Volgens O’Sullivan wil hulle nie eens bekendmaak hoe en waar hy gevind is en of hy beseer is nie.

Trevor het op 31 Januarie vermis geraak. Hy is na bewering iewers tussen City Deep in Johannesburg, waar hy werk, en sy huis in Alberton ontvoer.

Sy motor en selfoon is naby sy huis gevind, maar vir meer as drie weke was Trevor soek.

’n Losprys van R10 miljoen is glo van sy familie vir sy vrylating geëis. 

Huisgenoot het vroeër berig dat daar einde 2019 by Trevor se onderneming, Adri Diamond Tools in City Deep, ingebreek is en meer as R2 miljoen se toerusting en kontant gesteel is.

’n Paar weke daarna is Trevor glo ontvoer. 

Volgens ’n bron na aan die ondersoek is ’n losprys betaal vir Trevor se vrylating.

Die familie het ook vroeër ’n R200 000 losprys uitgeloof vir Trevor se veilige terugkeer. 

“Al wat ek kan sê, is dat Trevor veilig by die huis is. Ons almal het besluit dat daar vir eers geen verdere inligting bekend gemaak sal word nie. Die familie is natuurlik deur ’n vreeslike ervaring,” sê Paul. 

Hy kon nie sê of hulle in ’n latere stadium meer inligting bekend sal maak nie. 

Die polisiewoordvoerder kapt. Kay Makhubela sê niemand is nog in verband met die ontvoering in hegtenis geneem nie. 

Trevor se familie wou nie kommentaar lewer nie.