Die laaste slagoffer van 'n Spaanse paartjie se beweerde slinkse slenter, was Jose Antonio Delgado Fresnedo (54). Hy is vroeg in September in Pedrola in Spanje beroof, wreed aangerand en lewend begrawe. 

Die slagoffer, Jose Antonio Delgado Fresnedo.
Die slagoffer, Jose Antonio Delgado Fresnedo. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Aanklaers voer aan Jose was die paartjie Hedangelin Candy Arrieta (34) en Mohammed Achraf (35) se derde slagoffer en vra die hof om hulle vir 58 jaar tronk toe te stuur vir hul wrede dade. Hulle is sedert 5 Oktober in aanhouding.

Arrieta word daarvan verdink dat sy die selfoon-app Badoo - gemik op romantiese verbindings - gebruik het om mans te lok om op afsprake te gaan sodat sy en haar kêrel hulle dan kon aanrand en beroof. 

Sy het sexy foto's gebruik waarmee sy haar slagoffers – middeljarige mans wat hulle gedink het welgesteld is – geteiken het. Volgens bewyse wat in die paartjie se blyplek gevind is, meen die polisie die twee het minstens drie mans beroof en hul laaste slagoffer vermoor. 

Die polisie het Jose Antonio se lyk op 27 September gevind. Hy was vermoedelik toe reeds 20 dae dood. Dit is nog onduidelik hoekom die twee hom vermoor het.

Hedangelin Candy Arrieta (34) en Mohammed Achraf (
Hedangelin Candy Arrieta en Mohammed Achraf. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die eerste rooftog was in Julie 2019. Die polisie glo nog ’n verdagte, Jose Antonio Melendez, was betrokke. Die aanklaers dring aan op 16 jaar tronkstraf vir hom.

Die driestuks het toe Melendez se horlosie, selfoon en motor gesteel en hom gedwing om sy PIN aan hulle te gee.

Die modus operandi vir die tweede slagoffer wat hulle na bewering in hul misdaadweb gelei het, was dieselfde, maar nie so suksesvol nie. Nadat hul poging misluk het om hom te ontvoer, is hy met 'n gebreekte kuitbeen agtergelaat.

Luidens berigte is Antonio, die derde slagoffer, wreed aangerand en het hy beserings aan sy bors en skedel opgedoen. Sy beserings dui daarop dat hy vasgebind was.

Nadat grond tydens die nadoodse ondersoek in sy longe gevind is, is dit duidelik dat hy lewend begrawe is.

Benewens die 58 jaar tronkstraf vra die aanklaers ook vergoeding vir die slagoffers en wil hulle hê die beskuldigdes moet sowat R87 000 aan die eerste slagoffer, sowat R314 500 aan die tweede en sowat R2,2 miljoen aan die twee kinders van die vermoorde slagoffer betaal.

Die saak duur voort.