus Olivia (35) by die kerkdeur te gaan haal.

Toe Owen ’n tweede keer op die maat van die troumars – dié keer op die viool gespeel – voor die kansel aankom, is die bruidspare eindelik voltallig en gereed vir die plegtige verrigtings.

Troues is van nature romantiese geleenthede wat dikwels in prag en praal gevier word. Maar vandag, nogal op skrikkeldag, beleef ons ’n bruilof waar dié spesiale bestanddele in ’n dubbele dosis by mekaar ingeklits is.

Olivia en Rhoshé van Wellington en die tweeling Clement en Clint van die Paarl was van die oomblik dat hulle mekaar ontmoet en begin uitgaan het onafskeidbaar.

Die paartjies kuier saam, kampeer saam, is deur dik en dun daar vir mekaar, en nou lê hulle die grootste belofte van hul lewe saam af.

Vader Denver Heugh het hulle in die huwelik bevest
Vader Denver Heugh het hulle in die huwelik bevestig. Foto: Misha Jordaan

Nadat elkeen ’n baie oortuigende “ja” gegee het vir vader Denver Heugh wat die diens lei, en ook as getuies vir mekaar die huweliksregister geteken het, wag die twee broers en twee susters geduldig op die kerkman se teken vir daai langverwagte soen.

“Julle mag jul bruide soen,” sê hy dan. Die paartjies laat nie op hulle wag nie en onder ’n luide gejuig word die seremonie met ’n dubbele kus afgesluit.

Die paartjies is albei al meer as 10 jaar saam, en aangesien hulle die meeste van die tyd die lewe saam geniet en dieselfde ouers en vriende deel, was dit ’n logiese besluit om dié spesiale dag saam deur te bring.

Die paartjies verlaat die Holy Trinity-kerk in die
Die paartjies verlaat die Holy Trinity-kerk in die Paarl. Foto: Misha Jordaan

“Dit móés net so gebeur het,” sê Rhoshé ná die plegtigheid.

“Dit was absoluut magical, en ek kan aan niemand anders dink met wie ek hierdie dag sou wou deel nie.”

Die onthaal is by die trouplek La Ferme Derik buite die dorp, en tussen die fotonemery deur kan jy sien dat die onderskeie paartjies nie genoeg van mekaar kan kry nie.

Die onthaal is by die trouplek La ­Ferme Derik bui
Die onthaal is by die trouplek La ­Ferme Derik buite die dorp, en tussen die fotonemery deur kan jy sien dat die onder­skeie paartjies nie genoeg van mekaar kan kry nie. Foto: Misha Jordaan

Olivia stem saam en sê vir haar was dit die kersie op die koek om die groot stap saam met haar geliefde kleinsus te doen.

“Clement is my beste vriend, maar nou is hy ook my swaer. Rhoshé is my suster, maar ook my skoonsuster. Kan jy aan nog ’n familie dink wat so na aan mekaar is?”

Al is die susters nie ’n tweeling nie, dink mense gereeld hulle is omdat hulle dieselfde kleresmaak het. Soos toe hulle ’n paar weke voor die troue vir die Huisgenoot-onderhoud opdaag en toevallig dieselfde uitrustings aanhet – jeans by wit hemde en vlootblou baadjies.

“Dit was glad nie beplan nie,” verseker Olivia gou.

“Ek en Rhoshé praat gereeld daaroor dat ons so eenders is; dit is geen wonder ons het dieselfde smaak in mans nie.”

Troues beplan kan vir gewone paartjies ’n uitdaging wees, wat nog te sê wanneer dit vier mense is wat jy in ag moet neem. Tog het dit vir die viermanskap natuurlik gekom aangesien hul smaak en behoeftes baie ooreenstem.

“Ons benader besluite op ’n demokratiese manier, en wanneer almal nie saamstem nie, volg ons die beginsel van die meerderheid wen,” verduidelik Rhoshé. Hulle het ook die verantwoordelikhede tussen mekaar verdeel.

Olivia en Clint het die kos- en dekorreëlings vir die troue getref, en Rhoshé en Clement die fotografie en musiek georganiseer.

Voor die troue het hulle spottend gesê die twee susters gaan ’n munt in die lug gooi om te bepaal wie eerste in die kerk instap, maar op die dag het dit net natuurlik gebeur dat Rhoshé eerste in die paadjie afkom.

