Sy het glo die selfoon op ’n kussing langs haar gesit terwyl dit besig was om te herlaai.

Maar dinge het liederlik skeefgeloop toe die foon se battery naby haar kop ontplof.

Haar geskokte ouers het haar liggaam die volgende oggend ontdek. Hulle het dadelik die paramedici ontbied, maar hul pogings om haar lewe te red was onsuksesvol.

Luidens berigte vermoed die polisie dat sy reeds kort ná die ontploffing weens ernstige kopbeserings gesterf het. Die ontploffing word in hierdie stadium toegeskryf aan die selfoonbattery wat tydens die herlaaiproses oorverhit het.  

Tot dusver is dit nie bekend watter soort slimfoon dit was nie.

Die tiener se beste vriendin, Ayazhan Dolasheva (15), het in ’n roerende plasing op Instagram haar ongeloof oor die verlies van haar maat as volg beskryf: “Ek kan dit steeds nie glo nie. Jy was my siel, die beste. Ons was van kleintyd af saam.

“Dis vir my baie moeilik sonder jou. Ek mis jou so baie. As iets my oorgekom het, was jy altyd daar, onthou? Wat nou? Hoekom het jy my vir altyd verlaat? Ons het oor soveel saamgedroom . . .

“My hart is stukkend. Jy sien alles, jy’s nou naby my. Onthou, ek het jou baie liefgehad en sal altyd vir jou lief wees.”

Veiligheidswenke vir wanneer jou slimfoon herlaai moet word
  • Moenie jou selfoon herlaai naby 'n bron van water nie (byvoorbeeld die badkamer of kombuis waar die risiko hoog is dat dit in die water kan val nie).
  • Vermy generiese selfoonherlaaiers wat goedkoper is as die oorspronklike herlaaier.
  • Selfs party universele herlaaiers is nie veilig nie omdat selfoonprodukte verskeie herlaaitye het.
  • Vinnige herlaaiers lewer 'n hoër kraglewering na jou selfoon se battery en dit lei daartoe dat die battery vinniger warm word. Hou liefs by die standaard-herlaaityd.
  • Selfs wanneer jy die regte kabel vir jou slimfoon het, is die toestand waarin die herlaaikabel is, ook van groot belang. Draadjies wat uitsteek, verrinneweerde kabels en lasplekke is risikofaktore en 'n vrugbare teelaarde vir oorverhitting van selfone.
  • Maak seker jou selfoon word nie deur iets bedek wanneer jy dit herlaai nie. Sodoende kan die hitte wat tydens herlading gegenereer word, maklik ontsnap en die risiko van brandgevaar verminder.
  • Vermy oorlading van kragpunte deur talle selfone gelyktydig in te prop.
  • Indien moontlik, word aanbeveel dat jy jou foon uit die beskermende omhulsel haal wanneer dit herlaai word.
  • Moenie jou slimfoon oornag aan die herlaaier gekoppel laat bly nie omdat dit ook jou slimfoon se batterylewe nadelig kan beïnvloed.
  • Vermy die gebruik van jou slimfoon terwyl dit aan 'n kragbank gekoppel is. Dit verhoog die interne temperatuur van jou foon en kan ook die batterylewe van jou foon inkort.

Bronne: gadgetsnow.com, saga.co.uk, dailymail.co.uk, mirror.co.uk, perthnow.com.au