Olivia en Clint het mekaar in 2009 op die boodskapdiens Mxit ontmoet, en hul romanse blom al 11 jaar lank. Nie lank daarna nie het Rhoshé, saam met wie Olivia alles doen, Clement by die broers se ouerhuis ontmoet.

Olivia en Clint het in 2018 op Bloubergstrand verloof geraak. “Ek het amper drie jaar probeer om te propose,” vertel Clint.

“As ek romanties wou raak, het sy altyd gesê sy is moeg of sy is nie lus om uit te gaan nie.”

Op 15 Augustus daardie jaar het hy besluit vandag is die dag. Hy het die hele pad Blouberg toe gery met die ring onder sy sitplek.

“Toe ons daar kom, het ek vir haar gesê ons moet ’n bietjie langs die see gaan stap. En toe ek die motordeur vir haar oopmaak, toe gaan ek op een knie.”

Die paartjie het ’n 10-jarige dogtertjie, Zita. Rhoshé en Clement het twee maande ná hul broer en suster besluit om dieselfde stap te doen.

Maar hulle het voor dit al baie gepraat oor trou, vertel die twee.

“Ek en Clement is net nie daardie soort paartjie wat by kerslig eet nie,” verduidelik Rhoshé.

“In die amper 11 jaar dat ons saam is, het ons net een keer ’n kersligete gehad, en dit was omdat daar beurtkrag was! Ek dink mense dink soms ons is net ’n paartjie omdat dit gemaklik is. Nee,” sê sy ferm.

“In al die jare saam kan ek op my vingers tel hoeveel keer ons gestry het. En dan was dit oor simpel goed soos dat die Stormers nie ’n goeie rugbyspan is nie.”

Hulle albei lag, maar dan gaan sy ernstig voort.

“As ek moet losbreek en hardloop, sal hy my los. Maar as ek val, is hy daar.”

Die paartjies het elkeen hul eie troukoek gehad en
Die paartjies het elkeen hul eie troukoek gehad en dit liefies vir mekaar gevoer nadat hulle dit saam-saam gesny het. Foto: Misha Jordaan

Olivia is net so passievol oor Clint en sê hy bring die beste in haar uit.

“Ek hou van wie ek is wanneer ek by hom is. Ek is gemaklik en hoef nooit voor te gee nie; hy aanvaar my net soos ek is.” Die tweeling voel net so oor die twee susters.

“Sy verstaan my,” sê Clint oor Olivia.

“Sy het ’n groot hart en daar is iets wat my na haar toe aantrek.” Clement, die stiller een in die groep, raak ongemaklik toe ons hom reguit hieroor vra, maar sy arm krul beskermend om Rhoshé.

“Hoe sê jy altyd?” help Rhoshé. “Jou crazy pas by my crazy,” sê hy dan.

Die idee om saam af te haak het tussen die twee susters ontstaan.

“Ons het met hierdie briljante plan vorendag gekom,” vertel Rhoshé.

“Ons het dieselfde vriende en ouers en daar gaan presies dieselfde gaste by albei troues wees.”

Die susters en broers het ook dieselfde blommemeisies en strooijonkers gehad. Die enigste een wat dalk aanvanklik nie so opgepluk met die idee was nie, is Clement.

“Ons verjaar saam; nou moet ons nog saam trou ook,” laat hy effens droog hoor.

“Ons kan baie oortuigend wees,” tjip Rhoshé dan vinnig in en glimlag vir hom.

Rhoshé en Clement het twee maande ná hul broer en
Rhoshé en Clement het twee maande ná hul broer en suster besluit om dieselfde stap te doen. Foto: Misha Jordaan

Dit het op die ou end nie lank geduur om Clement te oortuig om saam met sy tweelingbroer voor die kansel te staan nie.

Hulle deel immers ’n onbreekbare band en nou ook ’n skoonfamilie.

Waar daar op hul troudag sagte feetjieliggies op die tafels skyn, vriende en familie saam kuier en die mooiste twee koeke staan wat wag om gesny te word, is al die senuwees en hoofbrekens oor reëlings iets van die verlede.

En wat ’n groot sukses is dit nie, want met die prentjiemooi agtergrond van die Bolandse berge, romantiese toesprake en asembenemende uitrustings brand daar ’n dubbele dosis liefde wat nie sommer geblus kan word nie. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe